Vriendskap (3)

2017-10-09
Spreuke 13:20 NLV

Daar word ‘n verhaal vertel van ‘n boer wat elke dag deur ‘n swerm kraaie in sy mielieland getreiter is. Hy het besluit dat hy genoeg gehad het, sy haelgeweer gelaai en ongesiens die landery ingekruip om die pestilensies vir eens en vir altyd te gaan skiet. Hy het egter ‘n baie sosiale papegaai gehad wat met almal vriende gemaak het en toe hy die klomp kraaie sien, het hy na hulle toe gevlieg om te probeer vriendelik wees. Die boer het die kraaie gesien maar nie sy papegaai nie, dus het hy versigtig gemik, geskiet en nader gehardloop om te sien hoeveel kraaie hy raakgeskiet het. Daar lê sy geliefde papegaai toe op die grond met ‘n gebreekte vlerk en ‘n stukkende snawel, maar steeds lewendig. Die boer het hom saggies opgetel en huis toe gedra, waar sy kinders uitgehardloop het om hom te ontmoet. Toe hulle die papegaai sien, het hulle tranerig gevra, ‘Pappa, wat het gebeur?’ Voor die boer egter kon antwoord, het die papegaai gesê, ‘Dis wat gebeur wanneer jy met die verkeerde vriende uithang.’ Jy kan nooit op die regte plek, op die regte tyd, besig wees om die regte ding te doen, as jy met die verkeerde vriende uithang nie. As ‘n ouer, is dit jou plig om dit vir jou kinders te leer. Monitor hulle internetgebruik en waarsku hulle oor aanlynrowers wat na ‘vriende’ soek. Jy sê, ‘Maar ek kan nie eers ‘n rekenaar aanskakel nie!’ As jy lief is vir jou kind, sal jy leer om dit te doen! Webgebaseerde gruwelverhale van kinders wat seergemaak word of op die verkeerde pad gelei word neem daagliks toe. As dit dringend klink, is dit omdat dit is!

Sielskos: Eks 13-15; Joh 1:29-42; Ps 23; Spr 26:10-12

Vriendskap (2)

2017-10-08
Spreuke 18:24 NLV

Indien jy ‘n goeie vriend wil hê, moet jy eers probeer om ‘n goeie vriend te wees. ‘n Onbekende digter het geskryf, ‘I went out to find a friend, but could not find one there; I went out to be a friend, and friends were everywhere.’ Vriendskap het nie ‘n dinamiese persoonlikheid nodig nie. Selfs skaam, stil en ingetoë individue kan leer om vriendelik te wees. Dis amper onmoontlik om geen vriende te hê wanneer jy self vriendelik is nie. Die teenoorgestelde is ook waar. Sielkundiges het ‘n groep studente gevra om die voorletters van diegene wat hulle die minste van hou, neer te skryf. Sommige van die studente kon aan net een persoon dink, terwyl ander soveel as veertien mense gelys het. ‘n Interessante feit wat uit die navorsing gespruit het, is dat diegene wat van die grootste aantal mense nie gehou het nie, ook die mense was van wie die meeste ander nie gehou het nie. Hier is dus vyf maniere om vriende te maak: 1) Behou oogkontak. Wanneer jy met mense praat, kyk hulle in die oë. 2) Glimlag! Dit verg twee-en-sewentig spiere om te frons, maar net veertien om te glimlag – en ‘n glimlag verwarm harte en moedig gesprekke aan. 3) Noem mense op hulle name. Vreemdelinge is presies dit – vreemd – maar ‘n vriend is bekend. 4) Praat met mense oor hulle gunsteling onderwerp – hulleself. 5) Vind ‘n geleentheid om ‘n woord van bemoediging of ‘n kompliment te gee, of verrig ‘n goeie daad. Wanneer jy ‘n persoon met hierdie vyf kenmerke vind, het jy iemand gekry wat daarvoor bekend is dat hy of sy vriendelik is.

