Wanneer God jou roep

2017-07-26
Jesaja 48:15 NLV

God het vir Jeremia gesê, ‘…Voor jou geboorte al het ek jou gekies en aangestel…’ (Jeremia 1:5 NLV). Wanneer God besluit om jou te gebruik, gebeur vyf dinge: Eerstens is daar ‘n oproep. God roep gewone mense om ongewone dinge te doen, soos Petrus wat uit die boot geklim en op die water geloop het. Tweedens, is daar vrees. Toe God vir Moses geroep het om na Farao te gaan, het Moses geprotesteer deur te sê dat hy nie ‘n goeie spreker is nie. Derdens, is daar gerusstelling. Josua se broek moes omtrent gebewe het toe hy daaraan gedink het dat hy Moses se plek moes inneem, dus het God vir hom gesê. ‘…Soos wat Ek by Moses was, so sal Ek ook saam met jou wees…’ (Josua 1:5 NLV). Vierdens, is daar ‘n besluit. Soms sê ons ja vir God en soms nee. Wanneer ons ja sê lewe ons met vreugde; wanneer ons nee sê verbeur ons daardie vreugde. Daar is egter altyd ‘n keuse. Vyfdens, is daar ‘n veranderde lewe. Diegene wat vir God ja sê, se optrede is nie perfek nie. Omdat hulle egter ja sê, leer hulle en groei selfs uit hulle mislukkings. Diegene wat vir God nee sê verander ook; hulle word ‘n bietjie harder, ‘n bietjie weerstandig teen God se roeping en sê makliker die volgende keer nee. Roep God jou? Miskien het dit te doen met jou werk, jou verhoudings, jou geld of jou grootste vrees. God se roep sal tot die kern van wie jy is en wat jy doen, spreek. Om ja vir Hom te sê, is die beste besluit wat jy ooit sal maak.

Sielskos: Sef 1-3; Mat 27:45-56; Ps 46; Spr 19:18-20