Verstaan Satan se rol (1)

2017-09-21
1 Johannes 4:4 NLV

Satan is ‘n gevalle engel wat nie tevrede daarmee was om God te prys nie, hy wou op sy troon sit. Engele, soos mense, is gemaak om God te dien en te prys. Hulle is ‘n vrye wil gegee; andersins; hoe sou hulle God kon eer en prys? Satan het egter gesê, ‘Ek klim op tot die hoogste hemele. Soos die Allerhoogste sal ek word’ (Jesaja 14:14 NLV). Hy is toe uit die hemel geskop: ‘Maar in plaas daarvan sal jy in die doderyk beland, in sy diepste dele’ (Jesaja 14:15 NLV). Satan het nie verander nie. Hy is nog steeds so selfgesentreerd en so beperk soos wat hy toe was. Selfs toe sy hart goed was, was hy aan God minderwaardig. God weet alles; engele weet net dit wat Hy openbaar. God is orals; engele kan net op een plek wees. God is almagtig; engele is net so magtig soos wat God hulle toelaat om te wees. Dus is Satan steeds onderdanig aan God. Elke keer wat hy sy saak probeer bevoordeel, bevoordeel hy God se saak. Pastoor Erwin Lutzer skryf in sy boek, The Serpent of Paradise: ‘Satan het verskillende rolle om te vertolk, wat van God se planne en doelwitte afhang. Ons moet in gedagte hou dat hy verskriklike magte het, maar wanneer ons weet dat daardie magte net onder God se diskresie uitgevoer kan word, kan ons hoop hê.’ Satan wil nie hê dat jy dit moet weet nie; hy sal jou eerder mislei om te dink dat hy ‘n onafhanklike krag met onbeperkte mag is. Hy is nie. Hy sal verkies dat jy nooit die volgende woorde lees nie: ‘…julle het hulle reeds oorwin omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon.’

Sielskos: Num 29:1-6; Matt 24; Op 11:15-19; 1 Kor 15:50-58

Weet wie jy in Christus is

2017-09-20
Jesaja 43:1 NLV

Ons hoor van mense wat na jare uit die tronk vrygelaat word vir ‘n misdaad wat hulle nie gepleeg het nie, dikwels omdat hulle verkeerdelik as die oortreder geïdentifiseer is. Om iemand te identifiseer beteken dat jy die vermoë het om hulle te herken en presies te sê wie hulle is. Satan wil hê dat jy moet identifiseer met dit wat mense sê wie jy is, versus dit wat God sê wie jy is. Tensy jy weet wie jy in God se oë is, sal Satan jou met gevoelens van veroordeling en onwaardigheid hamer. God se genade en onvoorwaardelike liefde vir jou is die enigste vaste fondasie waarop jy jou redding en selfwaarde moet baseer. Vandag sê God vir jou: “…Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep. Jy is Myne.” Jesus het homself slegs volgens God se opinie geïdentifiseer: “…Ek weet waarvandaan Ek gekom het en waarheen Ek teruggaan…” (Johannes 8:14 NLV). Mense het aaklige goed oor Jesus gesê, maar God het oor Hom gesê, “Die klip wat die bouers afgekeur het, het nou die sluitsteen geword” (Psalm 118:22 NLV). Die wete wie jy in Christus is, gee jou die selfvertroue om jou kop omhoog te hou. Jy is volmaak as gevolg van jou verhouding met Christus (sien Kolossense 2:10). God sien jou in Christus se regverdigheid geklee (sien 2 Korintiërs 5:21). Sodra jy dit aanvaar, sal jy ophou voel dat jy tekort skiet. Wanneer jy geld in die bank het en daaruit kontant wil trek, voel jy nie druk nie, omdat jy weet dat dit in ‘n rekening met jou naam daarop is. Net so, hoef jy nie vir ander mense se goedkeuring te spartel wanneer jy weet dat God jou liefhet en aanvaar nie.

