Verstaan God se wil (3)

2017-08-28
Handelinge 20:23 NLV

Omtrent 75 persent van gelowiges woon nou in Derde Wêreld lande, dikwels in anti-Christen omgewings. Xu Yonghai is een van hulle. Hy het gepoog dat huiskerke in China gewettig word. Die regering het daarop gereageer deur hom vir twee jaar in ‘n 2.5m by 2.5m sel in ‘n tronk in Beijing op te sluit. Daar was nie ‘n badkamer nie, net ‘n pyp waaruit water op die betonvloer gevloei het. ‘My sel was die laaste stop vir gevangenes wat tot die dood veroordeel is,’ het hy gesê. ‘By tye was daar soveel as drie gevangenes in die klein, klam kamertjie wat op hulle afspraak met die laksman gewag het.’ Yonghai het dit deur gebed, meditasie en skryf oorleef. Deur ‘n stukkie seep te gebruik om op die mure van sy sel te skryf, het hy die hooftrekke van ‘n boek oor God uitgelê. Toe hy klaar was, het hy die punte gememoriseer en toe hy vrygelaat is, het hy sy notas in ‘n boek van vyftigduisend woorde, God the Creator, omskep. Meer dikwels as nie, bevestig jou moeilike omstandighede dat jy binne die wil van God leef! Paulus skryf: ‘Wat ek wel weet, is dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging voorlê. Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie. Om die Goeie Nuus te verkondig dat God mense liefhet sonder dat hulle iets hoef te doen om dit te verdien’ (verse 23-24 NLV). Dit maak nie saak hoe moeilik die wil van God is nie, jy kan dit bereik deur elke dag krag uit sy oneindige genade te put.

Sielskos: 2 Kron 35-36; 2 Joh; Mark 8:14-26; Ps 119:169-176; Spr 22:20-23