‘n Gebed vir vrede
2017-09-27Jesaja 26:3 NLV
Hier is ‘n gebed vir vrede: ‘Here, u Woord sê, ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is.’ U Woord sê, ‘Die Here gee krag aan sy volk. Die Here seën sy volk met vrede’ (Psalm 29:11 NLV). U Woord sê, ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle… Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV). U Woord sê, ‘…Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:7 NLV). Ek het vandag hierdie vrede wat rede te bowe gaan nodig om my senuwees en gedagtes te kalmeer. In plaas van om aan my vrese en bekommernisse te dink, help my om op u goedheid, u getrouheid, u helende krag, u oorvloedige bronne en u vergewende hart te fokus. Kom bly binne my en vul my met u vrede. Wys my wat dit is wat my vrede steel. Ek wil regtig weet, Vader, sodat ek spesifiek kan wees in dit wat ek bely, dit waaraan ek my moet toewy, en dit wat ek moet verander. Ek maak myself nou oop vir U. Leer my die geheim van oneindige vrede. Ek dank U reeds vir dit wat my sal help om die vrede wat U so mildelik aangebied het, te ontvang. U Woord sê, ‘Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewe skeidsregter wees…’ (Kolossense 3:15 NLV). Vandag wil ek deur u vrede, in plaas van my vrese en bekommernisse, regeer word. Ek gee al my sorge dus aan U oor en vertrou dat U dit vir die goeie sal laat uitwerk tot u glorie. In Jesus se naam bid ek dit: Amen.’
Sielskos: 1 Kor 7-9; Mark 15:1-11; Ps 68:1-18; Spr 25:13-16