2017-08-10
Jesaja 51:6 NLV
Die Bybel spreek die eerste wet van termodinamika aan, wat dit stel dat energie van een vorm na ‘n ander verander kan word, maar dat dit nie geskep of vernietig kan word nie. Hierdie wet weerlê sir Fred Hoyle se ‘kalm toestand’ of ‘aanhoudende skeppings’ teorie, wat deur wetenskaplikes verwerp is. Hoyle het geglo dat daar plekke in die heelal is waar materie en energie aanhoudend geskep word. Die eerste wet van termodinamika bewys egter die teenoorgestelde: Daar is vandag geen ‘aanhoudende’ skepping nie. Die Bybel sê, ‘So is die skepping voltooi: die hemel daarbo en die aarde hieronder en alles in die hemel en op die aarde’ (Genesis 2:1 NLV). Die woord voltooi in die oorspronklike Hebreeus verwys na ‘n aksie wat in die verlede voltooi is en wat nooit weer herhaal sal word nie. Die tweede wet van termodinamika sê dat in alle fisiese prosesse, elke geordende sisteem oor tyd meer gedisorganiseerd word. Met ander woorde, alles brand vas en slyt af soos energie al hoe minder beskikbaar is om gebruik te word. Die Psalmdigter het geskryf, ‘In die begin het U die aarde gevestig; die hemele is die werk van u hande. Hulle sal vergaan, maar U is vir altyd; soos klere sal hulle verslyt… Maar U is altyd dieselfde; u jare ken geen einde nie’ (Psalm 102:26-28 NLV). Hoe meer wetenskaplikes van lewe op aarde leer, hoe meer ontdek hulle die waarheid wat die Bybel al vir eeue lank duidelik aan ons voorhou. Dit maak nie saak hoe opreg jy is en hoe hard jy probeer nie, om ‘n geslote deur oop te maak, moet jy die regte sleutel hê. Jou Bybel is die sleutel om die deur oop te sluit om alles in die lewe, asook God se plan vir jou, te verstaan.
Sielskos: 1 Kron 12:23-15:29; Mark 4:1-12; Ps 119:41-48; Spr 21:1-3
2017-08-09
Prediker 1:7 NLV
Die Bybel praat van die watersiklus. ‘Die riviere vloei in die see, maar vul nie die see nie. Die water gaan terug na die riviere toe, en keer terug na die see.’ Die Mississippirivier stort daagliks gemiddeld 1600 biljoen liters water in die Golf van Mexiko. Wanneer jy aan die Teems, die Nyl en die Amasone dink, gebeur dieselfde in riviere regoor die wêreld. Waar gaan al die water dus heen? Die antwoord lê in die hidrologiese siklus, waaraan die Bybel ons amper 3 millenia gelede bekend gestel het. Die wyse koning Salomo het geskryf, ‘As wolke vol water is, val daar reën op die aarde…’ (Prediker 11:3 NLV). Amos, die profeet, het gesê, ‘…Hy roep die waters uit die see en giet die reën oor die aarde…’ (Amos 9:6 NLV). Job se vriend, Elihu, het gesê, ‘Kyk, God is verhewe bo ons begrip… Hy trek waterdamp op en laat dit val as reën. Reën stort uit die wolke en almal baat daarby’ (Job 36:26-28 NLV). Die idee van ‘n volledige watersiklus is eers in die sewentiende eeu volkome deur die wetenskap verstaan. Tog het die Bybel tweeduisend jaar voor die ontdekkings van briljante manne soos Pierrie Perrault, Edme Marriot, Edmond Halley en ander, reeds die watersiklus verstaanbaar verduidelik. Die waarheid is, jou Bybel is geïnspireerd, onfeilbaar, betroubaar en meer op datum as môreoggend se koerant. Elke koerant het ‘n kolom waarin hulle regstellings druk van foute wat voorgekom het. Nie die Bybel nie! Jy kan dit vertrou om jou reg te lei in elke area van jou lewe.
