Net Jesus kan jou siel bevredig

2017-07-29
Johannes 4:14 NLV

Daar is ‘n ou liedjie wat lui, ‘Looking for love in all the wrong places.’ Dit was waar van die vrou wat Jesus by die put in Samaria ontmoet het. Hier is haar verhaal: 1) Sy het godsdiens probeer, maar dit het haar nie bevredig nie. Sy het vir Jesus gesê, ‘Ons voorouers het op hierdie berg aanbid, maar julle sê die plek waar ‘n mens moet aanbid, is in Jerusalem’ (vers 20 NLV). Sy het dus kennis van godsdiens gehad, maar dit het nie die begeertes van haar hart gestil nie. Is dit ook jou ervaring? 2) Sy het menslike verhoudings probeer, maar dit het haar gefaal. Jesus het vir haar gesê, ‘Want jy het reeds vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is eintlik nie jou man nie…’ (vers 18 NLV). Het dit met jou ook gebeur? Die verhouding wat jy die meeste nodig het – is met Jesus. 3) Sy het Jesus probeer en Hy het haar siel bevredig. Toe Jesus vir haar sê, ‘Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word…’ het sy geantwoord, ‘…Meneer, gee my van hierdie water sodat ek nie weer dors word [nie]…’ (verse 14-15 NLV). Godsdiens sonder ‘n persoonlike verhouding met God, sal jou onbevredig en onvervuld laat. Dis soos om soutwater te drink – hoe meer jy drink, hoe dorser word jy. Godsdiens sonder ‘n verhouding met God is soos ‘n fopspeen wat troos, maar wat geen voedingswaarde aan die baba verskaf nie. Miskien is jy deur Christene teleurgestel en deur die kerk seergemaak. As dit die geval is, is die woord vir jou vandag: Moenie opgee op godsdiens totdat jy Jesus probeer het nie, want slegs Hy kan jou siel bevredig.

Sielskos: Esra 6-8; Mat 28:11-20; Ps 78:17-31; Spr 19:27-29