2017-09-09
Genesis 3:6 NLV
In Genesis, voor God vir Eva geskep het, het Hy vir Adam gewaarsku om nie van die verbode vrugte te eet nie. Dit was Adam se verantwoordelikheid om die waarskuwing aan sy vrou te kommunikeer. Duidelik het hy nie ‘n goeie werk daarvan gemaak nie. Hy het gevolglik sy werk verloor en hulle het hulle tuiste verloor. Let op, die Duiwel het eerste vir Eva met die idee om ongehoorsaam aan God te wees, genader. Waar was Adam terwyl Eva besig was om bedrieg te word? Hy was by haar. Hier is dus ‘n belangrike les te leer: Wanneer ‘n man nie na God luister en aan Hom gehoorsaam is nie, kan hy nie die leier wees wat sy vrou en familie nodig het nie. Terwyl Satan besig was om vir Eva te bedrieg, het Adam stil by hulle gestaan, in plaas van om te sê, ‘Dis nie reg nie. As ons nie die pad volg wat God vir ons uitgelê het nie, sal ons alles verloor.’ Die kwessie gaan nie oor wie is baas in die huwelik nie; dit gaan daaroor om die struktuur wat God geskep het te eer sodat almal in die familie in Sy seën kan wandel. Die Bybel sê dat Satan gekom het om ‘…te steel, dood te maak en te vernietig…’ (Johannes 10:10 NLV). Wanneer ‘n man werklik aan Christus onderdanig is, kan hy egter sy familie beskerm. As jy die man is, is dit tyd vir jou om op te staan en te doen wat reg is. As jy die vrou is, moet jy jou man aanmoedig om saam met God te stap, en hom laat weet dat dit ‘n eer en ‘n voorreg is om so ‘n man te volg.
Sielskos: Kol 3-4; Filem; Mark 11:12-26; Ps 78:17-31; Spr 23:26-28
2017-09-08
Efesiërs 1:11 NLV
Die Bybel sê, ‘Die Here… sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). Soms bid ons vir ‘n sekere ding met die geloof dat dit goed is vir ons. God, wat ‘n plan vir jou lewe het, weet egter wat ‘goed’ is en wat nie sal wees nie. Billy Graham se vrou, Ruth, het gesê as God al haar gebede beantwoord het toe sy jonk was, sou sy met die verkeerde man getrou het – verskeie kere. Twee traandruppels het by die rivier van die lewe afgedryf. Een het vir die ander gevra, ‘Wie is jy?’ Die tweede het geantwoord, ‘Ek is die traandruppel van die meisie wat lief was vir ‘n man en hom verloor het. Wie is jy?’ Die eerste traandruppel het geantwoord, ‘Ek is die traandruppel van die meisie wat hom gekry het.’ Ons huil oor dinge wat ons nie het nie en besef nie dat ons dalk harder sou huil as God dit vir ons gegee het nie. Om in geloof te wandel beteken dat ons die plan wat God reeds vir ons uitgewerk het, vertrou. Paulus het gesê, ‘…Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom’ (Filippense 4:11 NLV). Paulus se tevredenheid het nie uit sy omstandighede gespruit nie, inteendeel, hy het amper sewe jaar van sy bediening in die tronk deurgebring. Nee, sy tevredenheid het gespruit uit die wete dat God ‘…alles laat uitwerk soos Hy dit beplan en wou gehad het.’ Beteken dit dat Paulus elke detail van God se plan verstaan het? Nee, maar wanneer hy nie die plan verstaan het nie, het hy die Beplanner daarvan vertrou! Dit is waar Paulus se vrede, vreugde en tevredenheid vandaan gekom het. Joune moet ook.
