Jy is deur die bloed van Jesus verlos

2017-09-15
1 Johannes 1:7 NLV

Om kerk toe te gaan en jou beste te doen gaan jou nie in die hemel kry nie. Hier is die getuienis van diegene wat reeds in die hemel is: ‘…Aan Hom wat ons steeds liefhet en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het, en ons sy koninkryksmense gemaak het, priesters vir God, sy Vader, behoort die heerlikheid en die krag vir ewig en altyd…’ (Openbaring 1:5-6 NLV). Daar is ‘n interessante storie oor ‘n gebreekte tou wat by die Matterhorn Museum in Zermatt, Switzerland, uitgestal word. ‘n Paar rotsklimmers wat die Matterhorn uitgeklim het, het die tou gebruik om hulle aan mekaar vas te bind toe hulle weer by die berg afkom. Een klimmer het egter gegly en drie ander saam met hom by ‘n afgrond afgetrek. Die ander spanlede het hulle gestaal vir die pluk aan die tou, maar tot almal se afgryse het die tou gebreek en het die spanlede tot hul dood geval. Niemand weet hoekom ‘n ondergeskikte tou gebruik is nie. Hulle weet egter dat dit nie ‘n regte Alpynse tou, wat ‘n waarborg het en wat deur ‘n rooi string wat deur die tou gevleg word, gekenmerk word, was nie. Van Genesis tot Openbaring het die Bybel ‘n rooi string wat daardeur vleg, wat jou enigste redding, verteenwoordig – nl. die bloed van Jesus. Deur op Christus se voltooide werk te vertrou, word jy deur God aanvaar en sal die deure van die hemel eendag vir jou oopgaan, waar jy vir ewig saam met Hom sal lewe. Dit is alles op hierdie waarheid gebaseer: ‘…die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van alle sonde.’ Niks meer word vereis nie en niks minder sal jou deur daardie deur kry nie.

Sielskos: Miga 1-4; Mark 13:1-11; Ps 24; Spr 24:15-18

Mans en vrouens (6)

2017-09-14
Psalm 128:3 NLV

Die Psalmdigter skryf: ‘Geseënd is hulle wat die Here dien, wat wandel op sy weë. Jy sal die vrug van jou arbeid geniet en gelukkig en voorspoedig wees. In jou woning sal jou vrou wees soos ‘n vrugbare wingerdstok. Jou seuns sal wees soos jong olyfbome rondom jou tafel. So seën die Here die mens wat Hom dien’ (verse 1-4 NLV). Wingerdstokke hoef nie aangemoedig te word om te groei wanneer daar ‘n gunstige klimaat is nie. Hulle sal druiwe in oorvloed produseer, waarvan wyn gemaak kan word. In die Bybel word wyn met vreugde en feesviering geassosieer. Dis dieselfde in jou huis. As ‘n man, hou God jou verantwoordelik daarvoor om ‘n klimaat te skep waarin jou familie seën en voorspoed kan ervaar. Dit beteken dat jy genoeg tyd by die huis moet spandeer om die ideale temperatuur te skep en te onderhou. Wanneer jy selde tuis is, kan jy dit nie doen nie, omdat jou afwesigheid jou vrou frusteer en haar selfwaarde en selfvertroue laat verminder. Wanneer sy tweede plek na jou beroep, sportaktiwiteite en jou vriende – om nie eers van jou televisiekyk gewoontes te praat nie – inneem, sal jy nooit ‘n wonderlike verhouding met haar bou nie. Om te weet wat jou vrou se behoeftes is, moet jy kwaliteit tyd met haar spandeer. As jy haar ware potensiaal wil ontdek en wil weet wat se wonderlike persoon sy is, moet jy die regte klimaat in jou huis skep. Een vrou het gegrap, ‘Ek het nooit geweet wat ware geluk was totdat ek met my man getrou het nie – en nou is dit te laat!’ Dit hoef nie jou verhaal te wees nie. Jy kan ‘n klimaat skep waarin beide van julle kan groei en die lewe kan geniet.

