‘n Gebed vir selfbeheersing
2017-11-051 Tessalonisense 4:3 NLV
Toe God vir Adam en Eva geskep het, het Hy vir hulle gesê, ‘Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde…’ (Genesis 1:28 NLV). Dit help verduidelik hoekom seks een van ons sterkste drange is. Dit kan jou egter ook voortdryf om besluite te neem wat jou lewe opmors en jou verhoudings vernietig. Die Bybel sê: ‘Dit is God se wil… Weerhou julle van seksuele sondes… Tree op soos mense wat aan God behoort en wat sy eer soek. Moenie uit seksuele drange ‘n lewensmaat soek soos die mense wat God nie ken nie’ (1 Tessalonisense 4:3-5 NLV). Hoekom het God dit gesê? Omdat iemand gaan seerkry wanneer daar fisiese intimiteit sonder ware toewyding is. Jy moet luister na wat God oor hierdie kwessie sê. Jy moet nou luister, voor jy jou in situasies bevind waar jy in die versoeking kom om jou karakter in gevaar te stel, want teen daardie tyd is dit reeds te laat. Ons almal baklei met ons seksualiteit, veral in ‘n kultuur waar ‘seks verkoop.’ Seks is ‘n onlosmaakbare deel van ons en skuldgevoelens daaroor het ‘n manier om ons verwyderd van God te laat voel, soos niks anders kan nie. Om jou waardes te bepaal en kernreëls te vestig, het jy nodig om die volgende te bid: ‘Here, ek gaan nie toelaat dat my impulse my dikteer nie, of dat sonde my van U skei nie. Ek kies om by u standaarde te hou, om op u Gees staat te maak om my daagliks krag te gee. Ek bid ook vir krag dat indien ek wel sondig, ek die moed sal hê om vir vergifnis te vra, weer op te staan en nader aan U te beweeg.’ Dit is ‘n gebed wat God sal antwoord!
Sielskos: 2 Kon 6:1-7; Matt 14:22-33