Hoe om ‘n toets te oorkom

2017-09-01
Jakobus 1:4 NLV

Jakobus skryf: ‘…wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees. Julle weet mos: Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard. Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie. Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie… Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag… word. So iemand kan mos nie dink dat jy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (verse 2-8 NLV). Let drie dinge oor hierdie Skrifgedeelte op: 1) Jou geloof groei wanneer dit getoets word. Jy sal nooit die krag van jou anker ken totdat jy deur die storm oorval word nie. 2) God sal vir jou wysheid gee om die toets te hanteer. Hy sal nie noodwendig al jou ‘hoekoms’ beantwoord nie. In plaas van om Hom te bevraagteken, bid eerder, ‘Here, hoe wil U hierdie toets gebruik om my te help om geestelik te ontwikkel? Hoe kan ek saam met U werk om die maksimum voordeel hieruit te trek? Watter veranderinge wil U hê moet ek in my lewe maak?’ 3) Jy moet gewillig wees om gehoorsaam te wees. Dis moontlik om God vir wysheid te vra en dan daaroor te debatteer, te wag of ander dinge te doen terwyl jy besluit of jy gehoorsaam gaan wees. Wanneer God jou sy wysheid gee, moet jou eerste reaksie ‘…Ja Here, u dienaar luister’ (1 Samuel 3:10 NLV), wees.

Sielskos: Jos 8:30-10:43; Mark 9:30-37; Ps 111; Spr 23:4-6