Hou aan groei
2017-10-16Spreuke 1:5 NLV
Om aan te hou groei, moet jy drie beginsels verstaan: 1) Jy groei tot die omvang wat jy gee. Deur weg te gee, skep jy meer spasie om aan die binnekant te groei. Gee dus tot dit seermaak en hou aan gee totdat dit goed voel. Probeer altyd om mense beter te los as wat jy hulle gekry het; dan sal dit ook met jou beter gaan. Salomo het gesê, ‘Mense wat ander iets gun, het self altyd ‘n oorvloed. Hulle wat ander se dors les, is self altyd verkwik’ (Spreuke 11:25 NLV). 2) Om meer te bereik, moet jy meer groei. Voel jy geestelik, in jou verhoudings, jou beroep of tuis vasgevang? Jy gaan nie vry word deur eksterne veranderinge te maak nie, soos om ‘n nuwe beroep na te jaag, jou familie te verlaat of van kerk te verander nie. As jy ernstig daaroor is om los te breek, moet jy eerder lank en ernstig na jouself kyk in plaas daarvan om vinnige uitkomste te soek. Jy moet verantwoordelikheid ervaar vir wat jy sien, bid en besluit om iets daaraan te doen. 3) Dis nie genoeg om net te droom nie; jy moet ook doen. Die Tartarvolk van Sentraal-Asië is bekend daarvoor dat hulle ‘n sekere vloek teenoor hulle vyande uitgespreek het. Hulle het nie gevra vir swaarde om te roes of vir hulle vyande om van siektes te sterf nie. Hulle het eenvoudig gesê, ‘Mag jy vir altyd op een plek vasgevang bly.’ As jy nie daagliks daaraan werk om jouself te verbeter nie, sal dit ook jou lot wees. Jy sal op dieselfde plek vasgevang word, waar jy dieselfde goed doen, dieselfde drome droom en nooit êrens heen gaan nie. Hou dus aan groei!
Sielskos: Eks 30-32; Joh 3:22-36; Ps 32; Spr 27:1-3