Verstaan Satan se rol (2)

2017-09-22
2 Korintiërs 12:7 NLV

Satan se aanval kan jou nader aan God bring. Dit was waar van Paulus se lewe. Dink aan Paulus se résumé: ‘n persoonlike ontmoeting met die opgestane Christus, ‘n deelnemer in hemelse visioene, ‘n apostel deur God gekies, ‘n skrywer van die Bybel. Hy het siekes gesond gemaak, die wêreld vol gereis en sommige van die wêreld se belangrikste dokumente geskryf. Min mense kan sy prestasies ewenaar. Miskien het hy dit geweet. God was egter te lief vir Paulus om toe te laat dat trots hom vernietig. ‘Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van Satan om my te kasty.’ Ons word nie vertel wat hierdie doring is nie, maar die doel daarvan is duidelik – om Paulus nederig te hou. Ons word ook die oorsprong daarvan vertel – ‘n boodskapper van Satan. Hierdie boodskapper kon ‘n pyn, ‘n probleem, of ‘n persoon wat ‘n pyn was, wees. Ons weet nie. Ons weet egter dat die boodskapper onder God se beheer was. Let op wat Paulus volgende sê: ‘Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: ‘My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk. Ek is dus tevrede met my swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede ter wille van Christus, want wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk’ (verse 8-10 NLV). Hier is ‘n waarheid wat elke toets in ‘n potensiële oorwinning kan transformeer: Satan en sy magte is eenvoudig ‘n stuk gereedskap in God se hand, om jou te versterk.

Sielskos: Sag 9-11; Mark 14:27-42; Ps 52; Spr 24:32-34