Jaag jou droom na (1)

2017-09-03
Josua 1:9 NLV

Toe dit tyd word vir Josua om Moses se plek in te neem, het God vir hom gesê, ‘My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die Here jou God is saam met jou in alles wat jy doen.’ Vandag sê God dieselfde vir jou. Hy wil hê dat jy die droom wat Hy in jou hart geplaas het, moet najaag! Alfred D. Souza het geskryf: ‘Vir ‘n lang tydperk het dit vir my gevoel dat die lewe op die punt is om te begin – die regte lewe. Daar was egter altyd een of ander struikelblok in die pad, iets wat eers afgehandel moes word, tyd wat daaraan bestee moes word en ‘n skuld wat eers betaal moes word. Dan kon die lewe begin. Uiteindelik het ek tot die besef gekom dat hierdie struikelblokke die regte lewe is.’ Wanneer jy struikelblokke teëkom, ontdek jy dinge omtrent jouself waarvan jy nooit geweet het nie. Jy ontdek die diepte van jou geloof in God – en in jouself. Struikelblokke help slegs om jou posisie te versterk, nie om jou droom te vernietig nie. Wanneer jy op jou lewe terugkyk, sal jy meer jammer wees oor die dinge wat jy nie gedoen het nie, as die dinge wat jy wel gedoen het. Wanneer jou droom dus onmoontlik lyk, vertrou op God en tree op asof dit onmoontlik is om te misluk. Hoekom? Omdat, ‘…Alles… by God moontlik [is]!’ (Markus 10:27 NLV). Dit beteken dat jy die vlag moet saamneem wanneer jy Everest wil uitklim. Moenie na mense luister wat sê, ‘Dit kan nie so gedoen word nie.’ Ignoreer dit wat mense sê nie gedoen kan word nie en fokus op dit wat God sê gedoen kan word.

Sielskos: Gen 11:1-9; Fil 2:1-11; Ps 133

God se onverdiende goedheid aan jou

2017-09-02
2 Samuel 9:7 NLV

In die Bybelse tyd, wanneer ‘n nuwe koning die troon bestyg, het hy gewoonlik elke lid van die ou koning se familie doodgemaak of verban. Jonatan, koning Saul se seun en Dawid, vir wie Saul gehaat het, was groot vriende. Hulle het ‘n belofte aan mekaar gemaak om mekaar met hul lewens te beskerm. Nadat Jonatan en Saul in ‘n veldslag dood is, het Jonatan een oorlewende seun, Mefiboset, gehad. Dawid het vir Mefiboset na die paleis laat bring en vir hom gesê, ‘…Moenie bang wees nie! Ek sal aan jou goeddoen ter wille van jou pa, Jonatan. Ek gee al die grond wat voorheen aan jou oupa Saul behoort het aan jou terug. Maar jy sal van nou af hier in my paleis eet.’ Mefiboset het in Lo-Dabar gewoon, wat ‘n baie arm gebied was. Dis beduidend, want wanneer jou selfwaarde baie laag is, word dit gewoonlik in jou omstandighede gereflekteer. Jy gee of heeltemal op, of strewe daarna om perfek te wees. Jy hoef egter nie een van die twee te doen nie. Die Bybel sê dat God ons vergewe het op grond van wat Christus gedoen het (sien Efesiërs 4:32). God se aanvaarding van jou is nie gebaseer op wie jy is nie, maar op Wie s’n jy is! Mefiboset was kreupel in beide voete en kon nie behoorlik loop nie. Geestelik gesproke, kan jy ook nie behoorlik loop nie! ‘Mefiboset self het egter in Jerusalem gebly omdat hy in die paleis geëet het…’ (2 Samuel 9:13 NLV). Sy voete kon nie gesien word nie, omdat hulle onder die koning se tafel was. God doen dieselfde vir jou! Dit beteken dat jy altyd aanvaarbaar in sy oë is – insluitend hierdie oomblik.

Sielskos: Jos 11-13; Mark 9:38-50; Ps 142; Spr 23:7-9

Hoe om ‘n toets te oorkom

2017-09-01
Jakobus 1:4 NLV

Jakobus skryf: ‘…wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees. Julle weet mos: Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard. Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie. Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie… Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag… word. So iemand kan mos nie dink dat jy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (verse 2-8 NLV). Let drie dinge oor hierdie Skrifgedeelte op: 1) Jou geloof groei wanneer dit getoets word. Jy sal nooit die krag van jou anker ken totdat jy deur die storm oorval word nie. 2) God sal vir jou wysheid gee om die toets te hanteer. Hy sal nie noodwendig al jou ‘hoekoms’ beantwoord nie. In plaas van om Hom te bevraagteken, bid eerder, ‘Here, hoe wil U hierdie toets gebruik om my te help om geestelik te ontwikkel? Hoe kan ek saam met U werk om die maksimum voordeel hieruit te trek? Watter veranderinge wil U hê moet ek in my lewe maak?’ 3) Jy moet gewillig wees om gehoorsaam te wees. Dis moontlik om God vir wysheid te vra en dan daaroor te debatteer, te wag of ander dinge te doen terwyl jy besluit of jy gehoorsaam gaan wees. Wanneer God jou sy wysheid gee, moet jou eerste reaksie ‘…Ja Here, u dienaar luister’ (1 Samuel 3:10 NLV), wees.

