Verstaan God se wil (3)

2017-08-28
Handelinge 20:23 NLV

Omtrent 75 persent van gelowiges woon nou in Derde Wêreld lande, dikwels in anti-Christen omgewings. Xu Yonghai is een van hulle. Hy het gepoog dat huiskerke in China gewettig word. Die regering het daarop gereageer deur hom vir twee jaar in ‘n 2.5m by 2.5m sel in ‘n tronk in Beijing op te sluit. Daar was nie ‘n badkamer nie, net ‘n pyp waaruit water op die betonvloer gevloei het. ‘My sel was die laaste stop vir gevangenes wat tot die dood veroordeel is,’ het hy gesê. ‘By tye was daar soveel as drie gevangenes in die klein, klam kamertjie wat op hulle afspraak met die laksman gewag het.’ Yonghai het dit deur gebed, meditasie en skryf oorleef. Deur ‘n stukkie seep te gebruik om op die mure van sy sel te skryf, het hy die hooftrekke van ‘n boek oor God uitgelê. Toe hy klaar was, het hy die punte gememoriseer en toe hy vrygelaat is, het hy sy notas in ‘n boek van vyftigduisend woorde, God the Creator, omskep. Meer dikwels as nie, bevestig jou moeilike omstandighede dat jy binne die wil van God leef! Paulus skryf: ‘Wat ek wel weet, is dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging voorlê. Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie. Om die Goeie Nuus te verkondig dat God mense liefhet sonder dat hulle iets hoef te doen om dit te verdien’ (verse 23-24 NLV). Dit maak nie saak hoe moeilik die wil van God is nie, jy kan dit bereik deur elke dag krag uit sy oneindige genade te put.

Sielskos: 2 Kron 35-36; 2 Joh; Mark 8:14-26; Ps 119:169-176; Spr 22:20-23

Verstaan God se wil (2)

2017-08-27
Psalm 143:10 NLV

Soos jy terugkyk op jou lewe, sal die dinge wat jou die meeste vreugde gebring het, die wete wees dat jy die wil van God uitgevoer het. Om dit te laat gebeur, moet jy egter waarlik God se wil wil doen. Jesus het gesê, ‘As iemand gewillig is om God se wil te doen, sal hy weet of dié onderrig van God afkomstig is en of Ek uit my eie praat’ (Johannes 7:17 NLV). Let op: ‘as iemand gewillig is om God se wil te doen.’ Meer as om jou opvoeding klaar te maak, te trou, jou huis af te betaal of enigiets anders in jou lewe te doen, moet jy God se wil wil doen. Chuck Swindoll skryf: ‘Daar was tye wat ek gesê het dat ek God se wil wou doen, maar ek wou nie regtig nie. Ek het ook geleer dat selfsugtige teenstand, ernstige gevolge het.’ Paulus skryf: ‘…werk as slawe van Christus wat met volle oorgawe God se wil doen. Doen julle werk entoesiasties, asof julle dit vir die Here doen en nie vir mense nie. Julle weet mos dat die Here elke mens wat sy werk goed doen, sal beloon…’ (Efesiërs 6:6-8 NLV). Doen God se wil met volle oorgawe. Jou grootste begeerte moet wees om God te behaag, nie om mense te behaag, besittings bymekaar te maak, status te verkry of om veilig te wees nie. Die Psalmdigter het gebid, ‘Dis my begeerte om u wil te doen, my God, want u voorskrifte is in my hart’ (Psalm 40:8 NLV). Jou gebed moet wees: ‘In alles wat ek vandag doen, Here, is my begeerte om U te behaag en u wil te doen.’

