Mans en vrouens (2)

2017-09-10
1 Korintiërs 11:3 NLV

Paulus skryf, ‘Ek wil egter hê dat julle moet weet dat Christus hoof is oor elke man, dat die man hoof is oor sy vrou en dat God hoof is oor Christus.’ Daar is ‘n orde aan hoe God dinge doen. Net soos Christus aan God onderdanig was, so is mans veronderstel om aan Christus onderdanig te wees en vrouens is veronderstel om aan hul godvresende mans onderdanig te wees. Let wel, die man is die hoof oor sy vrou, nie oor alle vrouens nie. Hierdie reëling geld dus nie in die werkplek of in ander verhoudings nie. Wanneer ons nie God se struktuur eer nie, kan Satan ons huise binnedring, net soos hy die eerste huis in Eden binnegedring het. ‘Onderdanigheid’ is deesdae ‘n onpopulêre woord. Wanneer ons dit egter vanuit ‘n Bybelse perspektief verstaan, sien ons dat dit ‘n positiewe krag is om die goeie te bereik, nie die negatiewe krag wat vrouens tot ‘n mindere status verlaag nie. Die Griekse woord vir onderdanigheid, hupotasso, beteken om jou self gewillig onder die outoriteit van ‘n ander te plaas. Dwang is nie daarby betrokke nie, maar eerder ‘n gewilligheid om dit wat God jou gemaak het om te wees, te neem en aan die outoriteit van iemand anders te onderwerp. In die man se geval aan God, en in die vrou se geval aan God en haar man. Paulus skryf, ‘Getroude mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het’ (Efesiërs 5:25 NLV). Wanneer ‘n man sy vrou so liefhet en homself aan haar gee, sal sy met liefde haarself aan sy leierskap in die huis onderwerp. Dit is haar man se liefde en beskerming wat haar vry maak om haar Godgegewe potensiaal te vervul.

Sielskos: Dan 6:1-24; Hand 12:1-19