2017-10-15
Efesiërs 4:24 NLV
Wanneer jy verkeerde denke in die privaatheid van jou gedagtes vermaak, mag jy dalk in die versoeking kom om jouself te verskoon deur te sê, ‘Watter skade kan dit doen?’ Meer skade as wat jy dink! Jy word dit waaraan jy dink. Die Bybel sê, ‘Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan…’ Jy mag dit dalk nie wil erken dat jy steeds sommige van die ‘ou’ klere aanhet nie (houdings, tydsverdrywe en gewoontes), maar die waarheid is dat jy nie die skoon klere kan aantrek totdat jy die oues uitgetrek het nie. Jy kan verder ook nie die ou klere in die kas hang vir ‘n reëndag nie, of hulle op die vloer los waar jy oor hulle kan struikel nie. Jy moet van hulle ontslae raak. ‘…dat julle, wat julle vroeëre leefstyl betref, die ou, sondige mens soos vuil klere moet uittrek… Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is… Daarom moet julle die leuen aflê en die waarheid teenoor mekaar praat… Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie. Die dief moet ophou steel en eerder hard werk. Hy moet sy eie hande vir eerlike werk gebruik sodat hy iets kan hê om met mense in nood te deel. Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel. Ja, moenie God se Heilige Gees hartseer maak nie… Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar… Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (verse 22-32 NLV). Trek vandag jou skoon klere aan.
Sielskos: Joel 2:23-32; Hand 2:1-21
2017-10-14
Psalm 119:165 NLV
Raak jy maklik ontsteld? Selfs oor klein goedjies? Spandeer dan meer tyd om te bid en jou Bybel te lees. Die volgende artikel het in ‘n koerant verskyn: “‘n Dame het my plek in die kerk gevat. Sy is baie oulik, inderwaarheid is sy ‘n goeie vriendin van my. My sitplek is aan die regterkant soos jy die kerk binnekom. Dis ‘n goeie sitplek, maar ek sal nou nie ‘n bohaai oor ‘n sitplek opskop nie… mens moet mos nie ‘n wrok hou nie. Dit was eintlik drie maande gelede wat sy my sitplek gevat het en ek weet nie regtig hoekom sy dit gedoen het nie. Ek het nog nooit iets teenoor haar gedoen nie. Ek veronderstel ek sal nou maar ‘n uur vroeër moet opdaag om seker te maak ek kry my sitplek. Sy het my sitplek gevat omdat dit die beste sitplek in die kerk is. Sy het geen reg gehad om dit te vat nie… en ek gaan nie twee ure vroeër kerk toe gaan om te kry wat volgens reg myne is nie. Dis hoe sosiale onregte begin: onregmatige mense wat ander mense se sitplekke steel. ‘n Mens kan ook net soveel opvreet. Waar gaan dit eindig? As iemand nie opstaan vir wat reg is nie, gaan niemand se sitplekke veilig wees nie. Mense sal sit net waar hulle wil en volgende sal hulle op my parkeerplek begin parkeer. Die wêreld sal in wanorde verval!” Ons glimlag, maar dis verstommend hoe vinnig ons ontsteld raak wanneer ons klein roetines onderbreek word. Weet jy hoekom die Christelike lewe die hoër roeping genoem word (sien Filippense 4:13 AFR53)? Omdat dit beteken dat jy altyd bo verskille moet uitstyg en ander mense moet dien, eerder as om jouself eerste te stel.
