Jy kan verander
2017-07-27Jesaja 54:2 NLV
Die begeerte om te verander is die sleutel tot groei in enige area van die lewe. Die meeste van ons begeer verbetering, maar staan terselftertyd verandering teë. Jy kan egter nie die een sonder die ander een hê nie! Verandering is net moontlik as jy dit genoeg begeer. Soos Fred Smith, die stigter van Federal Express opmerk: ‘Jy is hoe jy is, omdat dit is hoe jy wil wees. As jy regtig anders wou wees, sou jy op die oomblik besig wees om te verander.’ Verandering is nooit maklik nie. Dit neem baie tyd, baie energie en deursettingsvermoë – en natuurlik, begeerte. Die begeerte om te verander moet egter oorgeskakel word na die besluit om te verander. Jy moet daardie besluit elke dag maak. Daar word vertel dat Earl Waever, die bestuurder van die Baltimore Orioles se bofbalspan, ongelukkig was met die skeidsregter se besluit en vir hom geskree het, ‘Gaan jy begin om beter besluite te maak, of is dit dit?’ As jy wil verander, moet jy jouself ‘n soortgelyke vraag afvra. Gaan jy aanhou werk en probeer verbeter, of is dit so goed soos dit gaan wees? Die Bybel stel dit so: ‘Maak jou woning groter. Span jou tent wyer, en moenie huiwer nie. Maak die tentlyne langer en slaan die penne dieper in.’ Al hierdie aksies het toewyding en deursettingsvermoë nodig. Dit is wat nodig is om jou lewe te verander. Die goeie nuus is dat jy dit met God se hulp kan doen – en jy kan vandag daarmee begin.
Sielskos: Esra 1-2; Mat 27:57-66; Ps 78:1-8; Spr 19:21-23