Behandel jou vyande met goedhartigheid

2017-10-03
Spreuke 25:22 NLV

Dis nie genoeg om jou vyande net uit te los nie; jy moet God se liefde aan hulle demonstreer. ‘As iemand wat jou haat honger is, moet jy hom iets gee om te eet. As hy dors is, gee hom iets om te drink. Die Here sal jou daarvoor vergoed. Jy sal buitendien kole ophoop op jou vyand se kop en hom vuurrooi maak van skaamte’ (verse 21-22 NLV). Wat beteken dit om kole op sy kop te hoop? Charles Swindoll verduidelik dat huise in antieke tye deur ‘n draagbare stoof, waarop maaltye ook voorberei is, – baie soos ons braaiers buite, verhit is. ‘n Persoon sou dikwels sy of haar voorraad warm kole moes aanvul om seker te maak dat dit nie uitbrand nie. Die houer hiervoor is dikwels op die kop gedra. Wanneer die individu dan verby vensters op die tweede verdieping geloop het, het vriendelike mense wat ekstra warm kole het by die venster uitgeleun en dit in die houer op die persoon se kop geplaas. Danksy die vriendelike vrygewigheid van ‘n paar mense, kon hulle tuis kom met ‘n hoop brandende kole op hulle kop, wat hulle dadelik kon gebruik om op te kook en die huis warm te maak. ‘Om kole op iemand se kop te hoop’, het ‘n gewilde uitdrukking van ‘n spontane en hoflike daad wat iemand vrywilliglik vir iemand anders doen, geword. Wanneer jy jou vyand op hierdie manier behandel, belowe die Bybel, ‘…Die Here sal jou daarvoor vergoed…’ Jy het ‘n keuse. Jy kan die korttermyn bevrediging kry deur terug te slaan en in die moeilikheid by God daaroor te kom, of jy kan genade en goedhartigheid bewys en deur God daarvoor vergoed word. Die woord vir jou vandag is dus – behandel jou vyande met goedhartigheid.

Sielskos: Eks 1-3; Mark 16:1-8; Ps 63; Spr 25:26-28

Luister aandagtig, sonder onderbrekings!

2017-10-02
Esegiël 40:4 NLV

As jy jouself leer om aandagtig te luister na wat iemand sê, sal hulle oor die algemeen vir jou vertel wie en wat hulle is voordat jy in ‘n verhouding met hulle tree. Dikwels, wanneer iemand ons egter begin waarsku oor hulle swakhede en wat om te verwag, spring ons met ons motiverende ‘Ag, dit kan nie waar wees nie’ gedagtes in en moedig ons hulle aan om saam met ons voort te beweeg. Ons moet die kosbare kuns van luister, sonder onderbrekings, aanleer. As jy dit doen, sal jy jouself van jare se trane, geheime teleurstellings en negatiewe ervarings red. Eerder as om jou optimisme en oorredende styl te gebruik om iemand te dwing om jou doelwitte te aanvaar, moet jy weet wanneer iemand nie iets kan word net omdat jy dit wil hê of glo dat hulle dit kan doen nie. Hulle kan nie op jou energie leef nie! Jou karakter en volwassenheid sal nie opmaak vir hulle gebrek daaraan nie. Sonder jou bewustheid van hierdie beginsel, kan hierdie verhoudings jou moeg maak en jou jare lank van jou krag dreineer. As jy in private of professionele verhoudings mense moet motiveer om te begin, sal jy hulle moet aanhou motiveer om dit te behou. Aan die ander kant, as jy kyk, luister, bid en observeer, kan jy besluit of dit die moeite werd is om die verhouding in die eerste plek te begin. As jy God vra, sal Hy jou hierin lei. Sy Woord sê, ‘…kyk en luister aandagtig. Gee aandag aan alles wat ek vir jou wys. Jy het hiernatoe gekom sodat ek vir jou baie dinge kan wys…’

