Leer om te lei (1)

2017-10-21
Eksodus 18:18 NLV

President Theodore Roosevelt het eenkeer gesê, ‘Die beste bestuurder is die een wat genoeg begrip het om bekwame mense te kies om te doen wat hy gedoen wil hê, en die selfbeheersing het om homself te weerhou om in te meng terwyl hulle dit doen.’ Tensy jy leer om te delegeer, sal jou leierskap agteruitgaan en jou visie sal stagneer. In Eksodus was Moses besig om homself fisies, emosioneel en geestelik uit te put terwyl hy aan die eise en probleme van twee miljoen Israeliete probeer aandag gee het. Dit is toe wat sy skoonpa vir hom sê, ‘…Jy kan dit nie alles op jou eie doen nie. Luister nou na my raad…’ (verse 18-19 NLV). Dit neem wysheid, volwassenheid en nederigheid om hulp te vra. Dis ‘n teken van krag, nie van swakheid nie. Die waarheid is, Moses was nie goed vir homself of die mense wat op hom staatgemaak het nie. As ‘n leier, is dit maklik om jou eie belangrikheid en bekwaamheid te oorskat. Dit is hoekom Paulus waarsku, ‘…Jy moenie dink jy is belangriker as wat jy regtig is nie. Jy moet verstandig dink oor jouself en oor alles…’ (Romeine 12:3 ABA). God het mense met sekere gawes en talente rondom jou geplaas. Wanneer jy hierdie mense herken en betrek, word hulle vervul en word die werk reg gedoen. God het ons geskep om interafhanklik te wees, nie onafhanklik nie. Deur outoriteit aan die regte mense te delegeer, is Moses in sy leierskapstaak versterk, soos God dit wou hê. Wanneer jy probeer om alles vir alle mense te wees, voel jy op die ou einde gefrustreerd. Jy is nie geroep om dit alles te doen nie, maar om dit deur ander mense gedoen te kry. Dit is waaroor leierskap gaan.

Sielskos: Jes 4-7; Joh 5:1-15; Ps 126; Spr 27:17-19

Bely jou sonde

2017-10-20
Psalm 32:5 NLV

Wanneer jy opsetlik sondig, rebelleer jy teen God se leiding in jou lewe – en voel jy sleg daaroor. Om daaroor sleg te voel, is ‘n bewys dat jy ‘n verloste kind van God is, anders sou jou sonde jou nie gepla het nie. Dink aan ‘n tiener wat vir sy pa sê, ‘Ek is regtig jammer, maar ek het Pa se kredietkaart gebruik om bier vir my en my vriende te koop.’ Die kans is daar dat sy pa dit dalk nooit sou agterkom nie, veral as hy nie sy bankstate dophou nie. Sy seun se skuldige gewete het dit egter na die oppervlak gebring en hy het gesê, ‘Pa, ek moes nie die bier gekoop het nie. Ek moes nie jou kredietkaart daarvoor gebruik het nie. Jy het my vertrou en ek het jou teleurgestel. Ek is jammer en ek sal dit nie weer doen nie.’ Dít is belydenis. Dis wat ons in ons gebede moet doen. Die Griekse woord wat as belydenis vertaal word, beteken ‘om met God saam te stem.’ Wanneer ons ons sondes bely, stem ons wat ons sonde wat deur sy Woord en die Heilige Gees geopenbaar word betref, saam met God. Wanneer ons bely, verbaliseer ons ons sonde en ontvang ons reiniging en vergifnis. Ja, belydenis is dikwels pynlik, maar dit hou ons gemeenskap met ons Hemelse Vader skoon, oop en naby. Dis nie dat God ophou om vir ons lief te wees nie, maar dat ons voel dat ons Hom nie meer met vertroue kan nader nie. Het jy ‘n sonde om te bely? ‘As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV).

Sielskos: Jes 1-3; Joh 4:39-54; Ps 5; Spr 27:13-16

Het jou liefde afgekoel?

