Jy is deur God geroep

2017-07-28
Jeremia 1:5 NLV

God het vir Jeremia gesê, ‘Ek ken jou nog voordat jy gevorm is in die skoot van jou moeder. Voor jou geboorte al het Ek jou gekies en aangestel om namens My te praat met die nasies van die wêreld.’ Let op: 1) God ken jou. Hy het intieme kennis van jou. Toe jou delikate vingers nog net enkele selle was, nog voordat jou hartklop op die monitor geregistreer het of die dokter jou geslag kon bepaal, het God reeds alles van jou geken. ‘U het my gesien voor ek gebore is… elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was’ (Psalm 139:16 NLV). God weet wat jy gebore is om te wees en het alles voorsien wat jy nodig het om jou lewensdoel te bereik. 2) God het jou gekies. Hy het jou so ontwerp dat jy op geen plek waar Hy jou nie wil hê, sal rus vind nie. Hy het bepaal dat jy verlore sou ronddwaal totdat jy Hom gevind het. Dit is hoekom jy in sekere situasies en rondom sekere mense ongemaklik voel. Dit maak nie saak hoe hard jy probeer nie, jy sal nie inpas nie, omdat God jou eenkant vir Homself geplaas het. 3) God het jou aangestel. Hou op om jouself te bekommer wie jou gawes erken en wie nie. John Mason sê, ‘Elke persoon is uniek deur God geskape. Elkeen van ons het ‘n persoonlike roeping op ons lewens – om onsself te wees en nie kopieë van ander mense nie.’ God het vir Jeremia gesê, ‘…Gaan na die mense waarheen Ek jou stuur en gee my boodskap vir hulle. Jy moet ook nie bang wees vir hulle nie. Ek sal by jou wees en jou beskerm!’ (Jeremia 1:7-8 NLV). Die woord vir jou vandag is: Jy is deur God geroep.

Sielskos: Esra 3-5; Mat 28:1-10; Ps 78:9-16; Spr 19:24-26