Jou lewenstaak

2017-08-22
Handelinge 20:24 NLV

Om jou lewenstaak mis te loop, is om dit waarvoor God jou op aarde geplaas het, mis te loop. Jy het gawes en is deur God geroep, maar jy moet dit ernstig opneem. Die vraag is nie waarvan jy af weghardloop nie, maar waarheen jy op pad is. Om sukses te behaal, moet jy God se wil ken en daarop konsentreer om dit te vervul. Jy sal die nodige ‘hoe’ ontvang wanneer jy die kragtige ‘hoekom’ verstaan. ‘n Doelwit, nie geld of talent nie, is jou grootste bate. Om jou te help om jou lewenstaak te ontdek, antwoord die volgende vrae: 1) Wat is jou temperament en wat is jou talente? Die sielkundige en motiveringspreker Charles Garfield het gesê, ‘Suksesvolle mense is die mense wat aan ‘n dwingende missie toegewyd is. Dit is baie duidelik dat hulle baie omgee vir dit wat hulle doen en hulle aksies, energie en entoesiasme kan direk teruggelei word tot daardie spesifieke missie.’ 2) Hoekom doen jy wat jy doen? Daar is ‘n groot verskil tussen om iets te doen wat jy glo God jou geroep het om te doen en dit wat jou ouers, vriende of ego wil hê jy moet doen. 3) Wat doen jy nie goed nie? Om te weet waarvoor jy geroep is, begin dikwels wanneer jy ontdek waarvoor jy nie geroep is nie. Wanneer jy jou beperkinge kan aanvaar, is jy op die pad om jou lewenstaak te verstaan. Wanneer jy voorgee dat jy iets is wat jy nie is nie, lewe jy met ‘n kroniese sin van onvoldoendheid en stel jy jouself oop vir frustrasie. Moenie dit doen nie. Wees ontvanklik vir die waarheid oor jouself. Ontdek jou Godgegewe taak en gee dan jouself ten volle daarvoor.

Sielskos: 2 Kron 19-21; Mark 6:45-56; Ps 119:121-128; Spr 22: 4-7

Hou op om jouself pak te gee

2017-08-21
Jakobus 3:2 NLV

Wanneer jy sondig, sal God se Gees jou van ‘n behoefte om dit te bely en om jou weë te verander, oortuig. Totdat jy egter jou hemelse liggaam aanneem, sal jy altyd met sonde sukkel. Die apostel Jakobus het geskryf, ‘Ons almal maak baie foute…’ Om te val is egter nie wat jou ‘n mislukking maak nie – dis wanneer jy nie weer opstaan nie! Staan op, stof jouself af, ontvang God se genade, leer uit die ervaring en beweeg aan. Die Bybel sê, ‘Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem’ (Romeine 8:1 NLV). God veroordeel jou nie, hou dus op om jouself te veroordeel. God is ook nog nie klaar met jou nie. Partykeer is ons skuldig daaraan dat ons die verkeerde ding met die regte bedoeling doen. In 1957 het Ford Motors byvoorbeeld die nuwe Edsel as die ‘kar van die dekade’ beskryf. Probeer dit vir al die motoriste wie se deure nie wou toemaak nie, wie se toeters vasgehaak het en wie se transmissies gebreek het, vertel! Onthou jy die Toring van Pisa in Italië, waar die argitek ‘n drie meter diep fondasie vir ‘n 54 meter hoë gebou ontwerp het? Hoe sal jy daarvan hou om dit op jou résumé te hê? Die feit bly staan, die talentvolste mense maak dikwels die grootste foute. Salomo skryf, ‘Want daar is niemand op aarde wat regverdig is nie, niemand wat goeddoen en nooit sondig nie’ (Prediker 7:20 NLV). Paulus voeg by, ‘Nie dat ek alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!’ (Filippense 3:12 NLV). Hou dus op om jouself pak te gee.

