Jaag jou droom na (2)
2017-09-04Genesis 37:19-20 NLV
Hoe het Josef se broers gereageer toe hy groot drome gedroom het? ‘Kom ons maak hom dood.’ Soms sal die mense naaste aan jou die meeste deur jou drome gegrief wees, maar jy kan dit steeds met God se hulp vervul. Andrés Segovia is in die suide van Spanje gebore en het die kitaar as jong kind begin bespeel. In daardie dae het ernstige komponiste en musikante nie die kitaar as ‘n ware musiekinstrument gerespekteer nie. Segovia het egter die potensiaal van klassieke musiek op ‘n kitaar ingesien. Hy het begin om die tegnieke wat klassieke musikante vir die tjello en die viool gebruik, te bestudeer. Toe het hy daardie tegnieke in sy kitaarspel ingespan en ‘n paar metodes van sy eie ontwerp. Hy het die komposisies van meesters soos Bach aangepas en geleer om dit op sy kitaar te speel. In 1909 het Sergovia sy debuut op sestienjarige ouderdom gemaak. In 1919 het hy die wêreld vol gereis en die klassieke musiekgemeenskap op horings geneem. Vir die eerste keer het komponiste begin om klassieke musiek vir die kitaar te skryf en ‘n nuwe musikale genre is gebore. Oor die tydperk van tagtig jaar het Sergovia mense se persepsie van die kitaar verander. Soos baie groot drome, het sy droom ‘n impak ver bo sy verwagtinge gemaak. As jy vandag die musiek van die Beatles of Eric Clapton geniet, moet jy Andrés Sergovia daarvoor bedank. As dit nie vir sy droom was nie, kon die musiek van die twintigste eeu ‘n heel ander rigting ingeslaan het. Wanneer jy jou droom najaag, kan jy wêrelde versit.
Sielskos: Jos 14-15; Mark 10:1-12; Ps 20; Spr 23:10-12