Bely jou sonde
2017-10-20Psalm 32:5 NLV
Wanneer jy opsetlik sondig, rebelleer jy teen God se leiding in jou lewe – en voel jy sleg daaroor. Om daaroor sleg te voel, is ‘n bewys dat jy ‘n verloste kind van God is, anders sou jou sonde jou nie gepla het nie. Dink aan ‘n tiener wat vir sy pa sê, ‘Ek is regtig jammer, maar ek het Pa se kredietkaart gebruik om bier vir my en my vriende te koop.’ Die kans is daar dat sy pa dit dalk nooit sou agterkom nie, veral as hy nie sy bankstate dophou nie. Sy seun se skuldige gewete het dit egter na die oppervlak gebring en hy het gesê, ‘Pa, ek moes nie die bier gekoop het nie. Ek moes nie jou kredietkaart daarvoor gebruik het nie. Jy het my vertrou en ek het jou teleurgestel. Ek is jammer en ek sal dit nie weer doen nie.’ Dít is belydenis. Dis wat ons in ons gebede moet doen. Die Griekse woord wat as belydenis vertaal word, beteken ‘om met God saam te stem.’ Wanneer ons ons sondes bely, stem ons wat ons sonde wat deur sy Woord en die Heilige Gees geopenbaar word betref, saam met God. Wanneer ons bely, verbaliseer ons ons sonde en ontvang ons reiniging en vergifnis. Ja, belydenis is dikwels pynlik, maar dit hou ons gemeenskap met ons Hemelse Vader skoon, oop en naby. Dis nie dat God ophou om vir ons lief te wees nie, maar dat ons voel dat ons Hom nie meer met vertroue kan nader nie. Het jy ‘n sonde om te bely? ‘As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV).
Sielskos: Jes 1-3; Joh 4:39-54; Ps 5; Spr 27:13-16