Verstaan Satan se rol (3)
2017-09-23Job 42:11 NLV
Satan se aanval kan jou geloof versterk. Toe die Duiwel dit waag om die stabiliteit van Job se geloof te bevraagteken, het God hom toestemming gegee om Job te toets. ‘Goed, jy mag hom toets,’ sê die Here vir die aanklaer. ‘Doen net wat jy wil met alles wat hy besit. Jy mag hom net nie fisies skade aandoen nie…’ (Job 1:12 NLV). Let op, God het beide toestemming en die grense van die stryd gegee. Job het die toets geslaag en Satan het gekla dat Job sou val as hy gedwing was om weer pyn in die gesig te staar. Weer gee God toestemming en stel die grense: ‘Goed, doen met hom wat jy wil. Spaar net sy lewe…’ (Job 2:6 NLV). Alhoewel die pyn en vrae oorvloedig was, was Job se geloof en gesondheid op die ou einde beter as ooit. Ons mag dalk nie die rede vir die toets verstaan nie, maar ons weet die oorsprong daarvan. Lees hierdie vers uit die laaste hoofstuk van die boek van Job. Sy familie ‘…het hom getroos en moed ingepraat oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het…’ Satan het geen mag, behalwe die mag wat God aan hom gee nie. Martin Luther was in die kol toe hy die Duiwel as God se gereedskap beskryf het, ‘n skoffel wat Hy gebruik om sy tuin te versorg. Die skoffel sny nooit wat die Tuinier wil red nie en red nooit dit wat die Tuinier wil uitroei nie. ‘n Deel van Satan se straf is sekerlik die frustrasie wat hy voel om as gereedskap te dien om ‘n tuin vir God te skep. Wees dus vandag bemoedig. Satan se aanval sal jou geloof versterk, dit suiwer en dit na hoër hoogtes toe neem.
Sielskos: Sag 12-14; Mark 14:43-52; Ps 54; Spr 25:1-3