Sielskos: Eks 28-29; Joh 3:9-21; Ps 100; Spr 26:27-28
2017-10-13
Hebreërs 4:12 NLV
Soos jy die Bybel lees, sal God jou krag en leiding vir jou lewe gee wat jy eenvoudig nie op ‘n ander manier kan kry nie. Elifas het vir Job gesê: ‘want Hy verwond, maar verbind ook weer. Hy tref ons, maar sy hande genees ook weer’ (Job 5:18 NLV). Dis wat God met jou doen wanneer jy die Skrif lees: ‘Die woord van God…sny diep tot binne-in ons innerlikste wese…’ Ander mense sien wat ons doen, maar wanneer ons tyd met God spandeer en die Skrif oopmaak, openbaar Hy aan ons wie ons is. Hy bring onopgeloste kwessies na die oppervlak en help ons om hulle te hanteer. Hy konfronteer ons oor ons hardkoppige gewoontes en wys ons hoe om hulle te oorkom. Hy wys ons selfsugtige en liefdelose houdings uit en wys ons hoe om hulle te oorwin. Die ou Kwakers het ‘n gesegde gehad: ‘Sonde weerhou jou van die Bybel en die Bybel weerhou jou van sonde.’ Jy sê, ‘Maar wanneer ek in die oggende opstaan is ek so besig dat ek nie tyd het om die Bybel te lees nie.’ Lees dit dan wanneer jy saans by die huis kom! Jy sê, ‘Teen die tyd wat ek van die werk af by die huis kom, is ek moeg en kan ek op niks konsentreer nie!’ Dan moet jy jou prioriteite herrangskik. As jy ure kan spandeer om televisie te kyk, kan jy sekerlik tyd in die dag spandeer om jou Bybel te lees. Die waarheid is dat ons tyd maak vir die dinge wat ons wil hê, die dinge wat ons waardeer en dit wat ons geniet. Vra dus vir God om jou ‘n groter aptyt vir sy Woord te gee. Lees dan jou Bybel en sien hoe jou lus daarvoor groei!
Sielskos: Eks 25-27; Joh 3:1-8; Ps 89:38-52; Spr 26:23-26
2017-10-12
Filippense 4:8 NLV
Om jou lewe te verander, moet jy eers jou denke verander. Dis nie maklik as jy jou hele lewe lank al op ‘n sekere manier dink nie. Die dominee en skrywer, dr Frank Crane, het gesê, ‘Ons gedagtes is ons beste vriende en ons grootste vyande.’ Koning Salomo het dit so gestel: ‘Want soos [die mens] in sy siel bereken, so is hy…’ (Spreuke 23:7 AFR53). Om jou denke te verander, moet jy dit doen – een gedagte op ‘n slag. Dit benodig dissipline en vasberadenheid. Dis egter die moeite werd. As jy ‘n marathon wil hardloop, sal jy mos nie heeldag lekkers eet nie? Die brandstof wat jy insit bepaal die prestasie. Tog verontagsaam ons hierdie basiese stukkie wysheid: Wat jy jou liggaam voer is niks in vergelyking met wat jy jou gedagtes voer nie! Hier is ‘n waarheid wat jou sal transformeer: Dink uitstekende gedagtes! Wat jou gedagtes aanhoudend binnedring, besit hulle, vorm hulle, beheer hulle en druk hulle op die ou einde uit in dit wat jy word en wie jy is. Jou gedagtes sal dit waaraan jy blootgestel word, absorbeer en reflekteer. Die geleenthede wat jy bywoon, die verhoudings wat jy bou, die boeke wat jy lees, die musiek waarna jy luister, die mediaboodskappe waaraan jy blootgestel word, die gesprekke waaraan jy deelneem en die gedagtes wat jy het vorm jou denke en uiteindelik jou karakter en jou lotsbestemming. Wat moet jy dus doen? Begin elke dag deur te bid: ‘Here, ek wil die tipe gedagtes hê wat u Woord beskryf. Denke wat gevul word deur alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is’ (sien Filippense 4:8). Kan jy jou indink hoe jou lewe sal wees as jy aanhoudend so bid en jou denke ooreenstemmend programmeer?