Sielskos: Jos 1:7-8; 2 Tim 3:14-17; Ps 119:1-16

Verstaan God se wil (1)

2017-08-26
Efesiërs 5:17 NLV

Wanneer jy weet dat jy in die middel van God se wil vir jou lewe is, sal jy vrede ten spyte van ongunstige toestande hê. Jy sal die vrymoedigheid hê om enige tyd na God te gaan, in die wete dat Hy sal voorsien wat jy nodig het. Jy vra, ‘Maar hoe weet ek of ek in die wil van God is?’ Deur hierdie twee dinge te weet, wat duidelik in die Bybel uitgelê is: 1) Jy moet ‘n Christen wees. Paulus sê vir ons, ‘Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders’ (Romeine 8:14 NLV). Jy het die Heilige Gees se hulp nodig as jy die wil van God gaan volg en die seëninge wat dit meebring, gaan geniet. 2) Jy moet wysheid beoefen. ‘Wees dus baie versigtig hoe julle lewe. Moenie soos ‘n dwaas leef nie, leef wys! Benut elke geleentheid, want ons lewe in slegte tye. Moenie ondeurdag optree nie, maar probeer uitvind wat God se wil is’ (Efesiërs 5:15-17 NLV). Die bekende teoloog en prediker Jonathan Edwards het in 1716 op die ouderdom van dertien jaar na Yale universiteit gegaan en op sewentien met die beste punte in sy klas, graad gevang. Teen die ouderdom van twintig het hy besluit om nie een oomblik verlore te laat gaan nie, maar om elke oomblik ten volle te benut. Teen ses-en-twintig was hy die pastoor van een van die grootste kerke in Massachusetts. Toe die evangelie soos ‘n veldbrand in New England begin versprei het, het God vir Jonathan Edwards gebruik omdat hy voorbereid en gereed was. Om die wil van God te doen, beteken dat jy sensitief vir die Heilige Gees is en altyd gereed is om God se opdragte uit te voer. Is jy gereed?

Sielskos: 2 Kron 32-34; Mark 8:1-13; Ps 119:161-168; Spr 22:17-19

Wees wys en innemend

2017-08-25
Spreuke 11:30 NLV

Die Bybel sê, ‘Hou op om die wêreld en die dinge van die wêreld lief te hê. As iemand die wêreld liefhet, is hy beslis ook nie lief vir die Vader nie’ (1 Johannes 2:15 NLV). Sommige van ons se optrede wys egter dat ons dink dat wanneer ons God meer lief het, beteken dit dat ons diegene rondom ons minder moet liefhê. Ons mag dalk ongemaklik rondom hulle voel, of nie weet hoe om met hulle te kommunikeer nie, of optree asof ons geestelik verhewe bo hulle is. Jy is egter geroep om vreugde aan ander mense te bring, nie om hulle te veroordeel nie. God het alreeds ‘n plek en tyd vir die oordeelsdag bevestig en jy gaan nie op die troon wees wanneer dit aanbreek nie! Jesus word ‘die Goeie Herder’ (Johannes 10:11) genoem, en die Griekse woord vir ‘goeie’ beteken letterlik ‘innemend, bekoorlik, aantreklik’. Christus was so innemend dat mense outomaties tot hom aangetrokke was. Is hulle tot jou aangetrokke? Jesus het gesê dat ons geroep is om die sout en die lig van die aarde te wees. Sout laat kos beter proe en lig wys vir mense die regte pad om te loop. Omdat hulle wys en innemend was, het Jesaja die profeet inspraak in die lewe van konings gehad, het die drie Hebreeuse kinders die Babiloniese politiek verander en het Josef Egipte van hongersnood gered. Ja, Satan is aan die werk om Christus uit Kersfees, gebed uit skole en God uit die regering te haal. Hy sal egter nie wen nie, en hy weet dit (sien Openbaring 12:12). Sy strategie is egter om ons te laat glo dat hy kan wen. Werk dus vandag daaraan om wys en innemend te wees sodat jy mense na Christus toe kan lei.

