2017-10-27
Handelinge 9:15 NLV
Saulus van Tarsus was die laaste persoon wat jy sou verwag het om ‘n Christen te word, nog minder die skrywer van helfte van die Nuwe Testament. Hy beskryf sy lewe voor hy Christus ontmoet het as volg: ‘Julle het mos gehoor hoe ek my vroeër… gedra het, dat ek God se kerk fanaties vervolg en verwoesting gesaai het’ (Galasiërs 1:13 NLV). Toe God dus vir Ananias roep om vir Saulus te gaan bid, was hy nie baie lus nie: ‘…Here, ek het al by baie mense van hierdie man gehoor – watter kwaad hy die gelowiges in Jerusalem aangedoen het! En ons hoor hy het ‘n mandaat van die leierpriesters om al die gelowiges hier in Damaskus te arresteer.’ Die Here het egter vir hom gesê: ‘Gaan doen wat Ek sê, want Ek het Saulus as my instrument uitgesoek om my boodskap uit te dra na volke en konings, en ook aan die volk Israel’ (Handelinge 9:13-15 NLV). Ananias het geweet wat Saulus aan die kerk gedoen het. Wat hy egter op die punt was om te ontdek, is dat God in Saulus se hart aan die werk was. In net ‘n paar kort jare sou God Paulus gebruik om die wêreld aan te raak, maar eers het Hy Ananias gebruik om Paulus aan te raak. Het God jou ‘n soortgelyke opdrag gegee? Het Hy aan jou ‘n Saulus gegee? Indien dit die geval is, moenie opgee op hom of haar nie. Wanneer ander mense hulle afskryf, gee hulle nog ‘n kans. Ananias het nie geweet van Paulus se ontmoeting met Christus op die Damaskuspad nie. Onthou altyd: God stuur jou nooit êrens heen waar Hy nie reeds was nie. Teen die tyd wat jy dus jou Saulus bereik, wie weet wat jy daar sal kry?
Sielskos: Jes 26-29; Joh 6:25-34; Ps 104:1-23; Spr 28:5-8
2017-10-26
Psalm 103:3 DB
Die Psalmdigter het geskryf, ‘Dit is Hy wat my vergewe as ek verkeerde dinge doen. Hy maak my gesond.’ Kyk mooi, die wete dat Hy al jou sondes vergewe, vind voorkeur bo die genesing van jou siektes. Hy vergewe al jou sondes. Sommige van ons is gemaklik daarmee om net gedeeltelike vergifnis te ontvang, omdat ons weier dat God se vergifnis sommige donker areas aanraak wat ons nie kan laat gaan nie, en waarvoor ons weier om onsself voor te vergewe. Wat daardie foute ook al mag wees, laat God toe om al jou sondes te vergewe en ontvang genesing vir al jou siektes. Laat die verlede gaan. Laat jouself toe om vry te wees en leer om jouself te vergewe deur met ‘n oop hart God se totale en volkome vergifnis te aanvaar. Hou op om jouself seer te maak, omdat Jesus vir al jou sondes seergemaak is. Hou op om jouself te straf, omdat Jesus al jou straf namens jou aan die kruis ontvang het. Dit is tyd om op te hou om jouself af te vra of jy genoeg gedoen het om God se vergifnis en aanvaarding te verdien. Jy kan dit nie verdien deur te sukkel en jou eie krag te gebruik nie; jy kan dit net deur genade ontvang. As jy vir iemand wat jy liefhet ‘n verjaarsdaggeskenk gee en hulle dring daarop aan om daarvoor te betaal, hoe sou jy voel? Seergemaak? Ontsteld? Dis hoe God voel wanneer jy sy vergifnis, genesing en regverdigheid probeer ‘verdien’. Hoe meer jy die waterval van God se genade en vergifnis elke dag oor jou laat vloei, hoe meer sal jy sy gesondheid vir jou liggaam en sy rus vir jou siel ontvang.
