2017-09-27
Jesaja 26:3 NLV
Hier is ‘n gebed vir vrede: ‘Here, u Woord sê, ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is.’ U Woord sê, ‘Die Here gee krag aan sy volk. Die Here seën sy volk met vrede’ (Psalm 29:11 NLV). U Woord sê, ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle… Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV). U Woord sê, ‘…Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:7 NLV). Ek het vandag hierdie vrede wat rede te bowe gaan nodig om my senuwees en gedagtes te kalmeer. In plaas van om aan my vrese en bekommernisse te dink, help my om op u goedheid, u getrouheid, u helende krag, u oorvloedige bronne en u vergewende hart te fokus. Kom bly binne my en vul my met u vrede. Wys my wat dit is wat my vrede steel. Ek wil regtig weet, Vader, sodat ek spesifiek kan wees in dit wat ek bely, dit waaraan ek my moet toewy, en dit wat ek moet verander. Ek maak myself nou oop vir U. Leer my die geheim van oneindige vrede. Ek dank U reeds vir dit wat my sal help om die vrede wat U so mildelik aangebied het, te ontvang. U Woord sê, ‘Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewe skeidsregter wees…’ (Kolossense 3:15 NLV). Vandag wil ek deur u vrede, in plaas van my vrese en bekommernisse, regeer word. Ek gee al my sorge dus aan U oor en vertrou dat U dit vir die goeie sal laat uitwerk tot u glorie. In Jesus se naam bid ek dit: Amen.’
Sielskos: 1 Kor 7-9; Mark 15:1-11; Ps 68:1-18; Spr 25:13-16
2017-09-26
Filippense 4:11 NLV
Ontevredenheid is ‘n slagyster wat jou kan vasvang en jou van vreugde en vervulling kan beroof. Dit is hoekom die Bybel sê dat jy onder ‘alle omstandighede’ tevrede moet wees. Die idee dat ‘n groter kar of ‘n groter huis of ‘n groter salaris tevredenheid sal meebring, is ‘n mite. Daar is altyd iets groters en beters daar buite. Daar sal altyd mense wees wat meer as jy het, dus sal jy nooit van die trapmeul kan afklim nie. Dit beteken nie dat jy tevrede moet wees om in skuld of destruktiewe gewoontes vasgevang te wees nie, of om vir middelmatig te skik en nie God se roeping op jou lewe te vervul nie. Glad nie! Jy moet aanhou werk om jouself te verbeter, terwyl jy steeds ten volle afhanklik van God is om jou te seën, te bevorder en aan jou behoeftes te voldoen. Tevredenheid beteken dat jy nie iemand anders se posisie, besittings of persoonlikheid begeer nie. Jou sekuriteit en selfwaarde moet op wie jy in Christus is gebaseer wees, nie op jou materiële bates nie. Wat ‘n wonderlike manier om te lewe! Paulus het so gelewe. Hy het gesê, ‘…Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom. Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort. Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (verse 11-13 NLV). Jy moet elke dag ‘n keuse oor jou houding maak. Die woord vir jou vandag is dus: Leer om tevrede te wees.
Sielskos: 1 Kor 4-6; Mark 14:66-72; Ps 91; Spr 25:9-12
2017-09-25
Lukas 22:31 NLV
Lukas skryf: ‘Simon, Simon!’ het Jesus gesê. ‘Let op, die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun’ (verse 31-32 NLV). Satan se aanval bewys dat jy ‘n belangrike rol in God se plan het. Dit is hoekom hy so hard probeer om jou te verslaan. Die waarheid is, die intensiteit en duur van sy aanval is ‘n aanduiding van jou waarde vir God, en die vlak van seën wat God vir jou aan die ander kant van die aanval beplan. As jy dus aan Christus behoort, sien die aanval as ‘n teken van respek. Onthou ook Wie in beheer is. Satan het God se toestemming nodig gehad om vir Job aan te val. Jesus het gesê, ‘…God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou’ (Matteus 28:18 NLV). Die doel van hierdie aanval is om jou van ‘n getuienis oor God se goedheid te voorsien. Jesus was gewillig dat Petrus ‘n toets moet ervaar sodat hy sy broers kon bemoedig. Miskien doen God dieselfde met jou. Hy weet dat die kerk, en die wêreld, lewende getuienenis van sy mag nodig het. Jou moeilikheid mag jou dalk voorberei om ‘n stem van bemoediging aan diegene wat swaarkry te wees. Onthou wat Josef aan sy broers gesê het: ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is…’ (Genesis 50:20 NLV). Omdat God jou liefhet en in beheer van jou lewe is, sal goeie dinge uit die moeilikheid wat jy tans ervaar, spruit.