Sielskos: 2 Kron 16-18; Mark 6:30-44; Ps 119:113-120; Spr 22:1-3

Beoefen nederigheid

2017-08-20
Markus 9:34 NLV

Toe Jesus sy dissiples vra, ‘…Waaroor het julle op pad geredeneer?’ was hulle besig om te stry oor wie van hulle die belangrikste is, en het hulle nie geantwoord nie. Jesus het gesê, ‘…As jy die vernaamste wil wees, moet jy heel agter inval en almal se dienaar wees’ (verse 33-35 NLV). As Jesus se dissipels, wat vir drie jaar dag en nag saam met Hom geleef het, met die konsep van nederigheid gesukkel het, is niemand van ons daarvan vrygestel nie. Jesus het toe vir hulle ‘n les geleer wat hulle nooit sou vergeet nie. ‘Jesus het geweet dat die Vader alles tot sy beskikking gestel het, en dat Hy van God gekom het en weer na die Vader teruggaan. Hy het toe van die tafel af opgestaan, sy boklere uitgetrek, ‘n doek gevat en dit om Hom vasgebind. Daarna het Hy water in ‘n wasskottel gegooi en begin om die dissipels se voete te was en af te droog met die doek wat om Hom vasgebind was’ (Johannes 13:3-5 NLV). Toe het Hy vir hulle gesê, ‘As Ek dan, wat julle Here en Leermeester is, julle voete gewas het, moet julle ook mekaar se voete was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen’ (verse 14-15 NLV). Chuck Swindoll skryf: ‘Om die knie te buig om ander te help, of swakheid te erken, word as weerloosheid gesien deur diegene wat jou sal misbruik. Te veel leiers sien hulself as mense wat gedien moet word, behalwe vir kort periodes wanneer dit voordelig is om gesien te word waar hulle ander dien. Dit moenie so vir die volgelinge van Christus wees nie. Vir hulle is nederigheid nie ‘n godsdienstige konsep nie, maar ‘n lewenswyse.’ Beoefen dus vandag nederigheid!

Sielskos: Jer 31:31-37; Heb 8:1-13

Vader (3)

2017-08-19
Spreuke 23:15 NLV

Vaderlose kinders is 100 tot 200 persent meer geneig om emosionele en gedragsprobleme te ervaar, twee keer meer geneig om dwelms en alkohol te gebruik, meer geneig om op ‘n jong ouderdom seksueel aktief te raak en drie keer meer geneig om ‘n gewelddadige misdaad te pleeg. Meer as 50 persent van tieners wat selfmoord poog, word in enkelouer huise groot. Die meeste kinders wat van die huis af weghardloop verlaat vaderlose huise en seuns sonder vaders is 300 persent meer geneig om in die tronk te beland. Sewentig persent van jongmense in langtermyn korrektiewe fasiliteite het sonder ‘n pa groot geword. Vaderlose dogters is 53 persent meer geneig om in hulle tienerjare te trou, en 164 persent is meer geneig om kinders buite die huwelik te kry. Vaderlose dogters het ‘n 92 persent hoër egskeidingsyfer en vaderlose seuns is 35 persent meer geneig om mislukte huwelike te hê. Tagtig persent van tieners in psigiatriese hospitale kom uit vaderlose huise en is 50 persent meer geneig om met leerprobleme te sukkel. Hulle vorder slegter op skool, en is drie keer meer geneig om die skool vroeg te verlaat as kinders wat in ‘n huis met ‘n pa groot geword het. Dit is ook moontlik om fisies teenwoordig, maar emosioneel afwesig te wees. Navorsing bewys dat die gemiddelde pa agt minute ‘n dag in direkte gesprek met hulle kinders spandeer. In families waar die ma uithuisig werk, verminder dit na vier minute. As jy hierdie statistieke skokkend vind, word wakker en doen iets daaraan!