Sielskos: Kol 1-2; Mark 11:1-11; Ps 78:9-16; Spr 23:22-25
2017-09-07
Handelinge 2:6 NLV
Op die dag wat die kerk ontstaan het, lees ons: ‘Almal [die apostels] is toe met die Heilige Gees vervul en soos die Gees vir hulle die vermoë gegee het, het hulle in ander tale begin praat. Daar het toegewyde Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon… Hulle was uit die veld geslaan omdat elkeen die gelowiges in hulle eie taal hoor praat het… ‘Hoe is dit moontlik?’ het hulle uitgeroep. Almal wat hier praat, is Galileërs, en tog hoor ons hulle die tale van ons geboortelande praat!’… Hulle was almal uit die veld geslaan. ‘Wat kan dit tog beteken?’ (verse 4-8, 12 NLV). Die vraag ‘Wat kan dit tog beteken?’ dui daarop dat God alle tipes mense liefhet en gebruik – motorfietsryers en akademici, enkelma’s en beroepsvroue, werkloses en direkteure. Dit sê ook vir ons dat wanneer ons met die Heilige Gees gevul is, Hy ons elkeen toerus om ‘n spesifieke tipe persoon te bereik. Dus: 1) Wie vind jy maklik om mee te praat? Tieners? Dwelmverslaafdes? Bejaardes? Jy mag dalk sukkel om met kinders te praat, maar welsprekend in die geselskap van sakemanne wees. Dis nie ‘n probleem nie, dis hoe God jou ontwerp het. 2) Teenoor wie voel jy die meeste deernis? God gee nie vir ons almal dieselfde geaardheid nie. ‘Omdat Hy hulle harte gemaak het, verstaan Hy alles wat hulle doen’ (Psalm 33:15 NLV). Wat breek jou hart en laat jou pols jaag? Wanneer jy mense sien wat op straat bly, of slagoffers van mensehandel? Mense wat rou of geskei is? Paulus sê, ‘In al ons swaarkry bemoedig Hy ons… sodat ons ook in staat sal wees om mense in al hulle swaarkry by te staan…’ (2 Korintiërs 1:4 NLV). Ontdek dus na wie jy geroepe is om uit te reik.
Sielskos: Jos 22-24; Mark 10:35-52; Ps 78:1-8; Spr 23:19-21
2017-09-06
Spreuke 12:15 NLV
Wanneer jy ‘nie weet wat jy nie weet nie’, kan jy foute maak. Jy mag dalk baie weet, maar jy weet nie alles nie. Jy moet dus altyd gewillig wees om goeie insette te ontvang. Professionele gholfspelers speel met ‘n gholfjoggie. Die joggie dra nie net die gholfstokke rond nie; hy of sy is ook daar vir ondersteuning en om waardevolle raad te gee. Tommy Bolt was een van die grootste gholfspelers van alle tye. Hy het egter ‘n vreeslike humeur gehad. Een jaar toe hy in ‘n toernooi in California speel, was hy steeds in ‘n slegte bui oor ‘n slegte rondte wat hy die vorige dag gespeel het. Hy het toe vir sy joggie gesê om net ‘Ja, meneer Bolt,’ of ‘Nee, meneer Bolt,’ te antwoord wanneer hy hom ‘n vraag vra. Andersins moes die joggie stilbly. Met Bolt se eerste afslaan het dit gelyk of die bal agter ‘n boom tot rus gekom het. Toe hy by die bal kom, het hy vir sy joggie gevra, ‘Dink jy ek moet die vyfyster gebruik? ‘Nee, meneer Bolt,’ het die joggie sy bevele gehoorsaam. Bolt het egter die vyfyster uitgehaal en ‘n ongelooflike hou gespeel waar die bal ‘n paar tree van die putjie af tot stilstand gekom het. Hy het na sy joggie toe gedraai en trots gevra, ‘Wat dink jy van daardie hou?’ Soos die joggie die gholfsak opgetel en begin aanstap , het hy eenvoudig gesê, ‘Baie goed, maar daardie was nie jou bal nie, meneer Bolt.’ As jy nie foute wil maak waaroor jy later spyt gaan wees nie, moet jy gewillig wees om raad te ontvang – en dit te volg. Die Bybel sê, ‘Vir ‘n dwaas is net sy eie pad die regte een. Iemand wat wys is, luister na ander se raad.’