Sielskos: 1 Kor 1-3; Mark 14:53-65; Ps 13; Spr 25:4-8
2017-09-24
1 Korintiërs 5:5 NLV
Satan se aanval kan ‘n wekroep wees. Weet jy dat wanneer jy weier om jou sonde te erken en berou daaroor te hê, word die muur van beskerming rondom jou gebreek en is Satan vry om in te kom en jou aan te val? Paulus skryf aan die kerk in Korinte: ‘Ek kon my ore byna nie glo om van die seksuele vergrype onder julle te hoor nie – daarby van so ‘n ernstige aard dat dit selfs nie onder die heidene voorkom nie. Ek moes verneem dat daar iemand in julle gemeente is wat met sy stiefma in sonde saamleef. En dan is julle nog so trots op julleself! Pleks dat julle treur en toesien dat hierdie man wat sulke dinge aanvang, uit jul midde verwyder word!’ (verse 1-2 NLV). Dan beveel Paulus die leiers van die kerk, ‘Dan moet julle daardie man aan die Satan oorgee sodat sy sondige aard vernietig word, maar hyself gered kan word op die oordeelsdag.’ Later het die man berou oor sy sonde gehad en Paulus het gesê dat hy weer in die gemeente opgeneem moes word. Wat Paulus dus eintlik gesê het, was: ‘Laat hy tot wanhoop gedryf word sodat hy dalk terug in God se arms gedryf word.’ Weer skryf Paulus: ‘…sommige mense het opsetlik hulle gewete onderdruk, en as gevolg daarvan het hulle geloof skipbreuk gely. Himeneus en Aleksander is twee voorbeelde hiervan. Ek het hulle aan Satan oorgegee sodat hulle sal leer om God nie te belaster nie’ (1 Timoteus 1:19-20 NLV). Geniet God dit om ons te sien ly? Nie meer as wat ‘n ouer dit geniet om hulle kind te dissiplineer nie. Sommige van ons skrik wakker van ‘n skouer wat aangeraak word, ander moet oor die kop geslaan word. Wanneer iemand oor die kop geslaan moet word, kry Satan die oproep.
Sielskos: 1 Kon 3:4-28; Jak 1:2-8
2017-09-23
Job 42:11 NLV
Satan se aanval kan jou geloof versterk. Toe die Duiwel dit waag om die stabiliteit van Job se geloof te bevraagteken, het God hom toestemming gegee om Job te toets. ‘Goed, jy mag hom toets,’ sê die Here vir die aanklaer. ‘Doen net wat jy wil met alles wat hy besit. Jy mag hom net nie fisies skade aandoen nie…’ (Job 1:12 NLV). Let op, God het beide toestemming en die grense van die stryd gegee. Job het die toets geslaag en Satan het gekla dat Job sou val as hy gedwing was om weer pyn in die gesig te staar. Weer gee God toestemming en stel die grense: ‘Goed, doen met hom wat jy wil. Spaar net sy lewe…’ (Job 2:6 NLV). Alhoewel die pyn en vrae oorvloedig was, was Job se geloof en gesondheid op die ou einde beter as ooit. Ons mag dalk nie die rede vir die toets verstaan nie, maar ons weet die oorsprong daarvan. Lees hierdie vers uit die laaste hoofstuk van die boek van Job. Sy familie ‘…het hom getroos en moed ingepraat oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het…’ Satan het geen mag, behalwe die mag wat God aan hom gee nie. Martin Luther was in die kol toe hy die Duiwel as God se gereedskap beskryf het, ‘n skoffel wat Hy gebruik om sy tuin te versorg. Die skoffel sny nooit wat die Tuinier wil red nie en red nooit dit wat die Tuinier wil uitroei nie. ‘n Deel van Satan se straf is sekerlik die frustrasie wat hy voel om as gereedskap te dien om ‘n tuin vir God te skep. Wees dus vandag bemoedig. Satan se aanval sal jou geloof versterk, dit suiwer en dit na hoër hoogtes toe neem.
Sielskos: Sag 12-14; Mark 14:43-52; Ps 54; Spr 25:1-3
2017-09-22
2 Korintiërs 12:7 NLV
Satan se aanval kan jou nader aan God bring. Dit was waar van Paulus se lewe. Dink aan Paulus se résumé: ‘n persoonlike ontmoeting met die opgestane Christus, ‘n deelnemer in hemelse visioene, ‘n apostel deur God gekies, ‘n skrywer van die Bybel. Hy het siekes gesond gemaak, die wêreld vol gereis en sommige van die wêreld se belangrikste dokumente geskryf. Min mense kan sy prestasies ewenaar. Miskien het hy dit geweet. God was egter te lief vir Paulus om toe te laat dat trots hom vernietig. ‘Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van Satan om my te kasty.’ Ons word nie vertel wat hierdie doring is nie, maar die doel daarvan is duidelik – om Paulus nederig te hou. Ons word ook die oorsprong daarvan vertel – ‘n boodskapper van Satan. Hierdie boodskapper kon ‘n pyn, ‘n probleem, of ‘n persoon wat ‘n pyn was, wees. Ons weet nie. Ons weet egter dat die boodskapper onder God se beheer was. Let op wat Paulus volgende sê: ‘Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: ‘My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk. Ek is dus tevrede met my swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede ter wille van Christus, want wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk’ (verse 8-10 NLV). Hier is ‘n waarheid wat elke toets in ‘n potensiële oorwinning kan transformeer: Satan en sy magte is eenvoudig ‘n stuk gereedskap in God se hand, om jou te versterk.
Sielskos: Sag 9-11; Mark 14:27-42; Ps 52; Spr 24:32-34