Sielskos: 1 Kron 10:1-12:22; Mark 3:20-35; Ps 119:33-40; Spr 20:28-30
2017-08-08
Job 38:35 AFR83
Die Bybel het moderne telekommunikasie voorspel. Klink dit te goed om waar te wees? Kyk dan na hierdie vers: ‘Kan jy die weerligstrale uitstuur dat hulle vir jou kom sê: ‘Hier is ons’?’ Vyftien honderd jaar voor Christus, in die boek Job, het God gesê dat lig gestuur kan word en in spraak kan manifesteer. In dieselfde trant, het jy geweet dat alle elektromagnetiese bestraling – van radiogolwe tot X-strale – teen die spoed van lig (omtrent 186,000 myl per sekonde) beweeg? Dit is wat onmiddellike koordlose kommunikasie met iemand aan die ander kant van die wêreld moontlik maak. Die feit dat lig gestuur en in spraak omskep kan word, is eers in 1864 (3300 jaar later), deur die wetenskap ontdek toe die Britste wetenskaplike, James Clerk Maxwell, voorgestel het dat elektrisiteit en liggolwe twee vorms van dieselfde ding is. Samuel Morse, wat die eerste telegram ontwerp het en die wêreld van kommunikasie vir ewig verander het, was ‘n Christen wat in die Bybel geglo het. ‘n Paar jaar voordat hy oorlede is, het hy gesê, ‘Hoe nader ek aan die einde van my reis kom, hoe duideliker is die bewys van die goddelike oorsprong van die Bybel. Die grootsheid en verhewenheid van God se geneesmiddel vir die gevalle mens word meer waardeer, en die toekoms word deur hoop en vreugde verlig.’ In jou lewe sal jy ongelowige Tomasse ontmoet, wat God steeds liefhet. Jesus het selfs ‘n spesiale verskyning na sy opstanding gemaak om Tomas se vertwyfelinge te weerlê. Hy doen dit ook vandag! Raak dus bekend met jou Bybel, en laat elke opregte, vraende hart weet dat die wetenskap bewys dat die Bybel waar is.
Sielskos: 1 Kron 7:20-9:44; Mark 3:1-19; Ps 119:25-32; Spr 20:25-27
2017-08-07
Jesaja 40:22 AFR53
Die Bybel sê vir ons dat die aarde rond is. ‘Hy sit bo die kring van die aarde…’ Die woord kring kom van die Hebreeuse woord wat ook as ‘rondte’ vertaal kan word. Die boek van Jesaja is omtrent sewehonderd jaar voor Christus se geboorte geskryf. Dit is ten minste driehonderd jaar voor Aristotel voorgestel dat die aarde dalk ‘n sfeer kan wees. Dit was ‘n verdere tweeduisend jaar later, in ‘n tyd wat die wetenskap geglo het dat die aarde plat is, wat die Skrif vir Christopher Columbus geïnspireer het om rondom die wêreld te seil. Hy skryf: ‘Dit was die Here wat dit in my gedagtes geplaas het. Ek kon sy hand op my voel. Daar is geen twyfel dat die inspirasie van die Heilige Gees af gekom het nie, omdat Hy my met wonderlike illustrasie van die Heilige Skrif gerusgestel het’ (vanuit die dagboek van Christopher Columbus, met verwysing na sy ontdekking van die Nuwe Wêreld). Die Bybel leer ons oseanografie. In die negentiende eeu, het Matthew Fontaine Maury, wat die vader van moderne oseanografie en marine meteorologie genoem word, die woorde van Dawid oor ‘…die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see’ (Psalm 8:8 AFR53), gelees. Hy het gesê, ‘As God sê dat daar paaie in die see is, gaan ek dit vind.’ Vandag kan ons die ontdekking van die warm en koue seegetye aan hom toeskryf. Sy boek oor oseanografie word steeds vandag in universiteite regoor die wêreld gebruik. Die volgende keer wat iemand dus die akkuraatheid van die Skrif betwyfel, glimlag en sê vir hulle, ‘Wetenskap bewys dat die Bybel waar is.’
