2017-08-16
1 Johannes 1:6 NLV
God is verantwoordelik vir jou verhouding met Hom. Die oomblik wat jy jou vertroue in Jesus Christus plaas, word jy aanvaar as lid van Sy familie. Jy is egter verantwoordelik vir jou gemeenskap met God. Die Bybel sê, ‘As ons dan sê dat ons deel het aan Hom, maar in geestelike duisternis leef, lieg ons.’ Neem ‘n oomblik en dink aan die laaste keer wat jy spanning tussen jou en een van jou familielede ervaar het. Julle was steeds deel van dieselfde familie, maar julle gesprekke het oppervlakkig geword en julle was gemakliker daarmee om tyd apart as tyd saam te spandeer. Wanneer iets tussen twee mense wat normaalweg naby aan mekaar is, gebeur, is gemeenskap die eerste ding wat in die slag bly. Dis dieselfde met ons reis saam met God. Skielik word ons gebede oppervlakkig: ‘Here, seën asseblief ons voedsel.’ Ons vermy dit ook om tyd saam met daardie Persoon te spandeer: ‘Ek het nie tyd vir Bybelstudie nie.’ Die belangrikste voorwaarde om in gemeenskap met Jesus te wees, is om Hom elke dag te volg en sy bevele te gehoorsaam. Toe Petrus en die dissipels besig was om vis te vang, het die Here vir hulle gesê om hulle nette aan die regterkant van die boot uit te gooi. Toe hulle Hom gehoorsaam, het hulle ‘n bootvrag visse gevang. Iets groters het egter daardie dag gebeur. Toe Jesus nader kom, het Johannes gesê, ‘…Dit is die Here!..’ (Johannes 21:7 NLV). Wat gevolg het was ‘n intieme maaltyd en ‘n soete tyd van gemeenskap met Jesus. As jy dus vandag met jou verhouding met Jesus sukkel, is die kans goed dat jy ongehoorsaam aan Hom was of nie meer in gemeenskap met Hom is nie. As dit die geval is, doen iets daaraan.
Sielskos: 2 Kron 1-4; Mark 5:21-30; Ps 119:81-88; Spr 21:17-19
2017-08-15
1 Tessalonisense 5:15 NLV
Iemand het eenkeer gesê, ‘As ‘n hammer die enigste stuk gereedskap is wat jy het, neig jy om elke probleem as ‘n spyker te sien.’ As gevolg van ons sterk persoonlikhede, is sommige van ons geneig om ‘n hammer te gebruik wanneer ‘n sagter benadering die werk beter sou doen. As dit jou probleem is, onthou die volgende: 1) Humeur. Wanneer jy ontsteld is, is jy geneig om ‘n berg van ‘n molshoop te maak. Onthou egter, wanneer die reaksie erger as die aksie is, word die probleem gewoonlik groter. Wanneer die reaksie egter minder as die aksie is, word die probleem gewoonlik kleiner. 2) Tydsberekening. As jy nie ‘n beseerde persoon gou genoeg by die hospitaal kry nie, kan hulle hul lewe verloor. As jy ook nie verskoning vra wanneer jy verkeerd teenoor iemand opgetree het nie, kan die verhouding verlore gaan. Om te weet wanneer om op te tree – en wanneer om niks te doen nie – is net so belangrik as om die regte aksie te neem. 3) Die geheelprent. ‘n Man het by ‘n restaurant ingestap en vir die kelner gesê, ‘Het jy iets wat ‘n mens kan laat ophou hik?’ Die kelner het die man deur die gesig geklap. ‘Wat is jou probleem?’ het die man uitgeroep. Die kelner het geglimlag, ‘Wel, jy hik nie meer nie, doen jy?’ Die man het geantwoord, ‘Dis nie ek wat hik nie. Ek wou iets vir my vrou gehad het. Sy wag buite in die kar!’ Is jy geneig om verkeerde aannames te maak? Neem tyd om seker te maak dat jy die situasie reg verstaan en jy sal meer geneig wees om op ‘n gepaste manier te reageer.