Sielskos: 2 Kron 12-15; Mark 6:14-29; Ps 119:105-112; Spr 21:28-31

Vader (2)

2017-08-18
Spreuke 3:1 NLV

As jy ‘n vader is, verwag God van jou om die leier in jou familie te wees. Dit beteken: 1) Jy moet wíl lei. Sonder goeie leierskap, is die kans goed dat jou kinders op ‘n lewe van probleme afstuur. Die voormalige Amerikaanse Direkteur-generaal, William Barr, het gesê, ‘As jy na die een faktor kyk wat die naaste met misdaad korreleer, is dit nie armoede, werkloosheid, of opvoeding nie; dis die afwesigheid van ‘n vader in die familie.’ 2) Jy moet weet waarheen jy oppad is. Sonder duidelike rigting in jou eie lewe, kan jy nie jou kinders lei nie. God verwag van jou om jou kinders te leer om wyse besluite in belangrike areas van hulle lewens soos seks, geld, verhoudings, huwelik en die loopbaan wat hulle kies, te maak. Dit is maak-of-breek kwessies. Dit is jou werk om hulle in voorbeeld en praktyk te leer wat hierdie lewenskwessies is en om hulle te help om goddelike besluite in elkeen te maak. 3) Jy moet daar wees vir hulle. Jy moet hulle rigting gee, beskikbaar wees, hulle dissiplineer en hulle geestelik lei. Die belangrikste is egter om beskikbaar te wees. As jy nie beskikbaar is nie, kan jy hulle nie rigting gee nie, jou dissipline gaan nie baie effektief wees nie en jou geestelike leierskap sal verwerp word. As jy nie jou kinders lei nie, gaan iemand anders hulle vir jou lei. Wanneer dit gebeur, is die grootste probleem nie dat jy nie daar is nie; dis dat jy nie meer gemis word nie! In die Bybel word God ‘Ons Vader’ genoem. Vra Hom dus vandag om jou te help om die pa te word wat jou kinders nodig het.

Sielskos: 2 Kron 8-11; Mark 6:1-13; Ps 119:97-104; Spr 21:24-27

Vader (1)

2017-08-17
Spreuke 1:8 NLV

Eendag het ‘n man by ‘n haarkapper ingestap en ‘n jong man gesien wat die vloer vee. Nadat hy ‘n ruk met hom gesels het, het hy uitgevind dat die seun geen vaderfiguur in sy lewe het nie. ‘Seun,’ het die man gevra, ‘Soos wie wil jy wees wanneer jy groot is?’ Die seun het geantwoord, ‘Meneer, ek het nog nooit iemand ontmoet soos wie ek wil wees wanneer ek groot is nie.’ Glo jy dat ten minste een van elke kind se helde sy of haar pa moet wees? Wil jy waarlik ‘n held vir jou kinders wees? As jy dit wil hê, sal jy tyd vir hulle moet maak en moet werk om die vader te wees wat hulle wil hê jy moet wees. As jy dit nie doen nie, mag hulle dalk die verkeerde helde kies en jou hart breek. Die kindersielkundige Wade F. Horn het homself ‘n kundige op die gebied van dit wat ‘n goeie pa maak, geag. Toe dokters hom egter met kanker diagnoseer en vir hom sê dat hy ongeveer ses jaar oor het om te leef, het hy met ‘n skok agtergekom dat hy nie so ‘n goeie vader was soos hy gedink het hy was nie. Hy het gesê, ‘Dit het vir my op ‘n persoonlike wyse duidelik geword dat indien ek as gevolg van hierdie siekte sou sterf, my onvoltooide werk nie my kliniese praktyk sou wees nie. My onvoltooide werk sou my twee klein dogtertjies wees, wat elke môre terwyl ek op die herstelpad was, sou kom en my totsiens sou soen.’ Gelukkig (of ongelukkig), sal die meeste pa’s nie hierdie tipe wekroep in hulle lewens kry nie. As jy egter jou kinders verwaarloos, is ‘n wekroep presies wat jy nodig het.

Sielskos: 2 Kron 5-7; Mark 5:31-43; Ps 119:89-96; Spr 21:20-23