2017-11-02
Rigters 3:31 NLV
Samgar word net twee keer in die Skrif genoem, en sy verhaal beslaan maar drie reëls en twee verse. Sy impak was egter wonderbaarlik. Dis ook ‘n uitdaging aan elkeen van ons wat dink, ‘God sal nooit iemand soos ek gebruik nie.’ Samgar mag dalk die minste gekwalifiseerd gewees het om Israel uit die hande van die Filistyne te red. Eerstens, was hy heel moontlik nie eers ‘n Israeliet nie. Sy oorspronklike naam was Horities. Hy kon homself op ‘n dosyn verskillende maniere verskoon het. ‘Ek het nie die regte wapen nie. Ek kan dit nie alleen doen nie. Hierdie is nie eens my mense nie.’ As jy ‘n verskoning soek, sal jy altyd een kry. Wanneer dit by verskonings kom, is ons oneindig kreatief. Wat as ons egter daardie kreatiwiteit gebruik om oplossings in plaas van verskonings te kry? God kan ons dan, net soos vir Samgar, as ‘n instrument gebruik om sy doelwitte te vervul. Wanneer God jou gees aanraak of jou hart beweeg, kan jy nie terugsit nie, jy moet aksie neem. Wanneer jy dit doen, kan dit ‘n bepalende oomblik in jou lewe wees. Moenie jou oor die resultate bekommer nie. As dit die regte ding is, is die resultate God se verantwoordelikheid. Fokus daarop om die regte dinge vir die regte redes te doen en moenie die leuen glo dat dit nie gedoen kan word nie! Ja, jy sal al jou kragte daarvoor moet gebruik, maar jy kan alle dinge doen deur Christus wat jou krag gee (sien Filippense 4:13). ‘n Poging wat misluk is nie ‘n mislukking nie. Mislukking is as jy nie eens probeer nie. As jy probeer, is jy suksesvol in God se oë. Gryp dus jou drywerstok en begin!
Sielskos: Jes 38-41; Joh 6:60-71; Ps 96; Spr 28:17-20
2017-11-01
Hebreërs 9:26 NLV
Daar was baie verskillende meubelstukke in die tabernakel wat elkeen ‘n spesifieke doel gedien het. Daar was egter nie ‘n enkele sitplek nie, omdat die priester se werk nooit klaar was nie! Die mense het konstant gesondig, dus moes lammers aanhoudend geoffer word om vir hulle sondes boete te doen. Toe Jesus egter gesterf het, weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel, is sy eerste aksie, om sitplek in te neem (sien Hebreërs 10:12), omdat die verlossingswerk klaar gedoen was! Die Bybel sê: ‘Hy het ook nie in die hemel ingegaan om Homself oor en oor te offer soos die aardse hoëpriester jaar na jaar in die Allerheiligste moes ingaan om die bloed van diere te offer nie… O nee, Hy het nou, met die voleinding van die tye, eens en vir altyd verskyn om deur sy offer die sonde vir altyd weg te neem’ (Hebreërs 9:25-26 NLV). As gevolg van Christus se ‘eens en vir altyd’ opoffering aan die kruis, het jy enige tyd direkte toegang tot God. Daar is ‘n storie uit die Burgeroorlog in Amerika oor ‘n soldaat wat depressief op ‘n bankie buite die Withuis gesit het. ‘n Klein seuntjie wat daar verbygeloop het, het gestop en hom gevra wat verkeerd is. Die soldaat het geantwoord dat hy president Lincoln moes sien, maar dat die wagte hom nie wou toelaat nie. Die seuntjie het toe die soldaat aan die hand geneem en hom direk na die president se kantoor gelei. ‘Vader,’ het hy gesê, ‘hierdie man moet met jou praat.’ Die seuntjie was die president se seun; hy het direkte en konstante toegang tot sy pa gehad. Omdat jy aan Jesus behoort, het jy ook!
