Net Jesus kan jou siel bevredig

2017-07-29
Johannes 4:14 NLV

Daar is ‘n ou liedjie wat lui, ‘Looking for love in all the wrong places.’ Dit was waar van die vrou wat Jesus by die put in Samaria ontmoet het. Hier is haar verhaal: 1) Sy het godsdiens probeer, maar dit het haar nie bevredig nie. Sy het vir Jesus gesê, ‘Ons voorouers het op hierdie berg aanbid, maar julle sê die plek waar ‘n mens moet aanbid, is in Jerusalem’ (vers 20 NLV). Sy het dus kennis van godsdiens gehad, maar dit het nie die begeertes van haar hart gestil nie. Is dit ook jou ervaring? 2) Sy het menslike verhoudings probeer, maar dit het haar gefaal. Jesus het vir haar gesê, ‘Want jy het reeds vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is eintlik nie jou man nie…’ (vers 18 NLV). Het dit met jou ook gebeur? Die verhouding wat jy die meeste nodig het – is met Jesus. 3) Sy het Jesus probeer en Hy het haar siel bevredig. Toe Jesus vir haar sê, ‘Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word…’ het sy geantwoord, ‘…Meneer, gee my van hierdie water sodat ek nie weer dors word [nie]…’ (verse 14-15 NLV). Godsdiens sonder ‘n persoonlike verhouding met God, sal jou onbevredig en onvervuld laat. Dis soos om soutwater te drink – hoe meer jy drink, hoe dorser word jy. Godsdiens sonder ‘n verhouding met God is soos ‘n fopspeen wat troos, maar wat geen voedingswaarde aan die baba verskaf nie. Miskien is jy deur Christene teleurgestel en deur die kerk seergemaak. As dit die geval is, is die woord vir jou vandag: Moenie opgee op godsdiens totdat jy Jesus probeer het nie, want slegs Hy kan jou siel bevredig.

Sielskos: Esra 6-8; Mat 28:11-20; Ps 78:17-31; Spr 19:27-29

Jy is deur God geroep

2017-07-28
Jeremia 1:5 NLV

God het vir Jeremia gesê, ‘Ek ken jou nog voordat jy gevorm is in die skoot van jou moeder. Voor jou geboorte al het Ek jou gekies en aangestel om namens My te praat met die nasies van die wêreld.’ Let op: 1) God ken jou. Hy het intieme kennis van jou. Toe jou delikate vingers nog net enkele selle was, nog voordat jou hartklop op die monitor geregistreer het of die dokter jou geslag kon bepaal, het God reeds alles van jou geken. ‘U het my gesien voor ek gebore is… elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was’ (Psalm 139:16 NLV). God weet wat jy gebore is om te wees en het alles voorsien wat jy nodig het om jou lewensdoel te bereik. 2) God het jou gekies. Hy het jou so ontwerp dat jy op geen plek waar Hy jou nie wil hê, sal rus vind nie. Hy het bepaal dat jy verlore sou ronddwaal totdat jy Hom gevind het. Dit is hoekom jy in sekere situasies en rondom sekere mense ongemaklik voel. Dit maak nie saak hoe hard jy probeer nie, jy sal nie inpas nie, omdat God jou eenkant vir Homself geplaas het. 3) God het jou aangestel. Hou op om jouself te bekommer wie jou gawes erken en wie nie. John Mason sê, ‘Elke persoon is uniek deur God geskape. Elkeen van ons het ‘n persoonlike roeping op ons lewens – om onsself te wees en nie kopieë van ander mense nie.’ God het vir Jeremia gesê, ‘…Gaan na die mense waarheen Ek jou stuur en gee my boodskap vir hulle. Jy moet ook nie bang wees vir hulle nie. Ek sal by jou wees en jou beskerm!’ (Jeremia 1:7-8 NLV). Die woord vir jou vandag is: Jy is deur God geroep.

