Leer om te lei (3)

2017-10-23
2 Timoteus 4:2 NLV

Wanneer jy net aanvaarding en goedkeuring wil hê, word jy op die ou einde deur diegene wat jy veronderstel is om te lei, beheer.Dit is hoekom Paulus vir Titus opdrag gegee het: ‘…Jy moet vir hulle sê wat hulle moet doen en jy moet ook vir hulle sê dat hulle dinge doen wat verkeerd is… Niemand moet dink dat jy onbelangrik is nie’ (Titus 2:15 ABA). Onsekere leiers worstel met besluite en aanvaar verantwoordelikheid vir ander mense se emosionele reaksies, omdat hulle nie die appelkar wil omgooi nie. Hulle besef nie dat wanneer jy doen wat jy behoort te doen en ander mense nie daarmee saamstem nie, dit hulle probleem is, tensy jy dit joune maak. ‘n Volwasse leier hanteer teleurstelling en behou ‘n goeie uitkyk. Dink daaroor: Wanneer jy jou kinders waarsku om nie aan die warm stoof te vat nie, hoef jy nie seker te maak dat hulle dit geniet om jou instruksies aan te hoor nie. Hopelik verstaan hulle dit soos wat hulle volwasse word. Die waarheid is egter dat sommige mense nie daarvan hou om die woord ‘nee’ te hoor nie, maak nie saak hoe oud hulle word nie! Ons almal het egter nodig om dit van tyd tot tyd te hoor; anders sal ons nooit gelukkig wees wanneer ons nie ons sin kry nie. Paulus, wat Timoteus vir leierskap opgelei het, het vir hom gesê, ‘…Jy moet jou mense met geduld reghelp, weerlê en bemoedig…’ Korrigeer mense wanneer hulle verkeerd is, vat hulle vas as hulle hardkoppig is, bemoedig hulle wanneer hulle sukkel, wees geduldig soos hulle leer en groei en maak seker dat jou instruksies duidelik en verstaanbaar is. Dit is wat goeie leiers doen – en die enigste manier om te leer, is om dit te doen.

Sielskos: Jes 8-11; Joh 5:16-30; Ps 85; Spr 27:20-22