2017-10-19
Openbaring 2:4 ABA

Liefde is soos ‘n vuur; wanneer dit nie brandstof kry nie, brand dit uit. Dit is wat met die Christene in Efese gebeur het. Paulus het aan hulle geskryf: ‘Mag God se onverdiende goedheid met almal wees wat ons Here Jesus Christus met ‘n blywende liefde liefhet’ (Efesiërs 6:24 NLV). Hulle liefde vir die Here was so sterk en sigbaar, dat Paulus hulle daarvoor geprys het. Teen die tyd wat Christus egter met hulle in die boek van Openbaring praat, het hulle liefde vir Hom getaan: ‘Ek ken jou handel en wandel. Ek het ook jou harde werk en volharding raakgesien, en dat jy slegte mense net nie kan verdra nie. Jy het ook navraag gedoen oor dié wat sê dat hulle apostels is, maar dit nie is nie… Verder volhard jy ook en het jy ter wille van My baie verdra sonder om moeg te word. Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy jou eerste liefde versaak het. Dink terug aan hoe ver jy uitgesak het en kom tot inkeer, en doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het…’ (verse 2-5 NLV). Die evangeliese leier, John Stott, het geskryf: ‘Hulle het van die hoogtes van toewyding aan Christus geval. Hulle het na die vlaktes van middelmatigheid neergedaal. Die harte van die Efesiese Christene het afgekoel. Hulle eerste gevoel van ekstase het verbygegaan. Hulle was verlief op Hom, maar daardie verliefdheid het verdwyn.’ Jy kan kerk toe gaan, jou Bybel lees en elke dag bid, en tog nie so lief wees vir God soos wat jy moet wees nie. Om God lief te hê is ‘n verpligting en ‘n hartshouding wat in gehoorsaamheid manifesteer. Dis ‘n daaglikse besluit om Hom in alles wat jy doen en sê te eer. Het jou liefde afgekoel?

Sielskos: Eks 39-40; Joh 4:27-38; Ps 15; Spr 27:10-12

As dit God se wil is – kan jy dit kry

2017-10-18
1 Johannes 5:14 NLV

Daar is ‘n verhaal van drie mans wat op ‘n eiland gestrand was; met min hoop om gered te word. Eendag het hulle op die eiland rondgeloop toe een van hulle ‘n ou, geroeste lamp optel. Toe hy dit vryf, het daar ‘n djin te voorskyn gekom wat aan elkeen van die mans een wens gegee het. Die eerste man het gesê, ‘Ek wens ek was terug in my kantoor in Boston.’ Poef! Hy was daar. Die tweede een het gesê, ‘Ek wens ek was tuis by my familie in Londen.’ Poef! Hy was daar. Die derde man het rondgekyk en gesê, ‘Dis so eensaam hier, ek wens my vriende was terug hier saam met my.’ Die probleem met wensdenkery is dat djinns en towerlampe nie bestaan nie. God bestaan egter! Omdat Hy in beheer van jou lewe is, is Hy magtiger as enige djin. Wanneer jou gebede in lyn met sy wil is, kan hulle ‘n realiteit word. ‘Leer die Bybel ons dit?’ vra jy. Ja; dit sê: ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, dan weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (verse 14-15 NLV). Wanneer jou gebed in lyn met God se wil is, benodig jy nog een ding – geloof. Geloof doen twee dinge: a) Dit maak jou oë oop met die besef dat God se beloftes vir jou persoonlik bedoel is. b) Dit tree soos ‘n magneet op, wat die vervulling van sy belofte in jou lewe intrek. Waarvoor wens jy? As dit God se wil is – kan jy dit kry.

