Leer om te lei (4)
2017-10-24Romeine 12:8 NLV
Hoe sal jy weet of jy die gawe van leierskap gekry het? Omdat jy sal weet waar God wil hê jy moet gaan en omdat jy in staat sal wees om aan ander te wys wat die waarde daarvan is om saam met jou te gaan. Daar is baie talentvolle mense wat nooit effektiewe leiers word nie, omdat hulle meer in hulleself as in die mense wat hulle lei, geïnteresseerd is. Wat egter interessant is, is dat sodra hulle bietjie teëspoed kry, hulle leer om sensitief vir ander mense se behoeftes te wees. Goeie leiers wag egter nie daarvoor nie. Hulle besef dat goeie idees volop is, maar dat mense wat dit kan implementeer, van onskatbare waarde is. Die legendariese voetbalafrigter Bear Bryant het gesê, ‘Ek is net ‘n boer van Arkansas, maar ek het geleer hoe om ‘n span bymekaar te hou. Hoe om sommige mans op te lig, hoe om ander te kalmeer, totdat hulle uiteindelik een hartklop het. Daar is net drie dinge wat ek ooit sal sê: As iets verkeerd gaan, het ek dit gedoen. As dinge goed gaan, het ons dit gedoen. Maar wanneer dinge uitstekend gaan, dan het jy dit gedoen.’ Wanneer jy die gawe van leierskap het, sal jy ook toeganklik wees. Jy sal nie woedend raak nie, jy sal nie dat klein probleme jou uitkyk vergiftig nie en jy sal elke stukkie kritiek tussen twee dele lof aanbied. Robert Louis Stevenson het gesê: ‘Hou jou vrese vir jouself, maar deel jou moed met ander.’ Paulus was so ‘n leier. ‘Elke keer as ek aan julle dink, dank ek God… omdat julle… tot vandag toe saamgewerk het om [die Goeie Nuus] verder uit te dra’ (Filippense 1:3,5 NLV). Dit is die tipe leier waarna jy moet strewe om te wees.
Sielskos: Jes 12-16; Joh 5:31-47; Ps 98; Spr 27:23-24