Sielskos: 2 Kron 29-31; Mark 7:24-37; Ps 119:145-160; Spr 22:14-16

Bou ‘n soliede fondasie

2017-08-24
Matteus 7:25 NLV

Jesus het gesê, ‘Elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, is soos ‘n verstandige persoon wie se huis op soliede rots gebou is. Al val daar ‘n stortbui, en al kom die vloedwater af, en al woed daar stormwinde teen die huis, sal dit nie inmekaarstort nie, want sy fondament is stewig op die rots vas’ (verse 24-25 NLV). Wanneer die storms van die lewe aanbreek – en dit gaan – is dit te laat om ‘n soliede fondasie te bou. Moet dus nie jouself indoen deur nagemaakte materiale te gebruik of kortpaaie te vat nie. Wees gewillig om jou swakpunte te erken en daaraan te werk. Sommige van die sterkste mense wat jy ken het op ‘n tyd hulp nodig gehad om hulle swakpunte te oorkom. Die pastoor van ‘n megakerk onthou sy vroeë dae, toe hy gebid het dat God sy bediening moet vergroot. Hy skryf: ‘Na dae van stilte het die Here my geantwoord deur te sê, ‘Jy is besorg daaroor om die bediening te bou, maar ek is besorg daaroor om die man te bou. Wee die man wie se bediening groter is as hy!’ Sedertdien het ek myself daaraan toegewy om meer vir die prediker as vir die bediening te bid. Ek is nog steeds verwonderd oor die persoon wat ek word soos wat ek my lewe daagliks in God se hande plaas. Hy verander my – en Hy is nog nie klaar nie. Elke dag sien ek meer onvolwassenheid in my. Maar dis ‘n skerp kontras tussen hoe ek nou is en hoe ek was – ek vertrou God meer as ooit.’ Werk dus aan jou verhouding met God. Bou die waarhede van sy Woord in jou lewe se fondasie en wanneer die storms kom, sal jy staande bly.

Sielskos: 2 Kron 25-28; Mark 7:14-23; Ps 119:137-144; Spr 22:11-13

Geduld, liefde en aanmoediging

2017-08-23
Psalm 73:2 NLV

As jy Asaf, wat sommige van die Psalms geskryf het, ontmoet, sou jy heel waarskynlik gedink het dat hy nie probleme van ‘n dag oud gehad het nie. Jy sou egter verkeerd gewees het: ‘Maar my voet het byna gestruikel. Ek het my vastrapplek byna verloor.’ Aan die einde van die psalm doen hy egter ‘n ommeswaai en skryf, ‘My liggaam en my hart kan kwyn, maar God is my blywende krag en my erfdeel vir altyd’ (vers 26 NLV). Ten spyte van sy probleme, het hy gekies om woorde van bemoediging te spreek. Wanneer jy die geleentheid het om iemand te bemoedig, doen dit. Jy weet nooit waardeur ‘n persoon gaan nie – of hulle nou in ‘n pondok of ‘n paleis woon. Hier is ‘n belangrike beginsel om in gedagte te hou: Mense neig om te word wat die belangrikste mense in hulle lewens van hulle dink! Dink dus die beste, glo die beste en spreek die beste tot hulle. Jy sê, ‘Maar hulle moet ophou om dieselfde simpel foute te maak!’ Verandering gebeur in sentimeters, nie kilometers nie. Selfs wanneer dit eenvoudig lyk, is dit selde maklik. Die enigste manier om ou gewoontes te verbreek, is om nuwe gewoontes te vorm, wat tyd en oefening neem – en sommer baie daarvan. Jy kan nie net een keer vir iemand iets sê en verwag dat hulle dit onmiddellik gaan snap nie; hulle moet dit oor en oor hoor voordat hulle die aanpassing kan maak. Hoe jy dit vir hulle sê kan ook bepaal of hulle vries, of bo die struikelblok uitstyg. Wees aanhoudend. Moet nooit opgee om hulle te probeer help om te verbeter nie. Erken elke stap van vordering wat hulle maak. Die manier om blywende resultate te kry, is deur geduld, liefde en aanmoediging.

Sielskos: 2 Kron 22-24; Mark 7:1-13; Ps 119:129-136; Spr 22:8-10