Sielskos: Esra 3-5; Mat 28:1-10; Ps 78:9-16; Spr 19:24-26

Jy kan verander

2017-07-27
Jesaja 54:2 NLV

Die begeerte om te verander is die sleutel tot groei in enige area van die lewe. Die meeste van ons begeer verbetering, maar staan terselftertyd verandering teë. Jy kan egter nie die een sonder die ander een hê nie! Verandering is net moontlik as jy dit genoeg begeer. Soos Fred Smith, die stigter van Federal Express opmerk: ‘Jy is hoe jy is, omdat dit is hoe jy wil wees. As jy regtig anders wou wees, sou jy op die oomblik besig wees om te verander.’ Verandering is nooit maklik nie. Dit neem baie tyd, baie energie en deursettingsvermoë – en natuurlik, begeerte. Die begeerte om te verander moet egter oorgeskakel word na die besluit om te verander. Jy moet daardie besluit elke dag maak. Daar word vertel dat Earl Waever, die bestuurder van die Baltimore Orioles se bofbalspan, ongelukkig was met die skeidsregter se besluit en vir hom geskree het, ‘Gaan jy begin om beter besluite te maak, of is dit dit?’ As jy wil verander, moet jy jouself ‘n soortgelyke vraag afvra. Gaan jy aanhou werk en probeer verbeter, of is dit so goed soos dit gaan wees? Die Bybel stel dit so: ‘Maak jou woning groter. Span jou tent wyer, en moenie huiwer nie. Maak die tentlyne langer en slaan die penne dieper in.’ Al hierdie aksies het toewyding en deursettingsvermoë nodig. Dit is wat nodig is om jou lewe te verander. Die goeie nuus is dat jy dit met God se hulp kan doen – en jy kan vandag daarmee begin.

Sielskos: Esra 1-2; Mat 27:57-66; Ps 78:1-8; Spr 19:21-23

Wanneer God jou roep

2017-07-26
Jesaja 48:15 NLV

God het vir Jeremia gesê, ‘…Voor jou geboorte al het ek jou gekies en aangestel…’ (Jeremia 1:5 NLV). Wanneer God besluit om jou te gebruik, gebeur vyf dinge: Eerstens is daar ‘n oproep. God roep gewone mense om ongewone dinge te doen, soos Petrus wat uit die boot geklim en op die water geloop het. Tweedens, is daar vrees. Toe God vir Moses geroep het om na Farao te gaan, het Moses geprotesteer deur te sê dat hy nie ‘n goeie spreker is nie. Derdens, is daar gerusstelling. Josua se broek moes omtrent gebewe het toe hy daaraan gedink het dat hy Moses se plek moes inneem, dus het God vir hom gesê. ‘…Soos wat Ek by Moses was, so sal Ek ook saam met jou wees…’ (Josua 1:5 NLV). Vierdens, is daar ‘n besluit. Soms sê ons ja vir God en soms nee. Wanneer ons ja sê lewe ons met vreugde; wanneer ons nee sê verbeur ons daardie vreugde. Daar is egter altyd ‘n keuse. Vyfdens, is daar ‘n veranderde lewe. Diegene wat vir God ja sê, se optrede is nie perfek nie. Omdat hulle egter ja sê, leer hulle en groei selfs uit hulle mislukkings. Diegene wat vir God nee sê verander ook; hulle word ‘n bietjie harder, ‘n bietjie weerstandig teen God se roeping en sê makliker die volgende keer nee. Roep God jou? Miskien het dit te doen met jou werk, jou verhoudings, jou geld of jou grootste vrees. God se roep sal tot die kern van wie jy is en wat jy doen, spreek. Om ja vir Hom te sê, is die beste besluit wat jy ooit sal maak.

