Lesse uit die lewe van Dawid (5)
2017-07-252 Samuel 23:1 NLV
Eendag sal ons almal doodgaan en ons laaste woorde word dikwels as die belangrikste beskou. Die vraag is, het jy jou lewe tot jou volle potensiaal geleef en God se doel vir jou lewe vervul? Die Bybel sê, ‘Hier volg die laaste woorde van Dawid…’ Wat sal hy sê? Sy storie is ‘n mengsel van goed en sleg, van oorwinnings en mislukkings. Gedurende Dawid se lewe het sy seun sy dogter verkrag, een seun het ‘n ander een vermoor, sy vrou het haar rug op hom gedraai, sy vriende het hom verraai, sy mentor het hom probeer vermoor, sy familie het hom verwerp en hy het baie tyd in grotte weggekruip. Nou praat Dawid die laaste keer met ons. Sal hy oor Goliat praat? Oor Saul? Oor Batseba? Nee. “…Dawid… die man vir wie God aansien gegee het, die gesalfde van die God van Jakob, die geliefde psalmdigter van Israel… [het gesê]…’ Die Gees van die Here het deur my gepraat; sy woorde was op my lippe. Die God van Israel het gepraat, die Rots van Israel het vir my gesê: ‘Die mens wat regeer met regverdigheid, wat regeer in eerbied teenoor God, hy is soos die môrelig wanneer die son in die oggend verskyn in ‘n wolklose hemel, soos helderheid ná die reën wat jong gras uit die aarde laat groei.’ Is my huis dan nie by God nie? Het Hy dan nie ‘n blywende verbond met my gemaak, een wat in elke opsig bevestig, gewaarborg is nie? Al my redding, al my vreugde – is dit nie Hý wat dit laat groei nie?'” (verse 1-5 NLV). Hoekom is hierdie woorde in die Skrif opgeneem? Tot voordeel van diegene van ons wat, soos Dawid, nie perfek is nie, maar wie se harte nooit ophou om God te volg nie.
Sielskos: 1 Tim 4-6; Mat 27:33-44; Ps 42:6-11; Spr 19:15-17