Sielskos: Heb 11:4-12:3; 1 Kro 17:1-20; Ps 18:20-29; Spr 4:18
2017-10-31
Psalm 89:16 NLV
Ja, sekere dele van ons kultuur het vyandig teenoor die Christelike geloof geword. Die populariteit van films wat op geloof gebaseer is, het Hollywood die laaste paar jare egter onkant gevang. Terselfdertyd ontvang gewilde Bybelse onderwysers net soveel aandag op sosiale media soos sekulêre bekendes soos Katy Perry en Lady Gaga. Die hoeveelheid Christelike inhoud op Youtube is verbysterend. Kom ons bly ingelig en betrokke by die kultuur rondom ons, sodat ons hulle vrae kan beantwoord. Kom ons hou ook ingedagte dat Jesus gesê het, ‘…Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die hel sal dit nie oorwin nie’ (Matteus 16:18 NLV). God sit steeds op die troon. Die laaste boek in die Bybel herinner ons dat wanneer dit tyd vir Jesus is om terug te keer, Hy as oorwinnaar sal terugkeer. Al sy vyande sal voor Hom kniel en sy heerskappy erken. ‘Daarom het God Hom ook tot die hoogste posisie verhoog en aan Hom die Naam gegee wat belangriker is as elke ander naam. So sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie… buig, en elke tong sal erken: ‘Jesus Christus is Here!’…’ (Filippense 2:9-11 NLV). God het jou geroep om in bonatuurlike vrede, liefde en vreugde te leef. As sy verloste kind, is jy die burger van ‘n ander koninkryk: God se koninkryk op aarde. Wil jy weet hoe dit alles gaan eindig? ‘…Die koninklike heerskappy oor die wêreld behoort nou aan ons Here en sy Christus, en Hy sal as koning heers vir altyd’ (Openbaring 11:15 NLV). Wil jy weet wat jou lotsbestemming is? Dink net aan die opwinding van ondersteuners wie se span nou net die sokker wêreldbeker of die Currie Beker gewen het – dis ons!
Sielskos: Deut 18:9-18; Dan 2; Jes 47:5-15; Hand 16:16-34
2017-10-30
Nehemia 8:10 NLV
Toe Nehemia geskryf het, ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees’, was God se mense besig om Jerusalem te herbou nadat hulle sewentig jaar in Babel gevange gehou is. Hulle was omring, in die minderheid, en is elke dag deur vyandige nasies bedreig. Soortgelyk, is daar ook vandag slegte nuus. Daar is egter ook goeie nuus. 1) Kerke word teen ‘n yslike spoed geplant. Die kerkkundige, Ed Stetzer, sê dat nuwe kerke in die Verenigde Koninkryk vinniger geplant word as wat ou kerke uitsterf – en navorsing wys dat 60 tot 80 persent van mense wat by nuwe kerke aansluit uit ‘n onkerklike agtergrond kom. Dit is in ander lande ook waar. Dit beteken dat meer mense vandag deur die evangelie bereik word, as die dae toe dooie godsdienstige kerke oor die evangelie gepraat het, maar dit nie uitgeoefen het nie. 2) Latyns-Amerika ervaar ‘n politieke en geestelike bewuswording. Politieke verandering in Venezuela is nog ‘n aanduiding dat linksgesinde regerings besig is om mag te verloor. Soortgelyke bewegings teen korrupsie vind in Argentinië, Brasil en ander Latyns-Amerikaanse lande plaas – in ‘n tyd waar evangeliese kerke teen ‘n ongekende tempo groei. 3) Die Bybel is steeds die populêrste boek ooit. Dit is ook die beste verkoper en die boek wat die wydste versprei word. Nagenoeg vier biljoen kopieë is in die laaste vyf dekades wêreldwyd gedruk en verkoop – veel meer as enige ander boek. Moenie toelaat dat slegte nuus jou blydskap steel nie. As jy negatief en vol vrees geword het as gevolg van wat in die wêreld aangaan, herstel jou geestelike lewe deur weer jou blydskap te vind. God is aan die beweeg en almal wat in Hom vertroue het, het rede om fees te vier.
