Geduld, liefde en aanmoediging

2017-08-23
Psalm 73:2 NLV

As jy Asaf, wat sommige van die Psalms geskryf het, ontmoet, sou jy heel waarskynlik gedink het dat hy nie probleme van ‘n dag oud gehad het nie. Jy sou egter verkeerd gewees het: ‘Maar my voet het byna gestruikel. Ek het my vastrapplek byna verloor.’ Aan die einde van die psalm doen hy egter ‘n ommeswaai en skryf, ‘My liggaam en my hart kan kwyn, maar God is my blywende krag en my erfdeel vir altyd’ (vers 26 NLV). Ten spyte van sy probleme, het hy gekies om woorde van bemoediging te spreek. Wanneer jy die geleentheid het om iemand te bemoedig, doen dit. Jy weet nooit waardeur ‘n persoon gaan nie – of hulle nou in ‘n pondok of ‘n paleis woon. Hier is ‘n belangrike beginsel om in gedagte te hou: Mense neig om te word wat die belangrikste mense in hulle lewens van hulle dink! Dink dus die beste, glo die beste en spreek die beste tot hulle. Jy sê, ‘Maar hulle moet ophou om dieselfde simpel foute te maak!’ Verandering gebeur in sentimeters, nie kilometers nie. Selfs wanneer dit eenvoudig lyk, is dit selde maklik. Die enigste manier om ou gewoontes te verbreek, is om nuwe gewoontes te vorm, wat tyd en oefening neem – en sommer baie daarvan. Jy kan nie net een keer vir iemand iets sê en verwag dat hulle dit onmiddellik gaan snap nie; hulle moet dit oor en oor hoor voordat hulle die aanpassing kan maak. Hoe jy dit vir hulle sê kan ook bepaal of hulle vries, of bo die struikelblok uitstyg. Wees aanhoudend. Moet nooit opgee om hulle te probeer help om te verbeter nie. Erken elke stap van vordering wat hulle maak. Die manier om blywende resultate te kry, is deur geduld, liefde en aanmoediging.

Sielskos: 2 Kron 22-24; Mark 7:1-13; Ps 119:129-136; Spr 22:8-10