Sielskos: Eks 17:8-16; 2 Kor 1:3-7

Vriendskap (1)

2017-10-07
Spreuke 18:24 AFR53

Met ‘n paar uitsonderings, hang jou sukses in die lewe af van jou vermoë om verhoudings met die regte mense te vorm en te onderhou. Volgens ‘n verslag deur die American Management Association, is die konsensus van tweehonderd bestuurders wat aan ‘n opname deelgeneem het, dat die belangrikste vaardigheid van ‘n besigheidsmens sy of haar vermoë is om met ander mense oor die weg te kom. Hulle het hierdie vaardigheid hoër as intelligensie, beslistheid, kennis of werksvaardighede gestel. Om eerlik te wees, maak geeneen van ons baie ware vriende in ons leeftyd nie – of altans, ons behoort dit nie te doen nie! Salomo waarsku ons, “‘n Man met baie vriende word geruïneer…” Vriendskappe verg tyd, energie en opoffering. Nie elke sogenaamde vriend sal homself as een bewys nie, soos Jeremia vir koning Sedekia gewaarsku het: ‘…U sogenaamde vriende het u in die steek gelaat! Hulle het u mislei. Noudat u voete in die modder gesink het, waar is u vriende nou?..’ (Jeremia 38:22 NLV). Hier is dus ‘n goeie beginsel om volgens te lewe: Wees vriendelik met almal, maar moenie almal as ‘n vriend aanvaar nie. Salomo het gesê, ‘Gelowiges laat vriende vir hulle wys wat om te doen. Slegte mense lei ander die afgrond in…’ (Spreuke 12:26 DB). Charles Spurgeon het gesê, “‘n Man word geken aan die geselskap wat hy vermy, sowel as die geselskap wat hy kies.” Die Hebreeuse woord vir ‘kies’ is tur, wat in die Ou Testament na ‘n man verwys wat die land verken. As jy dus wys is, sal jy jou vriendskappe verken en evalueer voor jy dit betree. Jy sê, ‘Maar ek is eensaam.’ Soos George Washington gesê het, ‘Dit is beter om alleen as in slegte geselskap te wees.’

Sielskos: Eks 10-12; Joh 1:14-28; Ps 131; Spr 26:7-9

Wat om te doen terwyl jy wag

2017-10-06
Psalm 40:1 NLV

Enigiets wat goed gebou word, word stadig en versigtig saamgestel. Ongeduld is ‘n teken van onvolwassenheid. Probeer om die volgende te verstaan: Jou ongeduld gaan nie God vinniger laat beweeg nie. Hy werk volgens sy eie skedule. Paulus skryf, ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk… volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV). Net omdat die deur nog nie oopgemaak is nie, beteken nie dat God van plan verander het nie. Die tydsberekening mag dalk nie reg wees sodat Hy maksimum glorie en jy maksimum voordeel daaruit sal kry nie. Wat moet jy dus doen terwyl jy wag? Twee dinge: 1) Bid vir God se wil. Moenie toelaat dat dinge in jou lewe inkom wat teenstrydig daarmee is nie, veral nie haas en bekommernis nie. Jy moet weet hoe om jou tyd, energie en geld te allokeer, insluitend met wie jy tyd moet spandeer en met wie nie. God sê, ‘Ek maak die einde bekend vanaf die begin…’ (Jesaja 46:10 NLV). Voor God enigiets begin, het Hy reeds ‘n duidelike beeld van die einddoel en bepaal Hy die stappe wat jou daarheen sal lei. 2)Verbly jouself terwyl jy wag. ‘Selfs al sal die vyebome nie bot nie en die wingerd sonder druiwe staan, al het die olyfoes misluk, en lewer die landerye niks op nie, al vergaan die kleinvee in die veld en is die beeskrale leeg, tog, ten spyte van alles, sal ek my verbly in die Here! Ek sal juig oor God wat my verlos!’ (Habakuk 3:17 NLV). Begin vandag om God te bedank vir alles wat Hy reeds gedoen het en wat Hy in die toekoms om jou ontwil gaan doen. Hy sal dit doen – Hy sal absoluut vir jou deurkom.

Sielskos: Eks 7-9; Joh 1:1-13; Ps 29; Spr 26:4-6

Jubel oor jouself – God doen dit!