Sielskos: 1 Kron 26:20-29:30; Mark 5:11-20; Ps 119:73-80; Spr 21:14-16
2017-08-14
Psalm 119:58 NLV
Een oomblik van God se guns sal meer vir jou beteken as ‘n leeftyd se probeerslae. As jy in God se guns begin wandel, word daar deure oopgemaak, die regte mense word na jou toe aangetrek, en jy ontdek idees, strategieë en hulpbronne op die mees onverwagte plekke. Beteken dit dat jy nie teenstand sal ervaar nie? Nee, wanneer jy enigiets van waarde doen, moet jy teenstand van diegene wat nie deel het aan God se plan vir jou lewe nie, verwag. Die Bybel sê egter, ‘Die Here stuur die koning soos Hy wil. Dit is soos ‘n stroom water wat Hy afkeer’ (Spreuke 21:1 NLV). Soos om die rigting van ‘n bewegende stroom te verander, so kan God mense se harte verander en jou guns by diegene gee wat jou andersins sal verwerp of oor die hoof sien. Salomo skryf, ‘As die Here gelukkig is met die manier waarop iemand lewe, sal Hy selfs sy vyande in vrede met hom laat lewe’ (Spreuke 16:7 NLV). Wanneer mense jou dus teenstaan of nie met jou saamstem nie, konsentreer net daarop om God te behaag en laat Hom toe om die situasie te hanteer. God kan jou seën op maniere wat menslik gesproke, jy nie verdien of voor kwalifiseer nie. Net soos die Heilige Gees Jesus toegerus het om Sy missie vir Sy lewe te vervul, so sal Hy jou ook toerus om Sy plan vir jou lewe te vervul (sien Lukas 4:18-19). Hou dus op om so hard te probeer om dinge op jou terme te laat gebeur en begin om vir God se guns te bid. Hy het dit aan jou beloof en Hy kom altyd Sy beloftes na.
Sielskos: 1 Kron 23:21-26:19; Mark 5:1-10; Ps 119:65-72; Spr 21:10-13
2017-08-13
Jeremia 29:11 NLV
Die mense van Israel het as slawe in Babilon geleef omdat hulle ongehoorsaam aan God was en besluit het om hulle eie ding te doen. Hulle het egter ‘n hoë prys daarvoor betaal. Hulle het hulle huise, werk, vryheid en selfrespek verloor. Het dit met jou gebeur? Dan is hier vir jou goeie nuus. God sê, ‘…Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê. Julle sal na My roep en kom bid. Ek sal na julle luister. As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind… Ek sal julle uit gevangenskap laat terugkeer…’ (Jeremia 29:11-14 NLV). Dit beteken dat God steeds ‘n plan vir jou lewe het. As jy Hom ‘heelhartig’ soek, sal Hy dit aan jou openbaar. Jy vra, ‘Hoe weet jy dat God steeds ‘n plan vir my lewe het?’ Omdat jy nog steeds asemhaal! Hy het ‘n plan vir elke liewe persoon wat Hy nog ooit geskep het, en hierdie plan verval nooit nie. God se planne het nie vervaldatums soos die melk wat jy in die winkel koop nie. Selfs as jy afgedwaal het en sy plan jare lank gemis het, kan daardie plan weer in effek kom die oomblik wat jy jou lewe aan Hom gee en in lyn met Sy wil kom. Die plan mag dalk nou bietjie anders lyk as twintig jaar terug toe jy eintlik aandag daaraan moes gee, maar dit keer God nie. Hy kan Sy plan aanpas om by enige lewe wat al ooit geleef is in te pas, insluitend joune.