Sielskos: Eks 22-24; Joh 2:12-25; Ps 89:15-37; Spr 26:20-22
2017-10-11
2 Timoteus 1:7 NLV
Die Bybel sê, ‘As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel…’ (Hebreërs 11:6 NLV). Moet dus by niks betrokke raak wat nie van jou verwag om jou geloof te gebruik nie. Die sleutel tot momentum is om altyd iets te hê om na uit te sien en om geloof in God daarvoor te hê. Wie nie waag nie, wen nie. Jesus het sy dissipels opsetlik in ‘n storm in gestuur. Hoekom? Om hulle geloof te ontwikkel en vir hulle te wys dat mens met Hom aan boord deur enigiets kan kom! God sal aanhou om jou aan moeilike situasies bloot te stel omdat Hy weet dat dit die enigste manier is wat jou geloof sal groei. Die negentiende eeuse Amerikaanse prediker, Phillips Brooke, het geskryf: ‘Moenie vir maklike lewens bid nie. Bid om sterker mense te wees. Moenie vir take gelyk aan jou krag bid nie, bid vir krag gelyk aan jou take.’ Jy kan nie toegang tot God se hulpbronne kry totdat jy nie iets probeer doen wat menslik onmoontlik lyk nie. Dit is wanneer jy ontdek: ‘Ek kan deur alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). Alle vooruitgang behels risiko’s. Vooruitgang beteken dat jy jou vrese moet oorkom. Eendag, terwyl Dawid na sy skape gekyk het, het daar ‘n leeu gekom (1 Samuel 17:34). Met God se krag het hy hom egter verslaan – sowel as ‘n beer en later ‘n reus genaamd Goliat. Die leeu was ‘n geleentheid. As Dawid geweifel het of weggehardloop het, sou hy sy kans misgeloop het om die koning van Israel te word. As ‘n leeu van vrees dus jou lewe binnekom, herken dit vir wat dit is: ‘n geleentheid van God om in geloof op te staan en dit te oorwin.
Sielskos: Eks 19-21; Joh 2:1-11; Ps 89:1-14; Spr 26:17-19
2017-10-10
Spreuke 27:6 ABA
Hier is twee kwaliteite wat enige vriendskap permanent kan vestig: eerlikheid en lojaliteit. Die Bybel sê, ‘Wanneer ‘n vriend jou seermaak, dan doen hy dit omdat hy jou vriend wil bly. Wanneer iemand jou die hele dag wil aanhou soen, dan haat hy jou.’ ‘n Ware vriend mag jou dalk ontstel deur vir jou die waarheid te vertel, maar hy of sy sal dit nietemin vir jou vertel. Hulle mag dalk nie altyd vir jou vertel wat jy wil hoor nie, maar as hulle jou waarlik liefhet, sal hulle jou vertel wat jy nodig het om te hoor. Dit mag dalk in die korttermyn seermaak, maar dit sal jou op die lange duur help. Wanneer jy ‘n verhouding wil meet om te bepaal of dit as ware vriendskap kwalifiseer, is daar twee vrae wat jy die ander persoon moet vra: 1) Kan ek jou vertrou om heeltemal eerlik met my te wees? 2) Kan ek jou genoeg vertrou om heeltemal eerlik met jou te wees? Net ‘n ware vriendskap verwag en oorleef sulke wedersydse eerlikheid. ‘Daar kan ook ‘n vriend wees vir wie jy liewer is as vir jou eie broer’ (Spreuke 18:24 NLV). Lojaliteit is die een ding wat ‘n persoon nooit van sy of haar vriend moet bevraagteken nie. ‘n Ware vriend sal jou verdedig voor hy of sy jou oordeel. Daar is nie iets soos ‘n ‘mooiweers’ vriend nie. Jy het nie vriende nodig wanneer dit goed gaan nie, jy het vriende nodig wanneer dinge sleg lyk. ‘n Mooiweers vriend is glad nie ‘n vriend nie.
Sielskos: Eks 16-18; Joh 1:43-51; PSA.1; Spr 26:13-16