Sielskos: Jes 34-37; Joh 6:52-59; Ps 9; Spr 28:13-16
2017-10-29
Johannes 15:11 NLV
Jesus het gesê, ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees.’ As jy dink dat dinge in vandag se tye sleg gaan, oorweeg bietjie die wêreld waarin Jesus en sy dissipels moes lewe en preek. Die Romeinse Ryk het oor elke nasie regeer, insluitende Israel. Belasting het deur die dak geskiet. Vryheid van spraak en geloof was so beperk dat jy tronk toe kon gaan of doodgemaak word omdat jy ‘n Christen is. Immoraliteit en perversie is nie net verdra nie, maar aangemoedig. Uiteindelik sou Christus se dissipels as gevolg van hulle geloof ter dood veroordeel word. Tog het Hy aan hulle belowe dat hulle sy blydskap sou ervaar en dat hulle blydskap volkome sou wees. Moet dus nie dat die dinge wat in die wêreld aangaan, jou houding as verloste kind van God dikteer nie. Ja, daar is slegte nuus, maar daar is ook goeie nuus. Kom ons kyk die volgende paar dae daarna: 1) Moslems bekeer hulle tot Christus teen ‘n vinniger koers as ooit tevore. In sy boek, A Wind in the House of Islam, skryf David Garrison dat iets ongekends in die Moslemwêreld aan die roer is. ‘Ons lewe in ‘n tyd met die meeste bekerings van Moslems na die Christendom in die wêreld se geskiedenis.’ Hy lewer bewyse van kragtige Christelike bewegings wat onder Moslems sedert die jaar 2000 begin het. 2) Die evangelie is besig om China te transformeer. ‘n Paar jaar gelede, het The Telegraph berig dat Christenskap so vinning in China groei, dat dit heel waarskynlik as ‘n Christelike nasie teen 2030 gesien sal word. Gegewe China se ekonomiese mag, het dit groot implikasies. Wees dus bly, en moenie toelaat dat slegte nuus jou blydskap steel nie.
Sielskos: 2 Kon 6:8-23; Matt 5:43-48; Luk 6:27-36
2017-10-28
Jesaja 52:11 NLV
Eendag het ‘n man gegaan om sy windskerm by ‘n vulstasie te laat was. Toe die petroljoggie klaar is, het die man gesê, ‘Jy het slegte werk gedoen. Doen dit oor – dis so vuil soos dit was toe jy begin het.’ Die joggie het dit weer afgevee. Die man het daarna gekyk en in frustrasie gesê, ‘Die venster het glad nie verander nie.’ Die man se vrou klim toe uit die kar, haal sy bril af, maak dit skoon en gee dit vir hom terug. Die petroljoggie het sy werk reg gedoen. Die man was al die tyd self die probleem. Geestelik gesproke, bepaal die bril waar deur jy kyk wat jy sien en hoe jy dit sien. Wanneer jy deur die lens van jaloesie en afguns kyk, raak jy gegrief oor ander mense se seëninge. As jy deur die lens van veroordeling kyk, praat en tree jy sonder genade en medelye op. Wanneer jy deur die lens van vrees en ongeloof kyk, beperk jy God en verbeur jy dit wat Hy vir jou kan doen. Wanneer jy deur die lens van selfsug kyk, plaas jy jouself eerste en ly jou geliefdes daaronder. Wanneer jy deur die lens van negatiwiteit en sinisme kyk, begin mense jou vermy omdat dit nie lekker is om by jou te wees nie. ‘…sorg dat julle rein is, julle wat die tempelgereedskap van die Here dra.’ Net soos jy jou bril moet skoonmaak van die onsuiwerhede rondom jou, so moet jy dieselfde met jou hart en gedagtes doen. Hoe gebeur dit? Jesus het gesê, ‘Julle is klaar skoon. Wat Ek vir julle gesê het, het julle skoongemaak’ (Johannes 15:3 ABA). Deur gebed en daaglikse Bybelstudie, behou jy die regte perspektief op die lewe.
Sielskos: Jes 30-33; Joh 6:35-51; Ps 104:24-35; Spr 28:9-12