Sielskos: Jos 19:24-21:45; Mark 10:23-34; Ps 27; Spr 23:16-18
2017-09-05
Jesaja 44:3 NLV
Ouer, hier is ‘n Bybelse belofte waarop jy kan staan: ‘Ek sal my Gees op jou kinders uitstort, en my seëninge op jou nakomelinge.’ Jou kinders moet kan aangaan waar jy ophou! Hulle moet jou nie net opvolg nie, maar die fondasie gebruik wat jy gelê het en iets groters bou. Moenie die gemak van die status quo as ‘n verskoning gebruik om nie ou denkwyses uit te daag nie. Om verby die grense van jou denke te beweeg, moet jy ophou om dinge soos: ‘Dis maar net soos ek is,’ of ‘My familie het nooit iets bereik nie, ek sal dus ook nie,’ te sê. Wanneer jy dit sê, weerspreek jy God! Toe God die Israeliete uit slawerny gered het, het hulle na die Beloofde Land begin reis. Hulle reis was veronderstel om net elf dae te neem, maar het op die ou einde veertig jaar geneem. Wat het gebeur? Hulle het aanhoudend gekla en as ‘n resultaat oor en oor om dieselfde berg beweeg. Hoekom? Omdat hulle vir vierhonderd jaar slawe was en nog steeds soos slawe gedink en gepraat het! Hulle kon nie dit wat God aan hulle beloof het, begryp nie. Uiteindelik het Hy vir hulle gesê, ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly. Gaan nou en neem die land wat Ek aan julle nageslag beloof het, in’ (sien Deuteronomium 2:3). As jou verlede een van mislukking is, trek vandag ‘n streep in die sand en verklaar, ‘Genoeg is genoeg. Ek gaan op God vir groter en beter dinge vertrou!’ Dit is in sulke oomblikke wat lewens verander word. Die besluite wat jy vandag maak affekteer nie net jou nie, maar ook jou kinders – vra God dus om jou te help om die regte besluite te neem.
Sielskos: Jos 16:1-19:23; Mark 10:13-22; Ps 112; Spr 23:13-15
2017-09-04
Genesis 37:19-20 NLV
Hoe het Josef se broers gereageer toe hy groot drome gedroom het? ‘Kom ons maak hom dood.’ Soms sal die mense naaste aan jou die meeste deur jou drome gegrief wees, maar jy kan dit steeds met God se hulp vervul. Andrés Segovia is in die suide van Spanje gebore en het die kitaar as jong kind begin bespeel. In daardie dae het ernstige komponiste en musikante nie die kitaar as ‘n ware musiekinstrument gerespekteer nie. Segovia het egter die potensiaal van klassieke musiek op ‘n kitaar ingesien. Hy het begin om die tegnieke wat klassieke musikante vir die tjello en die viool gebruik, te bestudeer. Toe het hy daardie tegnieke in sy kitaarspel ingespan en ‘n paar metodes van sy eie ontwerp. Hy het die komposisies van meesters soos Bach aangepas en geleer om dit op sy kitaar te speel. In 1909 het Sergovia sy debuut op sestienjarige ouderdom gemaak. In 1919 het hy die wêreld vol gereis en die klassieke musiekgemeenskap op horings geneem. Vir die eerste keer het komponiste begin om klassieke musiek vir die kitaar te skryf en ‘n nuwe musikale genre is gebore. Oor die tydperk van tagtig jaar het Sergovia mense se persepsie van die kitaar verander. Soos baie groot drome, het sy droom ‘n impak ver bo sy verwagtinge gemaak. As jy vandag die musiek van die Beatles of Eric Clapton geniet, moet jy Andrés Sergovia daarvoor bedank. As dit nie vir sy droom was nie, kon die musiek van die twintigste eeu ‘n heel ander rigting ingeslaan het. Wanneer jy jou droom najaag, kan jy wêrelde versit.
Sielskos: Jos 14-15; Mark 10:1-12; Ps 20; Spr 23:10-12