Sielskos: Jos 8:30-10:43; Mark 9:30-37; Ps 111; Spr 23:4-6

Het iemand jou seergemaak? Vergewe hulle

2017-08-31
Spreuke 24:17 NLV

Jy sal in die lewe vyande sowel as vriende maak. Dit kan nie vermy word nie. Die kwessie is egter nie of jy vyande gaan maak nie, maar hoe jy hulle gaan behandel. Ons vriende bring die beste in ons na vore, maar vyande bring verseker die slegste na vore! As jy egter ‘n volgeling van Christus is, is daar drie dinge wat jy nie kan doen nie: wrokkig wees, wraak neem of jouself daarin verbly wanneer jou vyande struikel. Die Bybel sê, ‘Jy moenie bly wees as jou vyand struikel nie. Moenie jou daarin verheug dat hy geval het nie. Die Here sal sien wat jy doen en sal ontevrede wees. Hy sal jou vyand nie verder straf nie. Moenie jou ontstel oor kwaaddoeners nie. Moenie afgunstig wees op goddelose mense nie. Vir iemand wat kwaad doen, is daar geen toekoms nie. Die lewenslig van goddeloses gaan dood’ (verse 17-20 NLV). Moenie toelaat dat bitterheid en wrokkigheid jou vernietig nie. Dis beter om nou jou medisyne te drink as om later daaroor opstandig te raak. Moet nooit iets slegs vir jou vyande toewens nie, laat wraak aan God oor. Jy mag dalk weet wat die persoon aan jou gedoen het, maar net God weet hoekom hulle dit gedoen het. Paulus het die saak ferm aangespreek toe hy gesê het: “Moenie vir enigiemand kwaad met kwaad terugbetaal nie; wees positief teenoor alle mense. Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense. Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif: ‘Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here'” (Romeine 12:17-19 NLV). Is jy al deur mense seergemaak? Vergewe hulle!

Sielskos: Jos 5:1-8:29; Mark 9:14-29; Ps 103:13-22; Spr 23:1-3

Wikkel jou toe in God se liefde

2017-08-30
Johannes 15:9 DB

Niemand het en sal jou ooit so liefhê soos wat God jou liefhet nie. Die rede hoekom dit so moeilik is om hierdie konsep te verstaan, is omdat ons niks het om God se liefde mee te vergelyk nie. Niks kan God se liefde vir jou laat vermeerder nie en niks kan sy liefde vir jou laat verminder nie. Die ironie van die saak is dat ons ons lewens spandeer om sy liefde te probeer verdien, terwyl dit net deur genade ontvang kan word. Johannes sê, ‘Ons staan bekend as kinders van God. Ons ís dit natuurlik ook. Ons hemelse Vader self het ons sy kinders gemaak – dít is nou liefde as daar al ooit liefde was! Maar die wêreld ken ons nie. Hulle weet nie wie ons regtig is nie. Weet julle hoekom? Hulle ken God nie’ (1 Johannes 3:1 DB). Jy mag dalk grootgeword het met ouers wat hulle liefde weerhou het, of nie in staat was om dit uit te druk nie. God doen dit nie. Regdeur die Skrif hou Hy aan sê, ‘Ek is lief vir jou. Ek is lief vir jou. Ek is lief vir jou!’ C.S. Lewis het geskryf, ‘God het ons geskep om die objek van sy liefde te wees! Partykeer maak ons aksies ons onaantreklik, maar ons is nooit ongeliefd nie. Omdat God ons liefhet – het ons waarde. Niemand kan hierdie waarde wegvat nie. God se liefde wat by Golgota geopenbaar is, klou aan ons gebrekkige skepsels vas en vir redes wat ons nooit kan uitpluis nie, maak dit ons waardevol en kosbaar sonder maat. Dit is liefde bo rede. Dit is die liefde waarmee God ons liefhet.’

Sielskos: Jos 1-4; Mark 9:1-13; Ps 103:1-12; Spr 22:27-29

Hou uit

2017-08-29
Jakobus 5:11 NLV

Dink na oor hierdie vyf stellings oor volharding: 1) Jy hoef nie goed te wees om te begin nie, maar jy moet begin goed wees. 2) Sommige mense droom daarvan om groot dinge te doen; ander word wakker en doen dit. 3) Enigiemand wat spog oor wat hulle môre gaan doen, het dit heel waarskynlik gister ook gedoen. 4) Jy sal nooit wees wat jy veronderstel is om te wees nie, totdat jy begin doen wat jy veronderstel is om te doen. 5) As jy sukkel om buite die boks te dink, is dit tyd om uit die boks te klim. Toe Lester Wunderman by ‘n advertensie-agentskap afgedank is, het hy gevoel dat hy nog baie te leer het by die hoof van die agentskap, Max Sackheim. Die volgende oggend het hy dus teruggegaan na sy kantoor toe en aanhou werk soos altyd. Hy het met sy kollegas en kliënte gepraat en vergaderings bygewoon – sonder om ‘n salaris te verdien. Sackheim het hom ‘n maand lank geïgnoreer. Uiteindelik het hy na Wunderman toe gestap en gesê, ‘Jy wen. Ek het nog nooit ‘n man ontmoet wat ‘n werk meer wou gehad het as wat hy geld wou gehad het nie.’ Raai wat? Wunderman het een van die suksesvolste advertensiemanne van die eeu geword. Hy het idees gehad wat miljoene rande wins gemaak het. Die advertensiewese mag dalk nie jou ding wees nie, maar aksie wel. Wat doen jy om jou droom te verwesenlik? Werk jy sonder betaling? Weier jy om op te gee? Sukses behoort aan diegene wat op God vertrou – en uithou.

Sielskos: 3 Joh; Jud; Mark 8:27-38; Ps 84; Spr 22:24-26