Sielskos: 1 Kor 15-16; Mark 15:33-47; Ps 51; Spr 25:23-25

Dinge wat afgesny word, dinge wat gesnoei word

2017-10-01
Johannes 15:2 NLV

Jesus sê: ‘Ek is die egte druiwestok en my Vader is die tuinier. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af. Elkeen wat egter vrugte oplewer, snoei Hy sodat dit nog meer vrugte kan dra’ (verse 1-2 NLV). Let twee dinge op: 1) God sny sekere dinge af. Dinge waarmee jy gemaklik is, maar in die pad van jou vordering staan. Dinge wat Hy nie vir jou gekies het nie. Dinge wat vir jou probleme gaan meebring. Dinge wat jy weier om te verander. Dinge wat klaar hulle doel gedien het. 2) God snoei sekere dinge. ‘n Vrugteboom wat onlangs gesnoei is, lyk verseker nie op sy beste nie. Wanneer God dinge in jou lewe begin snoei om jou in ander rigtings te stuur, mag jy dalk ook nie so goed lyk nie. Soms beteken dit dat jy dinge moet laat gaan wat jy gedink het altyd daar sal wees, of dat jy jou prioriteite moet herrangskik, of dat jy met minder vir ‘n rukkie moet klaarkom, of dat jy nie in staat is om aan jou geliefdes te verduidelik hoekom jy deur die snoeiproses gaan nie. Sap wat lewe gee wat in ‘n droë tak vloei is egter vermors! So ook tyd, aandag en energie wat vir eerste dinge bestem is maar aan tweede en derde dinge gegee word. Verstaan mooi: God weet wat in jou lewe afgesny moet word en wat in jou lewe gesnoei moet word. Al mag jy nie verstaan wat Hy doen nie, bid steeds: ‘Stuur wie U wil en neem weg wie U wil. Ek sal U loof as hulle kom en ek sal U loof wanneer hulle gaan, omdat u goedkeuring my beloning is en u doel die rede vir my lewe is.’

Sielskos: Ef 5:21-33; Hoog 2:1-7; Spr 5:15-19

God is werklik!

2017-09-30
Psalm 27:1 NLV

Wat se hoop of hulp het die ateïs of die agnostikus? Geen! Die skrywer en redakteur W.O. Saunders het in American Magazine gesê, ‘Ek wil jou graag aan die eensaamste en ongelukkigste individue op aarde voorstel… die man wat nie in God glo nie. Ek kan jou aan so ‘n man voorstel omdat ek self een is, en deur myself voor te stel, sal jy voorgestel word aan die nie-gelowige of skeptikus in jou woonbuurt, want hy is oral in die land. Jy sal verbaas wees om te weet dat die agnostikus jaloers is op jou verhouding met God, jou geloof in ‘n hemel na die dood en jou geseënde versekering dat jy eendag jou geliefdes in die hiernamaals sal ontmoet, waar daar geen hartseer of pyn is nie. Hy sal enigiets gee om in staat te wees om daardie geloof te hê en daardeur getroos te word, maar vir hom is daar net die graf. Na die graf weet hy slegs hoe die liggaam en siel eenvoudig net ontbind, maar in hierdie materialistiese sienswyse vind hy nie vreugde of vrede nie. Hy mag dalk ‘n brawe front voorhou, maar hy is nie gelukkig nie. Soms smag hy na iets om op te leun. Hy dra ook ‘n kruis. Vir hom, is die aarde ‘n klein, skommelende bootjie wat in die waters van die ewigheid ronddryf, sonder enige horison in sig. Sy hart pyn vir elke kosbare lewe op die bootjie, wat vir ewig dryf sonder dat hulle weet waarheen.’ Wanneer jy egter jou vertroue in Christus plaas, kan jy met oortuiging sê, ‘Die Here is my lig en my redding. Vir wie moet ek dan vrees?..’