Sielskos: Sag 5-8; Mark 14:12-26; Ps 34; Spr 24:29-31

Vry van mense se goedkeuring

2017-09-19
1 Tessalonisense 2:4 NLV

Daar is ‘n wêreld se verskil om vir mense se goedkeuring op te tree, en om vry te wees om aan hulle behoeftes te voldoen omdat jy weet dat jy reeds God se goedkeuring het. Die strewe na goedkeuring is soos enige ander dwelm; jy kan nooit genoeg daarvan kry nie. Net soos alle verslaafdes, word jy mal wanneer dit weerhou word. Dit laat jou aan die genade van ander mense se opinies oor en speel met jou emosies. Dis nie hoe God wil hê jy moet lewe nie! Paulus was vry om die waarheid in liefde te spreek: om mense te konfronteer of sagkens met hulle te werk. Wanneer iemand vir Paulus gesê het dat hulle nie van hom hou nie, het hy nie slapelose nagte daaroor gehad nie, omdat sy sekuriteit en selfwaarde nie op hulle aanvaarding gebou was nie. ‘Nee, ons praat omdat God ons gekeur het…’ (vers 4 NLV). Paulus het hom nie met ander mense vergelyk of sy superioriteit oor ander mense probeer bewys deur altyd in beheer te probeer wees nie. Met die wete dat hy reeds God se goedkeuring gehad het, was hy vry van sulke vrese en kon hy die lewe geniet waarvoor God hom geroep het. Wanneer ons onvolwasse is, is ons bekommerd oor wat ander mense van ons dink. Soos ons meer volwasse word, besef ons dat hulle die meeste van die tyd nie eers aan ons dink nie. Hulle is te besig om aan hulleself te dink – of om hulle te bekommer oor wat ons van hulle dink! Wanneer jy weet dat jy God se goedkeuring het, het jy die krag om kritiek en konflik te hanteer, omdat jy verseker van jou identiteit is. Jou identiteit is die volgende: Jy is verlos, geroepe en deur God goedgekeur.

Sielskos: Sag 1-4; Mark 14:1-11; Ps 39; Spr 24:26-28

Onthou om te vergeet

2017-09-18
Markus 11:25 NLV

Dit maak nie saak hoe lief twee persone mekaar het nie, daar sal altyd konflik wees waar julle genade aan mekaar moet bewys en mekaar moet vergewe. Het jy geweet dat paartjies wat gelukkig is en getroud bly dieselfde hoeveelheid rusies en konflik het as paartjies wat ongelukkig is en skei? Dis nie die afwesigheid van konflik wat ‘n huwelik in stand hou nie, maar die vermoë om die konflik te bestuur wanneer dit voorkom. Hoe bestuur mens dus konflik? Deur die tipe selfbeheersing te beoefen wat keer dat konflik uitbrei tot rusies wat seermaak en verdeel. Dit beteken ook dat jy weet hoe om gevoelens wat jou seermaak soos woede, teleurstelling en verwagtige waaraan nie voldoen is nie, te hanteer. Met ander woorde, dit beteken dat jy weet hoe om dit te vergewe en te vergeet. Emosionele seer en spanning is egter amper onmoontlik om te vergeet; hoe harder ons probeer, hoe meer onthou ons dit. Wat is dus die antwoord? Onthou om te vergeet! Probeer om soos God op te tree, wat kies om nie dit wat Hy van ons weet, teen ons te hou nie. Hy sê in sy Woord: ‘Ek, ja, Ek alleen, is die Een wat julle sondes uitwis. Ek doen dit ter wille van Myself en dink nie weer daaraan nie’ (Jesaja 43:25 NLV). Dit beteken as jy iets teen jou eggenoot hou, daar net een oplossing is: Vergewe dit en vergeet daarvan. Jy mag dalk nooit vergeet hoe jy seergemaak is nie, maar jy kan kies om dit te vergewe en aan te beweeg. Nee, dis nie maklik nie, maar jy kan dit doen. Hoe? Deur die dinge te onthou, waarvan ander mense weet of nie weet nie, waarvoor God jou vergewe het en dieselfde genade dan aan jou eggenoot te bewys.