Sielskos: Sef 1-3; Mat 27:45-56; Ps 46; Spr 19:18-20

Lesse uit die lewe van Dawid (5)

2017-07-25
2 Samuel 23:1 NLV

Eendag sal ons almal doodgaan en ons laaste woorde word dikwels as die belangrikste beskou. Die vraag is, het jy jou lewe tot jou volle potensiaal geleef en God se doel vir jou lewe vervul? Die Bybel sê, ‘Hier volg die laaste woorde van Dawid…’ Wat sal hy sê? Sy storie is ‘n mengsel van goed en sleg, van oorwinnings en mislukkings. Gedurende Dawid se lewe het sy seun sy dogter verkrag, een seun het ‘n ander een vermoor, sy vrou het haar rug op hom gedraai, sy vriende het hom verraai, sy mentor het hom probeer vermoor, sy familie het hom verwerp en hy het baie tyd in grotte weggekruip. Nou praat Dawid die laaste keer met ons. Sal hy oor Goliat praat? Oor Saul? Oor Batseba? Nee. “…Dawid… die man vir wie God aansien gegee het, die gesalfde van die God van Jakob, die geliefde psalmdigter van Israel… [het gesê]…’ Die Gees van die Here het deur my gepraat; sy woorde was op my lippe. Die God van Israel het gepraat, die Rots van Israel het vir my gesê: ‘Die mens wat regeer met regverdigheid, wat regeer in eerbied teenoor God, hy is soos die môrelig wanneer die son in die oggend verskyn in ‘n wolklose hemel, soos helderheid ná die reën wat jong gras uit die aarde laat groei.’ Is my huis dan nie by God nie? Het Hy dan nie ‘n blywende verbond met my gemaak, een wat in elke opsig bevestig, gewaarborg is nie? Al my redding, al my vreugde – is dit nie Hý wat dit laat groei nie?'” (verse 1-5 NLV). Hoekom is hierdie woorde in die Skrif opgeneem? Tot voordeel van diegene van ons wat, soos Dawid, nie perfek is nie, maar wie se harte nooit ophou om God te volg nie.

Sielskos: 1 Tim 4-6; Mat 27:33-44; Ps 42:6-11; Spr 19:15-17

Lesse uit die lewe van Dawid (4)

2017-07-24
2 Samuel 23:16 NLV

Dawid het geweet hoe om ander leiers te ontwikkel. Hy het nie mense misbruik om te kry wat hy wou hê nie. Hy het hulle talente erken, hulle geleenthede gegee om te dien, en hulle beloon en geëer. Gevolglik was hulle bereid om hulle lewens vir hom neer te lê. In 2 Samuel 23 lees ons: ‘Dawid het toe teenoor sy manskappe opgemerk: ‘Ag, as iemand my net ‘n bietjie water kan bring uit die put in Betlehem se poort!’ Die drie helde het toe deur die Filistynse linie gebreek, die water uit die put opgetrek en dit vir Dawid gebring…’ (verse 15-16 NLV). Dis onmoontlik om leierskap te leer sonder om self te lei. Leierskap is immers ‘n aksie. As leiers is ons natuurlike neiging om aan ander mense take te gee om uit te voer, eerder as om leierskapsfunksies te vervul. As ons egter nie die leierskap delegeer nie – met outoriteit sowel as toerekenbaarheid – sal ons mense nooit die ervaring kry om goeie leiers te wees nie. As jy ‘n leier is, antwoord hierdie vraag eerlik: Voorsien jy jou mense van leierskapservarings? ‘Maar wat as hulle misluk?’ vra jy. Jy kan maar weet – hulle gaan! As jy egter mense met ware leierskapsvaardighede gekies het, sal hulle daaruit leer. Dr John Maxwell skryf: ‘Soos ek ouer word, begin ek myself sien as iemand wat deksels oplig. Dit is my hooffunksie as spanleier. As ek die leierskapdeksels van die lede van my span kan oplig, dan doen ek my werk. Hoe meer struikelblokke ek vir my mense uit die weg ruim, hoe makliker kan hulle tot hulle volle potensiaal uitrys.’ Dawid het leiers ontwikkel wat as magtige mans bekend geword het. Jy moet ook in ander mense belê.

Sielskos: 1 Tim 1-3; Mat 27:27-32; Ps 42:1-5; Spr 19:12-14