Sielskos: Eks 36-38; Joh 4:13-26; Ps 41; Spr 27:7-9

Slaag die vreestoets

2017-10-17
Jesaja 12:2 NLV

Hoe ‘n groot faktor is vrees in jou lewe? Kom, neem die vreestoets. Sirkel die nommer wat die beste met dit wat jy voel, korrespondeer: 1) Ek kan nie die laaste keer onthou wat ek regtig bang was nie. 2) Ek is selde bang en ook net wanneer ek of iemand naby aan my in fisiese gevaar is. 3) Ek is ‘n bietjie meer vol vrees as wat ek graag sal wil wees. 4) Vrees is ‘n aansienlik faktor in my alledaagse lewe. Ek vermy enigiets riskant of onveilig. 5) Ek is op ‘n daaglikse basis vir baie dinge bang en dit verander die manier wat ek my lewe lei. As jy nommer een gesirkel het, is jy ‘n ongewone individu wat nie normale vrees ervaar nie. Jy mag dalk jou aksies met groter wysheid moet temper. As jy nommer twee gesirkel het, het jy ‘n gesonde houding teenoor vrees en kan jy dit hanteer. As jy nommer drie of vier gesirkel het, is jy in ‘n uitstekende posisie om jou lewe te verbeter deur jou houding te verander. Begin deur die bron van jou vrese te identifiseer en wees gedetermineerd om jou vrees in geloof in God te verander (sien Romeine 10:17). Dink aan ‘n positiewe teenoorgestelde vir elke area van vrees en skep dan ‘n plan om daardie kwaliteit te kultiveer. Fokus dan op wat jy vandag kan beheer. As jy nommer vyf gesirkel het, is die kans goed dat vrees jou lewe oorneem en dat jy dit moeilik sal vind om dit op jou eie te oorkom. Begin dus om te bid en jou gedagtes met God se Woord te herprogrammeer (sien 1 Timoteus 1:7). Moet ook nie bang wees om by ‘n vriend of berader wat jy vertrou, hulp te soek nie.

Sielskos: Eks 33-35; Joh 4:1-12; Ps 87; Spr 27:4-6

Hou aan groei

2017-10-16
Spreuke 1:5 NLV

Om aan te hou groei, moet jy drie beginsels verstaan: 1) Jy groei tot die omvang wat jy gee. Deur weg te gee, skep jy meer spasie om aan die binnekant te groei. Gee dus tot dit seermaak en hou aan gee totdat dit goed voel. Probeer altyd om mense beter te los as wat jy hulle gekry het; dan sal dit ook met jou beter gaan. Salomo het gesê, ‘Mense wat ander iets gun, het self altyd ‘n oorvloed. Hulle wat ander se dors les, is self altyd verkwik’ (Spreuke 11:25 NLV). 2) Om meer te bereik, moet jy meer groei. Voel jy geestelik, in jou verhoudings, jou beroep of tuis vasgevang? Jy gaan nie vry word deur eksterne veranderinge te maak nie, soos om ‘n nuwe beroep na te jaag, jou familie te verlaat of van kerk te verander nie. As jy ernstig daaroor is om los te breek, moet jy eerder lank en ernstig na jouself kyk in plaas daarvan om vinnige uitkomste te soek. Jy moet verantwoordelikheid ervaar vir wat jy sien, bid en besluit om iets daaraan te doen. 3) Dis nie genoeg om net te droom nie; jy moet ook doen. Die Tartarvolk van Sentraal-Asië is bekend daarvoor dat hulle ‘n sekere vloek teenoor hulle vyande uitgespreek het. Hulle het nie gevra vir swaarde om te roes of vir hulle vyande om van siektes te sterf nie. Hulle het eenvoudig gesê, ‘Mag jy vir altyd op een plek vasgevang bly.’ As jy nie daagliks daaraan werk om jouself te verbeter nie, sal dit ook jou lot wees. Jy sal op dieselfde plek vasgevang word, waar jy dieselfde goed doen, dieselfde drome droom en nooit êrens heen gaan nie. Hou dus aan groei!

Sielskos: Eks 30-32; Joh 3:22-36; Ps 32; Spr 27:1-3