Respekteer, moenie verwerp nie

2017-10-25
1 Korintiërs 9:22 NLV

Vir enige verhouding om te werk, moet ons mekaar se verskille aanvaar. In ons familie moet ons mekaar se unieke perspektiewe respekteer. Ons hoef nie oor elke kwessie saam te stem nie, maar ons moet altyd die ander persoon se uitgangspunt probeer verstaan. Paulus het dit gedoen. ‘…Ek het my met almal vereenselwig…’ Sommige van ons wat sê dat ons Christus volg, vind dit moeilik om sienings en waardes wat van ons s’n verskil, te aanvaar. Ons dink dat ‘kompromie’ ‘n vuil woord is. Sommige van ons het van die immoreelste lewens na geloof in Christus gedraai, en tog sal ons nie na ons redding met enigiemand assosieer wat nie met ons nuutgevonde waardes saamstem nie. Soms val ons families uitmekaar omdat ons ons opinies op die mense vir wie ons lief is, probeer afdwing. Wat ‘n vreeslike misbruik van Christenskap! Jesus het nie die mense wat hom gekruisig het veroordeel nie; Hy het gebid, ‘…Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!..’ (Lukas 23:34 NLV). Hy het hulle nie as moreel sleg gesien nie, maar as geestelik blind. Hy het vir sy dissipels gesê, ‘Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe laat kom nie…’ (Johannes 6:44 NLV). Dis ons werk om mense lief te hê en dis God se werk om hulle te verander. Hou dus op om te probeer doen wat net God kan doen! As jy geduldig in jou verhoudings belê, ander mense se perspektiewe respekteer en goeie sade saai, sal jy in die langtermyn ‘n goeie oes kry. Jou liefde, nie die krag van jou argument nie, kan hoop gee aan die stukkendste mense tussen ons en dat daar genesing is vir die gebreekte plekke van die menslike siel.

Sielskos: Jes 17-21; Joh 6:1-15; Ps 127; Spr 27:25-27