God het ‘n plan – vertrou Hom
2017-09-08Efesiërs 1:11 NLV
Die Bybel sê, ‘Die Here… sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). Soms bid ons vir ‘n sekere ding met die geloof dat dit goed is vir ons. God, wat ‘n plan vir jou lewe het, weet egter wat ‘goed’ is en wat nie sal wees nie. Billy Graham se vrou, Ruth, het gesê as God al haar gebede beantwoord het toe sy jonk was, sou sy met die verkeerde man getrou het – verskeie kere. Twee traandruppels het by die rivier van die lewe afgedryf. Een het vir die ander gevra, ‘Wie is jy?’ Die tweede het geantwoord, ‘Ek is die traandruppel van die meisie wat lief was vir ‘n man en hom verloor het. Wie is jy?’ Die eerste traandruppel het geantwoord, ‘Ek is die traandruppel van die meisie wat hom gekry het.’ Ons huil oor dinge wat ons nie het nie en besef nie dat ons dalk harder sou huil as God dit vir ons gegee het nie. Om in geloof te wandel beteken dat ons die plan wat God reeds vir ons uitgewerk het, vertrou. Paulus het gesê, ‘…Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom’ (Filippense 4:11 NLV). Paulus se tevredenheid het nie uit sy omstandighede gespruit nie, inteendeel, hy het amper sewe jaar van sy bediening in die tronk deurgebring. Nee, sy tevredenheid het gespruit uit die wete dat God ‘…alles laat uitwerk soos Hy dit beplan en wou gehad het.’ Beteken dit dat Paulus elke detail van God se plan verstaan het? Nee, maar wanneer hy nie die plan verstaan het nie, het hy die Beplanner daarvan vertrou! Dit is waar Paulus se vrede, vreugde en tevredenheid vandaan gekom het. Joune moet ook.
Sielskos: Kol 1-2; Mark 11:1-11; Ps 78:9-16; Spr 23:22-25