Sielskos: Neh 11-13; Mark 12:28-44; Ps 78:65-72; Spr 24:10-14

Mans en vrouens (5)

2017-09-13
1 Petrus 3:7 NLV

Jy moet jou vrou leer ken en haar behoeftes respekteer. Toe God die vrou gemaak het, het Hy haar gemaak om ‘n ontvanger en respondent te wees. Hy het haar ‘n bietjie sagter, ‘n bietjie warmer, en ‘n bietjie meer emosioneel gemaak om sodoende op jou te reageer. Sy gee wanneer sy ontvang. Wanneer ‘n vrou waarlik geliefd en beskerm voel, hoef jy nie bekommerd te wees dat sy haar verantwoordelikhede in die huis sal nakom nie. Jy hoef nie bekommerd te wees of julle ‘n aktiewe, intieme fisiese verhouding sal hê nie. Sy sal daar wees en op jou behoeftes reageer. Dit beteken egter dat jy jou vrou en familie eerste moet stel. Soms beteken dit dat jy moet sê, ‘Jammer ouens, ek kan nie vanaand saam met julle uitgaan nie, want ek vat my vrou uit op ‘n afspraak.’ Wanneer jy so ‘n tipe man is, sal jy die reaksie kry waarna jy soek, sonder om dit te moet eis. Wees egter voorbereid, daar mag dalk kwessies onder die oppervlak wees waaraan julle eers moet aandag gee voordat julle as ‘n paartjie vorentoe kan beweeg. As dit die geval is, wees nederig genoeg om te sê, ‘Ek is jammer dat ek jou gefaal het. Ek was nie lief vir jou soos ek veronderstel was om te wees nie en ek weet dit het ons verhouding geaffekteer. Ek het jou nie die tyd en aandag gegee wat jy verdien nie. Van vandag af gaan ek egter verander. Met God se hulp gaan ek jou probeer liefhê soos jy verdien om liefgehê te word.’ Meneer, jou vrou mag dalk flou val wanneer sy dit hoor, maar as jy vasbyt, kan jy die huwelik hê waarvan jy altyd gedroom het.

Sielskos: Neh 8-10; Mark 12:13-27; Ps 78:56-64; Spr 24:5-9

Mans en vrouens (4)

2017-09-12
1 Korintiërs 15:22 NLV

Die Bybel sê, ‘Almal van ons sterf omdat ons almal aan Adam, die eerste mens, verbonde is…’ Hoekom Adam? Hy was geroep om die hoof van die eerste familie te wees en was dus verantwoordelik vir wat in die huishouding gebeur. As mense, is mans en vrouens gelyk onder God. In die huwelik het elkeen egter ‘n ander rol. Wat in die eerste huishouding gebeur het was die resultaat van twee mense wat onafhanklik van God wou lewe. Dit is hoe baie verhoudings vandag funksioneer. Een of beide van die paartjie kies om hulle lewens apart van God se reëls en outoriteit te lewe. Dit word deur die 50 persent egskeidingsyfer wat ons deesdae ervaar, weerspieël. Hierdie syfer neem nie eens in ag baie mense wat getroud bly, maar wat nie gelukkig is nie en sê dat hulle nie weer met hul eggenoot sou trou nie. Konflik ontstaan wanneer jy en jou eggenoot verskillende leerstyle, persoonlikhede en agtergronde het. Een eggenoot mag dalk sê, ‘My pa het my só geleer,’ of ‘My ma het dinge só gedoen.’ Ons almal het ons eie idee van wat reg en verkeerd in ‘n huwelik is. Die probleem is egter dat jy jou hele lewe kan spandeer om oor opinies te argumenteer en nooit êrens kom nie. As volgelinge van Christus is ons egter geroep om ons lewens en huwelike op Bybelse beginsels te bou. Adam se werk was om God se sienswyse oor sake rakende die lewe en familie te kry en dit dan met die ander lede van sy familie te deel. Hoe? Deur ‘n liefdevolle man te wees en goddelike leierskap te openbaar. Wanneer ‘n huis op hierdie manier funksioneer, sal God se seën teenwoordig wees.