Sielskos: Jes 22-25; Joh 6:16-24; Ps 114; Spr 28:1-4
2017-10-25
1 Korintiërs 9:22 NLV
Vir enige verhouding om te werk, moet ons mekaar se verskille aanvaar. In ons familie moet ons mekaar se unieke perspektiewe respekteer. Ons hoef nie oor elke kwessie saam te stem nie, maar ons moet altyd die ander persoon se uitgangspunt probeer verstaan. Paulus het dit gedoen. ‘…Ek het my met almal vereenselwig…’ Sommige van ons wat sê dat ons Christus volg, vind dit moeilik om sienings en waardes wat van ons s’n verskil, te aanvaar. Ons dink dat ‘kompromie’ ‘n vuil woord is. Sommige van ons het van die immoreelste lewens na geloof in Christus gedraai, en tog sal ons nie na ons redding met enigiemand assosieer wat nie met ons nuutgevonde waardes saamstem nie. Soms val ons families uitmekaar omdat ons ons opinies op die mense vir wie ons lief is, probeer afdwing. Wat ‘n vreeslike misbruik van Christenskap! Jesus het nie die mense wat hom gekruisig het veroordeel nie; Hy het gebid, ‘…Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!..’ (Lukas 23:34 NLV). Hy het hulle nie as moreel sleg gesien nie, maar as geestelik blind. Hy het vir sy dissipels gesê, ‘Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe laat kom nie…’ (Johannes 6:44 NLV). Dis ons werk om mense lief te hê en dis God se werk om hulle te verander. Hou dus op om te probeer doen wat net God kan doen! As jy geduldig in jou verhoudings belê, ander mense se perspektiewe respekteer en goeie sade saai, sal jy in die langtermyn ‘n goeie oes kry. Jou liefde, nie die krag van jou argument nie, kan hoop gee aan die stukkendste mense tussen ons en dat daar genesing is vir die gebreekte plekke van die menslike siel.
Sielskos: Jes 17-21; Joh 6:1-15; Ps 127; Spr 27:25-27
2017-10-24
Romeine 12:8 NLV
Hoe sal jy weet of jy die gawe van leierskap gekry het? Omdat jy sal weet waar God wil hê jy moet gaan en omdat jy in staat sal wees om aan ander te wys wat die waarde daarvan is om saam met jou te gaan. Daar is baie talentvolle mense wat nooit effektiewe leiers word nie, omdat hulle meer in hulleself as in die mense wat hulle lei, geïnteresseerd is. Wat egter interessant is, is dat sodra hulle bietjie teëspoed kry, hulle leer om sensitief vir ander mense se behoeftes te wees. Goeie leiers wag egter nie daarvoor nie. Hulle besef dat goeie idees volop is, maar dat mense wat dit kan implementeer, van onskatbare waarde is. Die legendariese voetbalafrigter Bear Bryant het gesê, ‘Ek is net ‘n boer van Arkansas, maar ek het geleer hoe om ‘n span bymekaar te hou. Hoe om sommige mans op te lig, hoe om ander te kalmeer, totdat hulle uiteindelik een hartklop het. Daar is net drie dinge wat ek ooit sal sê: As iets verkeerd gaan, het ek dit gedoen. As dinge goed gaan, het ons dit gedoen. Maar wanneer dinge uitstekend gaan, dan het jy dit gedoen.’ Wanneer jy die gawe van leierskap het, sal jy ook toeganklik wees. Jy sal nie woedend raak nie, jy sal nie dat klein probleme jou uitkyk vergiftig nie en jy sal elke stukkie kritiek tussen twee dele lof aanbied. Robert Louis Stevenson het gesê: ‘Hou jou vrese vir jouself, maar deel jou moed met ander.’ Paulus was so ‘n leier. ‘Elke keer as ek aan julle dink, dank ek God… omdat julle… tot vandag toe saamgewerk het om [die Goeie Nuus] verder uit te dra’ (Filippense 1:3,5 NLV). Dit is die tipe leier waarna jy moet strewe om te wees.
