Verstaan Satan se rol (5)

2017-09-25
Lukas 22:31 NLV

Lukas skryf: ‘Simon, Simon!’ het Jesus gesê. ‘Let op, die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun’ (verse 31-32 NLV). Satan se aanval bewys dat jy ‘n belangrike rol in God se plan het. Dit is hoekom hy so hard probeer om jou te verslaan. Die waarheid is, die intensiteit en duur van sy aanval is ‘n aanduiding van jou waarde vir God, en die vlak van seën wat God vir jou aan die ander kant van die aanval beplan. As jy dus aan Christus behoort, sien die aanval as ‘n teken van respek. Onthou ook Wie in beheer is. Satan het God se toestemming nodig gehad om vir Job aan te val. Jesus het gesê, ‘…God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou’ (Matteus 28:18 NLV). Die doel van hierdie aanval is om jou van ‘n getuienis oor God se goedheid te voorsien. Jesus was gewillig dat Petrus ‘n toets moet ervaar sodat hy sy broers kon bemoedig. Miskien doen God dieselfde met jou. Hy weet dat die kerk, en die wêreld, lewende getuienenis van sy mag nodig het. Jou moeilikheid mag jou dalk voorberei om ‘n stem van bemoediging aan diegene wat swaarkry te wees. Onthou wat Josef aan sy broers gesê het: ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is…’ (Genesis 50:20 NLV). Omdat God jou liefhet en in beheer van jou lewe is, sal goeie dinge uit die moeilikheid wat jy tans ervaar, spruit.

Sielskos: 1 Kor 1-3; Mark 14:53-65; Ps 13; Spr 25:4-8