Wees versigtig wie jy in jou vertroue neem

2017-08-04
Spreuke 11:13 NLV

As jy hulp met ‘n probleem in jou persoonlike lewe, jou loopbaan of jou familie benodig, hou die volgende in gedagte: 1) Slegte nuus word dikwels langer as goeie nuus onthou. Lank nadat jy die kwessie opgelos het en aanbeweeg het, kan die verkeerde mense nog aanhou om daarop te fokus en daaroor te praat. Dit is hoekom God se Woord sê, ‘…betroubare mense bewaar geheime.’ 2) Wees versigtig wie se raad jy volg. ‘Die planne van die regverdiges staan vas. Die raad van goddeloses is vol bedrog’ (Spreuke 12:5 NLV). Maak seker dat jy na die regte persoon uitreik. Daar is baie bronne van wysheid in hierdie wêreld, ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg’ (Jakobus 3:17 NLV). Neem slegs ‘n raadgewer wat volgens die beginsels van God se Woord wandel, in jou vertroue. 3) Maak seker dat die persoon wat jy vertrou, nie onbetroubare mense in sy/haar vertroue neem nie. Daar word gesê dat jy iemand aan die geselskap wat hulle opsoek, kan ken. Dis waar! Die Bybel sê, ‘Gelukkig is die mense wat nie optree volgens die raad van goddeloses [nie]…’ (Psalm 1:1 NLV). 4) As jy aanhoudend oor jou probleme praat, kan jy as ‘n slagoffer, eerders as ‘n oorwinnaar, gesien word. Toe Job alles verloor het, het amper almal hom vermy. Dit is eers nadat God Job se seëning verdubbel het, wat hulle teruggekeer het om deel aan sy lewe te hê en vir hom geskenke te bring. Dit is altyd wys om jou mond, jou gedagtes en jou fokus te beheer. Onthou, stilte kan nooit verkeerd aangehaal word nie.

Sielskos: 1 Kron 3:1-4:23; Mark 2:1-12; Ps 119:1-8; Spr 20:15-18

Denke gebaseer op skaamte (2)

2017-08-03
Jakobus 1:22 NLV

Skaamte groei in die donker, maar wanneer jy dit aan die lig van God se Woord blootstel, verloor dit sy houvas op jou. Gevoelens kan baie wispelturig wees. Hulle word dikwels deur alledaagse dinge soos ‘n bekende liedjie, die naam van iemand wat jou seergemaak het, ‘n herdenking, ‘n verjaarsdag, of ‘n dag soos Valentynsdag of Kersfees, veroorsaak. Dit is hoekom Jakobus sê, ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie…’ ‘n Berader skryf: ‘Skaamte kan ons terughou, ons afbring en ons na ons voete laat staar. Baie sisteme en mense word daardeur beheer en wil hê dat ons hulle speletjie moet speel – kompulsiewe gedrag, seksueel verslawende gedrag, ooreet, dwelmisbruik en verslawende dobbelary is alles gedrag wat op skaamte gebaseer is. Ons ervarings in die verlede en die manier wat ons dalk gebreinspoel is, laat ons skaam voel. ‘Moenie dink nie… moenie voel nie… moenie groei of verander nie… moenie lewendig voel nie… wees skaam!’ Hou op daarmee! Val jou skaamte aan! Maak oorlog daarteen. Leer om dit te herken en vermy dit soos die pes.’ Die Bybel sê, ‘…Daarmee het Hy afgereken met die sonde se mag oor ons’ (Romeine 8:33 NLV). Of jy nou die sonde gepleeg het en of iemand anders teenoor jou gesondig het, ‘…die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van alle sonde’ (1 Johannes 1:7 NLV). Let op: alle sonde! In plaas daarvan om te praat oor hoe jy voel, begin praat oor dit wat jy weet! God se Woord, wat God se opinie van jou is, is die genesendste krag op aarde. Lees dit dus, glo dit, spreek dit uit en staan daarop. As jy dit doen, sal jy bo jou denke van skaamte uitrys.

Sielskos: 1 Kron 1-2; Mark 1:35-45; Ps 78:65-72; Spr 20:11-14

Denke gebaseer op skaamte (1)

2017-08-02
Romeine 12:2 NLV

Wanneer jy fisies, emosioneel of seksueel mishandel is, ondermyn dit jou selfwaarde. Jy dink, ‘As iemand dit aan my kan doen, moet daar iets met my verkeerd wees.’ Jy voel asof jou siel vuil is, asof jy gebreekte goedere is. Jy is nie! Hier is twee Skrifgedeeltes van God se lippe na jou hart toe: ‘…Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe. Ek sal jou weer herbou soos jy vroeër was…’ (Jeremia 31:3-4 NLV). ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het… Ek gaan iets nuuts doen! Dit het alreeds begin gebeur! Sien julle dit nie? Ek gaan ‘n pad maak vir my volk… Ek maak vir hulle riviere in die woestyn!’ (Jesaja 43:18-19 NLV). Dit wat met jou gebeur het, is sleg, maar jy is nie sleg nie. Vandag sê God vir jou: ‘…Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep. Jy is Myne. Wanneer jy deur diep water gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur stap, sal jy nie verbrand nie…Want Ek is die Here jou God…’ (Jesaja 43:1-3 NLV). Skaamte en depressie gaan hand aan hand. Terwyl dokters medikasie vir jou depressie kan voorskryf, is daar nie ‘n kuur vir skaamte nie – behalwe die medisyne van God se Woord. In plaas van om jou gedagtes en emosies te glo, staan op God se Woord, ten spyte van hoe jy voel. Om skaam te wees vir wie jy is, is soos om aanhoudend gestraf te word – behalwe dat jy dit aan jouself doen. Wat is die oplossing? ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’

Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Mark 1:21-34; Ps 78:56-64; Spr 20:7-10

Beskerm jou huis

2017-08-01
Genesis 2:15 NLV

Die Bybel sê dat God vir Adam in die tuin geplaas het om ‘dit te bewerk en te versorg.’ Dus moet jy selfs wanneer dit goed gaan in jou huislike omgewing, daaraan werk en dit versorg. Wanneer jy nie daarna omsien nie, sal selfs die beste tuin in die wêreld uiteindelik deur onkruid oorgroei word. Net so sal jou lewe tuis in die moeilikheid beland as jy al jou tyd en energie aan jou loopbaan bestee en niks vir jou huwelik en familie oorhou nie. Adam se werk was om sy huis te beskerm en te bewaar. ‘Teen wat?’ vra jy. ‘Het hy nie in die perfekte omgewing gewoon nie?’ Ja, maar die Satan was op die punt om op te daag en chaos te veroorsaak! Daar word gesê dat die duiwel in die detail is. As jy oplet, is die kans goed dat jy hom aan die werk in jou familie sal sien in areas waar daar stres en disfunksie is. Ons baklei en stry as paartjies, oortuig daarvan dat die ander persoon die probleem is. Dis wat die Duiwel wil hê ons moet dink! Hy weet dat jy nooit die ware probleem sal oplos as jy dink dat die persoon waarmee jy baklei, die probleem is nie. Jy het ‘n geestelike probleem wat deur jou selfsugtige natuur ontstaan het, wat Satan ‘n opening in jou huis gee. Die huwelik is deur God ingestel. As jy dus dinge uit God se oogpunt begin sien en volgens sy reëls begin optree, sal jy die produktiewe, doelgerigte en vredevolle verhouding hê wat Hy vir jou wil hê.

Sielskos: 1 Joh 1:1-3:10; Mark 1:9-20; Ps 78:40-55; Spr 20:4-6

Nie uit nie, maar deur

2017-07-31
Jesaja 43:2 NLV

Voordat God ons omstandighede verander, gebruik Hy dikwels ons omstandighede om ons te verander. Ja, Hy het belowe om ons probleme op te los, maar nie noodwending op ons skedule of op die manier wat ons verwag nie. God wil ons nie net uit ons omstandighede red nie, Hy wil ons ook ontwikkel om meer soos sy Seun te wees en ons Godgegewe potensiaal ten volle te bereik. Let op hoe baie die woord deur in die Skrif gebruik word. Om by die Beloofde Land uit te kom, moes Israel deur die Rooi See, die woestyn en die Jordaanrivier beweeg. Dink aan hierdie twee Skrifgedeeltes: ‘Gaan hulle deur ‘n droë vallei, word dit omskep in ‘n fonteinedal… Hulle kragte sal vermeerder…’ (Psalm 84:7-8 NLV). ‘Wanneer jy deur diep water gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur stap, sal jy nie verbrand nie…’ (Jesaja 43:2 NLV). God werk nie in minute, ure en dae nie; Hy werk in seisoene. Die suiweraar weet hoe lank die erts in die vuur moet bly om goud te produseer. Die pottebakker weet hoe lank die klei op die wiel moet bly om ‘n item van waarde, skoonheid en bruikbaarheid te word. Vertrou op God; Hy weet wat Hy doen. Wees geduldig; terwyl God vir jou werk, werk Hy ook in jou. Wanneer jy deur hierdie ervaring is, sal jy terugkyk en Hom bedank vir die dinge wat Hy jou geleer het.

Sielskos: Esra 9-10; Mark 1:1-8; Ps 78:32-39; Spr 20:1-3

Om jou lewe met iemand te deel

2017-07-30
1 Korintiërs 7:33 NLV

Toe die vierjarige Sannie haar eerste troue bywoon, het sy baie vrae gehad. By die onthaal het haar ma verduidelik dat daar twee koeke is – een vir die bruidegom en een vir die bruid. ‘Maar Mamma’, het sy verstom gevra, ‘het hulle dan nog nie geleer om te deel nie?’ Die Bybel sê, ‘Maar die getroude man is begaan… oor hoe hy sy vrou kan gelukkig maak… Die getroude vrou is… begaan, oor hoe sy haar man kan gelukkig maak’ (verse 33-34 NLV). As jy meer tyd aan jou loopbaan as aan jou verhouding spandeer, is daar ‘n goeie kans dat dit nie gaan hou nie. Wanneer jy met iemand trou, trou jy met alles wat hulle is en met alles wat hulle al deurgemaak het. As jy vir God vra, sal Hy vir jou die wysheid en genade gee om julle altwee toe te rus om in genade te groei. Dit mag dalk nie dadelik gebeur nie. Soos Shakespeare tereg gesê het, ‘What wound did ever heal but by degrees?’ Dit neem tyd vir selfs ‘n klein snytjie om gesond te word. As jy Hom egter toelaat, sal God vir jou die olie van barmhartigheid en die wyn van liefde gee om oor jou eggenoot se wonde te giet. Moet nooit so beskikbaar by die werk word dat jy onbereikbaar by die huis word nie. Jou eerste roeping is tot jou familie. Jou prioriteite moet daar begin en dan na jou loopbaan en ander belange uitbrei. Paulus sê in effek dat getroude mense van die vlak van toewyding wat van enkellopendes verwag word, vrygestel word, sodat hulle tyd het om aan hulle verhouding te werk (sien verse 32-35). Jy sê, ‘Maar ek moet tyd met God spandeer.’ Jy is geroepe om die Here lief te hê – en jou eggenote!

Sielskos: Gen 14:18-20; Ps 110; Heb 5:5-11