Sielskos: Jes 12-16; Joh 5:31-47; Ps 98; Spr 27:23-24
2017-10-23
2 Timoteus 4:2 NLV
Wanneer jy net aanvaarding en goedkeuring wil hê, word jy op die ou einde deur diegene wat jy veronderstel is om te lei, beheer.Dit is hoekom Paulus vir Titus opdrag gegee het: ‘…Jy moet vir hulle sê wat hulle moet doen en jy moet ook vir hulle sê dat hulle dinge doen wat verkeerd is… Niemand moet dink dat jy onbelangrik is nie’ (Titus 2:15 ABA). Onsekere leiers worstel met besluite en aanvaar verantwoordelikheid vir ander mense se emosionele reaksies, omdat hulle nie die appelkar wil omgooi nie. Hulle besef nie dat wanneer jy doen wat jy behoort te doen en ander mense nie daarmee saamstem nie, dit hulle probleem is, tensy jy dit joune maak. ‘n Volwasse leier hanteer teleurstelling en behou ‘n goeie uitkyk. Dink daaroor: Wanneer jy jou kinders waarsku om nie aan die warm stoof te vat nie, hoef jy nie seker te maak dat hulle dit geniet om jou instruksies aan te hoor nie. Hopelik verstaan hulle dit soos wat hulle volwasse word. Die waarheid is egter dat sommige mense nie daarvan hou om die woord ‘nee’ te hoor nie, maak nie saak hoe oud hulle word nie! Ons almal het egter nodig om dit van tyd tot tyd te hoor; anders sal ons nooit gelukkig wees wanneer ons nie ons sin kry nie. Paulus, wat Timoteus vir leierskap opgelei het, het vir hom gesê, ‘…Jy moet jou mense met geduld reghelp, weerlê en bemoedig…’ Korrigeer mense wanneer hulle verkeerd is, vat hulle vas as hulle hardkoppig is, bemoedig hulle wanneer hulle sukkel, wees geduldig soos hulle leer en groei en maak seker dat jou instruksies duidelik en verstaanbaar is. Dit is wat goeie leiers doen – en die enigste manier om te leer, is om dit te doen.
Sielskos: Jes 8-11; Joh 5:16-30; Ps 85; Spr 27:20-22
2017-10-22
2 Korintiërs 7:4 NLV
Wanneer mense ‘gebruik’ voel, sal hulle hul werk halfhartig doen, maar wanneer hulle gewaardeer voel, sal hulle jou orals volg. Paulus, een van die beste leiers van alle tye, het vir die Korintiese gelowiges gesê, ‘Ek is baie openhartig met julle; ek is ook baie trots op julle. En ek is regtig vol moed en oorstelp van blydskap…’ Hy was hulle grootste rasieleier. Hy het hulle nie net gekorrigeer nie, hy het hulle ook gerusgestel. Hy het hulle nie net vermaan nie, maar hulle ook versterk – al die eienskappe van uitstekende leierskap. Goeie leiers: 1) Is konsekwent. Hulle is ‘n voorbeeld vir ander sodat almal weet dat dit wat op die onderkant van die leer gehoor word, aan die bokant uitgeoefen word. 2) Wys hulle waardering, omdat hulle besef dat mense nodig het om te hoor dat hulle ‘n belangrike deel van die span en die visie is. 3) Luister altyd na voorstelle, opinies, besorgdhede en idees. Hulle oordeel nie vooraf nie en hulle is nie ongeduldig nie. Die skrywer Betty Bender het gesê: ‘Dis ‘n fout om jouself met mense te omring wat net soos jy is. Gooi die bekende af en omring jouself met verskillende en verbeeldingryke mense. Kyk dan hoe baie idees kom na vore!’ 4) Moenie mense as statistieke sien nie. Mense is nie net wins en verlies nie. 5) Verduidelik hoekom dinge op ‘n spesifieke manier gedoen word. Dit verminder foute en mense sal dan nie voel dat hulle net bevele uitvoer nie. Clarence Francis het gesê, ‘Jy kan ‘n man se tyd en fisiese teenwoordighed op ‘n sekere plek koop. Jy kan egter nie entoesiasme, inisiatief, lojaliteit en toewyding koop nie. Jy moet dit verdien.’
Sielskos: Jes 61:1-9; Luk 4:16-30