Het jy God se Woord lief?
2017-08-12Matteus 24:35 NLV
Een van die eerste boeke wat na die uitvinding van die drukpers gedruk is, was die Bybel. Dit is steeds een van die wêreld se topverkopers. ‘n Anonieme skrywer merk op: ‘Dit bevat die gedagtes van God, die toestand van die mensdom, die pad na verlossing, die noodlot van die sondaars en die geluk van die gelowiges. Dit is ‘n lig wat jou lei, kos wat jou voed en troos wat jou opbeur. Dit is die reisiger se padkaart, die vlieënier se kompas, die soldaat se wapen en die speler se spelplan. Dit is ‘n myn vol ongelooflike rykdom en ‘n rivier van ware vreugde. Sy doktrines is heilig, sy bevele is bindend, sy geskiedenis is waar en sy besluite is onveranderlik. Christus is die hoofonderwerp, dit wat goed is vir jou is die inhoud, en die glorie van God is die slotwoord. Lees dit om wys te wees, glo dit om veilig te wees en beoefen dit om geestelik gesond te wees. Lees dit stadig, gereeld en met gebed. Laat dit jou gedagtes vul, jou hart regeer en jou treë rig. Dit word aan jou in die lewe gegee, dit sal tydens die oordeelsdag oopgemaak word en vir ewig onthou word. Dit behels die grootste verantwoordelikheid, sal die hardste werk beloon en sal diegene wat met die heilige inhoud daarvan spot, oordeel.’ Die Bybel is ‘…die woord van God [wat] bly vir altyd’ (Jesaja 40:8 NLV). Die meeste van ons respekteer die Bybel, maar die moeilikheid ontstaan wanneer ons dit nie daagliks lees en toepas nie. Nadat hy na ‘n bespreking oor verskeie vertalings van die Bybel geluister het, het ‘n man gesê: ‘Ek verkies my ma se vertaling, want dit word in haar daaglikse lewe vertaal.’ Doen jy dit?
Sielskos: 1 Kron 19:1-23:20; Mark 4:26-41; Ps 119:57-64; Spr 21:7-9