2017-10-05
Sefanja 3:17 NLV

Sommige van ons dink so min van onsself dat ons eerder in ‘n slegte verhouding sal bly as om alleen te wees. Om deur mense omring te wees beteken nie dat jy nie eensaam sal voel nie. Om saam met die verkeerde mense te wees, waarborg inderdaad dat jy op die ou einde leeg en gebruik sal voel. Totdat jy jou vrees vir alleenwees oorkom en vir God wag om jou die regte verhoudings te gee, sal jy aanhou om eensaam te voel. Miskien dink jy dat as jy nie betrokke raak nie, sal jy nie seerkry nie. Of jy is bang om oop te maak vir ingeval mense jou kritiseer omdat jy iets persoonliks gedeel het. Hierdie angstighede dra by tot jou gevoel van isolasie. Die motiveringspreker Zig Ziglar het gesê, ‘Wat jy in jou gedagtes sien, sal jou brein verwerk om uit te voer. Wanneer jy jou gedagtes verander, verander jy outomaties jou optrede.’ Dus: 1) Jy het ‘n ware beeld nodig van hoe God jou sien. Paulus sê, ‘Deur wat Christus gedoen het, het ons ook deel van God se eie volk geword… Die gevolg is dat God se grootheid deur ons bestaan verheerlik word’ (Efesiërs 1:11-12 NLV). Sefanja skryf, ‘…Hy is buitengewoon bly oor julle. Sy liefde sal julle rustig maak. Met uitroepe van vreugde sal Hy oor julle jubel.’ 2) Jy het ‘n ware beeld van jouself nodig. Dawid het gesê, ‘U self… het my in die moederskoot gevorm. Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar…’ (Psalm 139:13-14 NLV). Hierdie twee ware beelde keer jou om met ‘n minderwaardige selfbeeld te lewe en stel jou in staat om te vra vir dit wat jy in ‘n verhouding nodig het.

Sielskos: Lev 23:33-44; Joh 7:1-40; Sag 14:16-21

Hou op om jou daaroor te bekommer

2017-10-04
1 Petrus 5:7 NLV

John Mason skryf: ‘Ek kon nie vrede kry nie. Indien alles nie op sy plek was en ek alles verstaan het nie, het ek angstig, rusteloos, senuweeagtig, bekommerd en iesegrimmig geword, soos ‘n dwelmverslaafde op soek na sy volgende ontvlugting. Die hewigheid daarvan was nie dieselfde nie, maar die simptome was. Ek as Christen was veronderstel om in geloof te wandel. Ek het Jesus vir my redding vertrou, maar in ander areas het ek op myself staat gemaak.’ Lewe jy op hierdie manier? Die inspirerende skrywer William Ward het geskryf: ‘Bekommernis is geloof in die negatiewe, vertroue in die onaangename, versekering van rampspoed en oortuiging van mislukking. Dis ‘n magneet wat negatiewe omstandighede aantrek. Geloof is ‘n sterker krag wat positiewe omstandighede skep. Jy mors vandag se tyd deur jou te bekommer en vermors môre se geleenthede met gister se moeilikhede.’ Toe ‘n ou man gevra is wat die vreugde in sy lewe gesteel het, het hy geantwoord, ‘Dinge wat nooit gebeur het nie.’ Onthou jy die dinge waaroor jy ‘n jaar gelede bekommerd was? Het jy nie baie energie daarop gemors nie? Het die meeste daarvan nie goed uitgewerk nie? Amper 99 persent van die dinge waaroor ons ons bekommer, gebeur nie. Het jy geweet dat ‘n digte mis wat sewe stedelike blokke honderd voet diep bedek, uit minder as een glas water bestaan? Net een glas! Dit kan egter amper alle visie belemmer. ‘n Koppie vol bekommernis kan dieselfde doen. Die Bybel sê, ‘…Niemand het beheer oor wat met hulle gaan gebeur nie’ (Jeremia 10:23 NLV). Hou op om elke moontlike uitkoms te probeer beheer. Die lewe word beter wanneer jy besluit om op God se Woord te staan en Hom te vertrou om vir jou te sorg.

Sielskos: Eks 4-6; Mark 16:9-20; Ps 92; Spr 26:1-3