Sielskos: 2 Tim 1-4; Mark 13:24-37; Ps 3; Spr 24:23-25

Word jy uitgedaag?

2017-09-17
1 Korintiërs 9:25 NLV

Wanneer jy geestelik uitgedaag word, groei jou geloof in God. Wanneer jy in jou denkwyses uitgedaag word, word jou ou idees uitgedaag en met nuwe idees vervang. Wanneer jy in jou verhoudings uitgedaag word, verdwyn jou selfsug en groei die liefde. Word jy tans uitgedaag? God laat ons toe om uitdagende omstandighede te ervaar om ons voor te berei vir die wedloop wat Hy ons geroep het om in die lewe te hardloop – en elke nou en dan tref jou siel ‘n muur. Geen hoeveelheid krag of druk kan die probleem beweeg nie. Dit is oefening vir die siel! Dikwels is hierdie oomblikke nie die ware toets nie, dit is net opwarming wat ons vir uitdagings in die toekoms voorberei. Hulle is verwysingspunte wat ontwerp is om ons te keer om paniekerig te raak wanneer ons in die ware wedloop is. Onthou, God laat nooit ‘n persoon toe om vir Hom te hardloop, of saam met Hom te hardloop, wat nie in hulle denke, geloof en vermoë om te lewe en lief te hê uitgedaag is nie. Wanneer jy dus ‘n probleem teëkom wat nie wil beweeg nie, onthou om diep asem te haal en jouself daaraan te herinner dat God jou uitdaag. Dis die uitdaging van die siel wat dit vir ons moontlik maak om situasies en tye te hanteer waar dit voel of ons dit nie gaan maak nie. Vroeër of later sal ons almal moeilike tye en verhoudings teëkom, maar dit is net strekoefeninge van die lewe. As dit dus voel dat jy tot breekpunt gestrek word, moenie tou opgooi nie. Sien dit vir wat dit is – voorbereiding vir die wedloop in die lewe wat God vir jou gekies het.

Sielskos: 2 Kon 6:8-20; Ef 1:15-23

Word ‘n goeie denker

2017-09-16
Spreuke 4:23 DB

Jy kan met oefening ‘n goeie denker word. 1) Goeie denkers tref voorsorg. ‘Getroue werk lewer wins op…’ (Spreuke 21:5 NLV). Wanneer jy getrou werk, struikel jy nie toevallig oor sukses en vind later uit hoe dit werk nie. Of jy nou in die bediening of in die sakewêreld staan, jou vlak van sukses sal dramaties verhoog as jy ‘n hoë waarde op goeie denkwyses plaas. Die skrywer Victor Hugo het gesê, ”n Klein man bestaan uit klein denke.’ Mense wat nie goeie denkwyses beoefen nie, vind hulself dikwels waar hulle aan die genade van hulle omstandighede oorgelaat is – of aan ander mense se denke. Omdat hulle nie in staat is om probleme op te los nie, kom hulle telkens dieselfde struikelblokke teë. Omdat hulle nie vooruit dink nie, is hulle gewoonlik net besig om op hulle omstandighede te reageer. Daar is ‘n ou Duitse spreekwoord wat lui: ‘Eerder ‘n leë beursie as ‘n leë kop.’ Goeie denkers kom hulle moeilikhede te bowe, insluitend ‘n tekort aan hulpbronne wat dikwels slegte denkers se sukses kelder. In sy boek, As a Man Thinketh, skryf James Allen, ‘Alles wat ‘n man bereik of nie bereik nie, is ‘n direkte resultaat van sy denke.’ Glo jy dit? As jy doen, sal jy ‘n hoë waarde op goeie denkwyses plaas en dit ‘n prioriteit in jou lewe maak. 2) Goeie denkers kyk vir die beste uit, nie die slegste nie. Hulle lewe volgense hierdie Skriftuurlike beginsel: ‘Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is…’ (Filippense 4:8 DB).

Sielskos: Miga 5-7; Mark 13:12-23; Ps 19; Spr 24:19-22