Sielskos: Pred 11:7-12:1; Ps 39:4-13; Jak 4:14
2017-08-12
Matteus 24:35 NLV
Een van die eerste boeke wat na die uitvinding van die drukpers gedruk is, was die Bybel. Dit is steeds een van die wêreld se topverkopers. ‘n Anonieme skrywer merk op: ‘Dit bevat die gedagtes van God, die toestand van die mensdom, die pad na verlossing, die noodlot van die sondaars en die geluk van die gelowiges. Dit is ‘n lig wat jou lei, kos wat jou voed en troos wat jou opbeur. Dit is die reisiger se padkaart, die vlieënier se kompas, die soldaat se wapen en die speler se spelplan. Dit is ‘n myn vol ongelooflike rykdom en ‘n rivier van ware vreugde. Sy doktrines is heilig, sy bevele is bindend, sy geskiedenis is waar en sy besluite is onveranderlik. Christus is die hoofonderwerp, dit wat goed is vir jou is die inhoud, en die glorie van God is die slotwoord. Lees dit om wys te wees, glo dit om veilig te wees en beoefen dit om geestelik gesond te wees. Lees dit stadig, gereeld en met gebed. Laat dit jou gedagtes vul, jou hart regeer en jou treë rig. Dit word aan jou in die lewe gegee, dit sal tydens die oordeelsdag oopgemaak word en vir ewig onthou word. Dit behels die grootste verantwoordelikheid, sal die hardste werk beloon en sal diegene wat met die heilige inhoud daarvan spot, oordeel.’ Die Bybel is ‘…die woord van God [wat] bly vir altyd’ (Jesaja 40:8 NLV). Die meeste van ons respekteer die Bybel, maar die moeilikheid ontstaan wanneer ons dit nie daagliks lees en toepas nie. Nadat hy na ‘n bespreking oor verskeie vertalings van die Bybel geluister het, het ‘n man gesê: ‘Ek verkies my ma se vertaling, want dit word in haar daaglikse lewe vertaal.’ Doen jy dit?
Sielskos: 1 Kron 19:1-23:20; Mark 4:26-41; Ps 119:57-64; Spr 21:7-9
2017-08-11
Genesis 6:14-15 NLV
Die Bybel het die oorspronklike bloudruk verskaf om skepe mee te bou. In Genesis, het God vir Noag gesê om ‘n boot te bou en dit met genoeg mense en diere te vul om die aarde te herbevolk. Die spesifieke dimensies wat God vir Noag daarvoor gegee het, is betekenisvol. In 1609 in Hoorn, Holland, is ‘n boot met presies dieselfde dimensies gebou, wat die bou van skepe gerevolusioneer het. Volgens Lloyd’s Register of Shipping, was elke skip op die hoë see teen 1900 op een of ander manier volgens die proporsies van Noag se Ark gebou. Ook, indien jy dink dat dit nie gesofistikeerd of opgevoed is om te dink dat die wêreld eens op ‘n tyd deur ‘n magtige vloed vernietig is nie, dink weer. Omtrent 85 persent van die rotsoppervlaktes rondom die wêreld is uit afsettingsgesteente saamgestel, wat bewys dat die wêreld op ‘n tydperk in die verlede deur water bedek is. Dink ook na oor die Bybel en meteorologie. Salomo het geskryf, ‘Die wind waai na die suide en draai na die noorde. Dit dwarrel om en om, en gaan weer in sy sirkelgang’ (Prediker 1:6 NLV). Die lug rondom die aarde draai in groot sirkels, antikloksgewys in die noordelike hemisfeer en kloksgewys in die suidelike hemisfeer. Dit is hoe jou plaaslike meteoroloog met ‘n hoë graad van akkuraatheid die weer kan voorspel sodat jy kan weet wat om aan te trek. Daar is geen ander boek soos die Bybel nie! Wanneer jy die kernboodskap van verlossing deur Christus glo, het jy vrede en vreugde hier op aarde, plus, jy word toegelaat om vir alle ewigheid in die hemel saam met God te woon wanneer jy sterf. Daar is niks beter as dit nie!
Sielskos: 1 Kron 16-18; Mark 4:13-25; Ps 119:49-56; Spr 21:4-6