Sielskos: Neh 5-7; Mark 12:1-12; Ps 78:40-55; Spr 24:1-4

Mans en vrouens (3)

2017-09-11
Eksodus 34:23 NLV

God het gesê, ‘Drie keer elke jaar moet al die mans voor die oppermagtige Here, die God van Israel, kom aanbid. Niemand sal julle aanval of julle land probeer afneem terwyl julle van die huis af weg is om die Here te gaan aanbid nie. Ek sal al die nasies voor jou uit verdryf. Ek sal jou grond al meer maak (verse 23-24 NLV). Drie keer ‘n jaar moes die manne van Israel op ‘n geestelike wegbreek gaan om God se leiding te soek. God het ook belowe om hulle families en besittings te beskerm terwyl hulle weg was en selfs om hulle grond te vermeerder. As jy dus ‘n man is wat wil hê dat God jou familie moet beskerm en jou pogings moet seën, moet jy tyd maak om jou denke, aksies en besluite aan sy leierskap te onderwerp. Die beste ding wat jy kan doen om ‘n leier in jou huis te wees en ‘n goeie huwelik te bou is om te vra, ‘Wat is Christus se denke oor hierdie saak’ (sien 1 Korintiërs 2:16). Sodra jy dit gedoen het, sal jy jou vrou se volle aandag en samewerking hê. Dit mag dalk tyd neem vir jou vrou om jou leierskap te vertrou en jou denkwyse te respekteer, maar soos sy sien hoe jy saam met Christus stap en sy beginsels beoefen, sal sy jou begin vertrou en veilig voel. Wanneer ‘n vrou vir haar man sê, ‘Ek wil hê jy moet my vashou,’ praat sy nie noodwendig van fisiese intimiteit nie. Sy praat van haar Godgegewe behoefte aan sekuriteit. Sy het ‘n man nodig wat sy kan liefhê en vertrou. God het jou so ‘n man gemaak.

Sielskos: Neh 1-4; Mark 11:27-33; Ps 78:32-39; Spr 23:29-35

Mans en vrouens (2)

2017-09-10
1 Korintiërs 11:3 NLV

Paulus skryf, ‘Ek wil egter hê dat julle moet weet dat Christus hoof is oor elke man, dat die man hoof is oor sy vrou en dat God hoof is oor Christus.’ Daar is ‘n orde aan hoe God dinge doen. Net soos Christus aan God onderdanig was, so is mans veronderstel om aan Christus onderdanig te wees en vrouens is veronderstel om aan hul godvresende mans onderdanig te wees. Let wel, die man is die hoof oor sy vrou, nie oor alle vrouens nie. Hierdie reëling geld dus nie in die werkplek of in ander verhoudings nie. Wanneer ons nie God se struktuur eer nie, kan Satan ons huise binnedring, net soos hy die eerste huis in Eden binnegedring het. ‘Onderdanigheid’ is deesdae ‘n onpopulêre woord. Wanneer ons dit egter vanuit ‘n Bybelse perspektief verstaan, sien ons dat dit ‘n positiewe krag is om die goeie te bereik, nie die negatiewe krag wat vrouens tot ‘n mindere status verlaag nie. Die Griekse woord vir onderdanigheid, hupotasso, beteken om jou self gewillig onder die outoriteit van ‘n ander te plaas. Dwang is nie daarby betrokke nie, maar eerder ‘n gewilligheid om dit wat God jou gemaak het om te wees, te neem en aan die outoriteit van iemand anders te onderwerp. In die man se geval aan God, en in die vrou se geval aan God en haar man. Paulus skryf, ‘Getroude mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het’ (Efesiërs 5:25 NLV). Wanneer ‘n man sy vrou so liefhet en homself aan haar gee, sal sy met liefde haarself aan sy leierskap in die huis onderwerp. Dit is haar man se liefde en beskerming wat haar vry maak om haar Godgegewe potensiaal te vervul.

Sielskos: Dan 6:1-24; Hand 12:1-19