Sielskos: Lev 16; Lev 23:26-32; Heb 9:1-14; Heb 13:11-16

Jy kan verander

2017-09-29
Jesaja 64:8 NLV

Het jy al ooit gesien hoe ‘n stuk klei in iets beeldskoon omskep word? Die klei kan nie self verander nie; die mag om dit te doen lê in die hande van die pottebakker. Jesaja sê, ‘…Ons is soos klei en U die Pottebakker. Deur u hand is ons gevorm.’ Dit beteken dat jy nie die res van jou lewe met jou vrese en fobies hoef saam te lewe nie; God kan jou verander. Selfs al bekommer jy jou al jou hele lewe lank, hoef jy jou nie die res van jou lewe te bekommer nie. Wat daarvan as jy in armoede of veroordeling gebore is? Jy hoef nie so dood te gaan nie. Waar het jy die idee gekry dat jy nie kan verander nie? Wat is die bron van opmerkings soos ‘Dis maar net in my aard om my te bekommer,’ of ‘Ek sal altyd pessimisties wees,’ of ‘Ek kom uit ‘n familie van alkoholiste en verslaafdes, so ek sal nooit vry wees nie’? Sal jy dieselfde stelling oor jou fisiese liggaam maak? ‘Dis maar net in my aard om ‘n gebreekte been te hê. Ek kan niks daaraan doen nie.’ Natuurlik nie. As jou liggaam iets oorkom, soek jy hulp. Moet jy dan nie dieselfde met jou sondige begeertes, suur houdings en selfsugtige tirades maak nie? Wat die wêreld as gemors sien, sien God as kosbaar. Soos die pottebakker kan Hy jou neem, jou vorm en jou in ‘n kosbare item verander (sien 2 Timoteus 2:21). Ons sing, ‘Doen slegs u wil Heer, u wil met my. U Pottebakker, met my die klei.’ Jy moet net jou lewe in sy hande plaas. Wanneer jy ophou om jouself te probeer verander en jouself aan God oorgee, sal ware en blywende verandering plaasvind.

Sielskos: 1 Kor 12-14; Mark 15:21-32; Ps 60; Spr 25:21-22

Wees passievol, proaktief en volhardend

2017-09-28
Jakobus 1:22 NLV

Toe Nehemia die eerste keer die puinhoop van Jerusalem gesien het, het hy gehuil. Toe het hy sy moue opgerol en begin werk. In die aangesig van oorweldigende opposisie, het hy die mure in slegs twee-en-vyftig dae herbou. Hoe? Omdat dit sy visie en sy passie was! Vraag: Is jy bang om te sê, ‘Here, ek sal enigiets doen wat U wil hê ek moet doen,’ vir ingeval Hy jou êrens heen stuur waar jy nie wil gaan nie, of jou vra om iets te doen waarvoor jy nie gereed is of voor gekwalifiseer is nie? Dan het jy dit verkeerd! Die Bybel sê God se wil is ‘…goed en aanvaarbaar en volmaak…’ (Romeine 12:2 NLV). God se wil mag dalk ‘goed’ wees, maar dit beteken nie dis maklik nie. Hy sal jou egter die passie daarvoor gee. Toe Jeremia probeer het om op te hou om oor die Here te praat, het hy gesê dat God se woord soos ‘…’n vuur wat brand, vasgevang in my skelet…’ (Jeremia 20:9 NLV), geword het. ‘n Godgegewe visie laat jou hart aan die brand slaan. Jy mag dalk in die verlede misluk het, maar God kan jou hoofstukke van mislukking neem en ‘n storie van sukses skryf. Die Bybel sê, ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie…’ Jy sal ‘n passie vir God se wil ontwikkel wanneer jy dit begin doen! Wanneer dit gebeur, sal jy sê, ‘Hierdie is waarvoor ek gemaak is.’ Wanneer jy ‘n gebiedende rede het om iets te doen, en jy weet dat God jou dophou en glimlag, sal dit al die verskil in die wêreld maak. Die woord vir jou vandag is dus: Wees passievol, proaktief en volhardend.

Sielskos: 1 Kor 10-11; Mark 15:12-20; Ps 68:19-35; Spr 25:17-20