Wikkel jou toe in God se liefde
2017-08-30Johannes 15:9 DB
Niemand het en sal jou ooit so liefhê soos wat God jou liefhet nie. Die rede hoekom dit so moeilik is om hierdie konsep te verstaan, is omdat ons niks het om God se liefde mee te vergelyk nie. Niks kan God se liefde vir jou laat vermeerder nie en niks kan sy liefde vir jou laat verminder nie. Die ironie van die saak is dat ons ons lewens spandeer om sy liefde te probeer verdien, terwyl dit net deur genade ontvang kan word. Johannes sê, ‘Ons staan bekend as kinders van God. Ons ís dit natuurlik ook. Ons hemelse Vader self het ons sy kinders gemaak – dít is nou liefde as daar al ooit liefde was! Maar die wêreld ken ons nie. Hulle weet nie wie ons regtig is nie. Weet julle hoekom? Hulle ken God nie’ (1 Johannes 3:1 DB). Jy mag dalk grootgeword het met ouers wat hulle liefde weerhou het, of nie in staat was om dit uit te druk nie. God doen dit nie. Regdeur die Skrif hou Hy aan sê, ‘Ek is lief vir jou. Ek is lief vir jou. Ek is lief vir jou!’ C.S. Lewis het geskryf, ‘God het ons geskep om die objek van sy liefde te wees! Partykeer maak ons aksies ons onaantreklik, maar ons is nooit ongeliefd nie. Omdat God ons liefhet – het ons waarde. Niemand kan hierdie waarde wegvat nie. God se liefde wat by Golgota geopenbaar is, klou aan ons gebrekkige skepsels vas en vir redes wat ons nooit kan uitpluis nie, maak dit ons waardevol en kosbaar sonder maat. Dit is liefde bo rede. Dit is die liefde waarmee God ons liefhet.’
Sielskos: Jos 1-4; Mark 9:1-13; Ps 103:1-12; Spr 22:27-29