Sielskos: 1 Kron 6:1-7:19; Mark 2:23-28; Ps 119:17-24; Spr 20:22-24
2017-08-06
Genesis 1:1 NLV
Om te sê dat die wetenskap en die Bybel in teenstelling met mekaar is, is eenvoudig nie waar nie. As daar selfs net een kans in ‘n miljoen is dat God, die hemel en die hel waar is, sal jy dit nie wil weet nie? Jy gaan immers eendag sterf. Wat dan? Ons kinders en kleinkinders word boonop al hoe meer aan ongelowige opvoeders blootgestel. Wil jy nie graag in staat wees om hulle vrae te beantwoord as hulle van die skool of universiteit af kom en hulle in die regte rigting stuur nie? Wel, raai wat? Wetenskap bewys dat die Bybel waar is! Kom ons praat vir die volgende paar dae daaroor. 1) Die Bybel sê vir ons dat die aarde in die ruimte dryf. Daar was ‘n tyd dat mense geglo het dat die aarde op ‘n groot dier of reus rus! Vyftien honderd jaar voor Christus, het die patriarg Job egter gesê, ‘God… hang die aarde op aan niks’ (Job 26:7 NLV). Wetenskaplikes het eers teen 1650 nC ontdek dat die aarde aan niks hang nie. 2) Die Bybel sê vir ons dat die aarde uit atome bestaan. ‘Omdat ons glo, verstaan ons dat God, deur net ‘n woord te spreek, die ganse heelal geskep het. Dit wat ons nou kan sien, het dus nie uit sigbare dinge ontstaan nie’ (Hebreërs 11:3 NLV). Eers onlangs het wetenskaplikes bevind dat alles om ons uit dinge wat ons nie kan sien nie, bestaan – naamlik onsigbare atome. Tog het die Bybel, wat meer as tweeduisend jaar terug geskryf is, gesê dat dit so is.
Sielskos: Jos 1; Ps 27:11-14; 2 Tim 2:1-13
2017-08-05
1 Petrus 5:7 NLV
Voel jy gestres? Word jou gedagtes deur bekommernisse oorheers? Indien dit die geval is, wil God jou daarvan genees. Lees die volgende Skrifgedeeltes stadig en met gebed: ‘…Ek soek skuiling by U. In die skaduwee van U vlerke sal ek skuil totdat die onheil verby is’ (Psalm 57:1 NLV). ‘Maar vir die armes is U, Here, ‘n toevlug in die storm. Vir die behoeftiges in nood is U ‘n skuilplek…’ (Jesaja 25:4 NLV). ‘Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan… Ek sal jou nie verlaat nie, maar doen wat Ek beloof het’ (Genesis 28:15 NLV). ‘Die ewige God is jou skuilplek en onder jou is sy ewige arms…’ (Deuteronomium 33:27 NLV). ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (Jesaja 41:10 NLV). ‘…Tot julle stokoud is, sal Ek julle dra… Ek sal julle ondersteun en julle red’ (Jesaja 46:4 NLV). God se raad en voorskrif teen stres is dus: 1) God gee waarlik vir jou om. 2) Maak ‘n bewustelike besluit om al jou laste op Hom te werp. As jy voel dat jy te veel hooi op jou vurk het, vra Hom vir die wysheid om jou skedule te verander. Wanneer die probleem te groot is vir jou om te hanteer, gee dit vir God – en moenie dit terugvat nie. Laat Hom sy denke deur jou dink, en laat sy vrede, krag en geduld toe om beheer oor jou gedagtes te neem. Oefen elke oggend om dit te doen en soveel keer gedurende die dag soos wat jy nodig het. Dis God se voorskrif teen stres!
Sielskos: 1 Kron 4:24-5:26; Mark 2:13-22; Ps 119:9-16; Spr 20:19-21