2017-07-23
2 Samuel 5:17 NLV
Paulus skryf, ‘Stry die goeie stryd vir dit waarin ons glo…’ (1 Timoteus 6:12 NLV). Jy moet veg vir sommige van God se beloftes. Die Jebusiete, wat Jerusalem beheer het, het vir Dawid gesê, ‘…Jy sal nooit hier inkom nie…’ (2 Samuel 5:6 NLV). Verwag dus teenstand teen jou visie, veral as jy nog nie bewyse het om dit te bekragtig nie. Om sake te vererger, was Jerusalem honderde meters bo Dawid se weermag en die enigste manier boontoe was deur ‘n waterkanaal, wat beteken dat hulle deur die modder sou moes optrek. ‘Nogtans het Dawid die Sionsvesting verower…’ (vers 7 NLV). Verstaan mooi, as Hy moet, sal God jou deur die modder optrek om jou op die troon te plaas. Let die woord ‘nogtans’ op. Wanneer jy tot by jou nek in probleme toegegooi is en die Vyand vir jou sê dat jy dit nie gaan maak nie, staan op God se beloftes en verklaar, ‘Nogtans.’ Staan in geloof op en eis wat God jou belowe het. ‘…Dié wat in hulle God glo, sal egter sterk staan en doen wat reg is’ (Daniël 11:32 NLV). Moet egter nie verwag dat almal behulpsaam gaan wees nie. ‘Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning gesalf is, het hulle almal opgetrek om hom te vang…’ Jy sal moet baklei om jou doelwit te bereik en jy sal moet veg om dit te behou. Met elke stryd sal jy na God toe moet draai vir nuwe instruksies. “Dawid raadpleeg toe die Here: ‘Moet ek teen die Filistyne optrek? Sal U hulle in my mag oorgee?’ En die Here het geantwoord: ‘Ja, trek op. Ek sal verseker die oorwinning aan jou gee'” (2 Samuel 5:19 NLV). Beweeg vandag vorentoe met die wete dat God by jou is.
Sielskos: Gen 5:22-24; Heb 11:5; 2 Kon 2:1-12; Hand 1:9-11
2017-07-22
Hebreërs 6:12 NLV
Hier is drie lesse uit die lewe van Dawid: 1) God maak die keuse. Toe Samuel, die profeet, na Dawid se huis gekom het om die volgende koning van Israel te kies, is Dawid nie eers oorweeg nie. God het hom egter in elk geval gekies. Hou op om God te probeer verstaan! En hou op om jouself met ander te vergelyk! Ons sou baie van die mense wat God gebruik het, verwerp het – wat net bewys hoe min ons eintlik weet. 2) God ontwerp die plan. ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi…’ (Filippense 1:6 NLV). Wie ontwerp die plan? Wie voer dit uit? Op wie moet jy vertrou? God! Sy plan vir Dawid het jare van wegkruip vir Saul se spies, lewe in grotte as voortvlugtende en ‘n span van seshonderd disfunsksionele uitvaagsels, ingesluit. God lei jou op deur die moeilike tye wat jy ervaar, sodat jy die taak wat Hy in gedagte vir jou het, kan hanteer. 3) God bepaal die skedule. ‘…julle sal die voorbeeld volg van hulle wat deur geloof en uithouvermoë besig is om te verkry wat God beloof het.’ Geduld beteken dat jy stewig onder druk bly staan. Die prys behoort aan die een wat deurentyd getrou bly. Dawid is as tiener reeds as koning gesalf, maar hy het eers die troon toe hy dertig was, bestyg. Wees dus geduldig. God berei jou dwarsdeur jou lewe voor, sodat jy gereed kan wees wanneer die tyd reg is. Ja, dis moeilik om te wag. As jy egter wegspring voor die skoot klap, sal jy uit die resies gediskwalifiseer word. Hou dus jou oë op die prys en moenie tou opgooi nie.
Sielskos: Hab 1-3; Mat 27:11-26; Ps 1; Spr 19:9-11
2017-07-21
Romeine 8:28 NLV
God het gesê, ‘…Ek het Dawid… gekry; hy is ‘n man na my hart…’ (Handelinge 13:22 NLV). Wanneer God dit van iemand sê, sal jy wys wees om na daardie persoon se lewe te kyk. Dawid het sy loopbaan as herder begin en as ‘n koning geëindig. Die kanse dat dit so sou gebeur, is nul. Herders was so laag op die sosiale leer dat hulle nie in die hof kon getuig nie, omdat hulle woord as onbetroubaar beskou is. Tog het Dawid die wydgeleeste psalms van alle tye geskryf. Verstaan mooi: Wanneer jy God in jou lewe in nooi, kanselleer Hy die skuld van jou verlede en herskryf Hy jou toekoms. Jy moet egter kies wat God vir jou gekies het! Daar is ‘n interessante kontras tussen Paulus en Dawid. Paulus het sy hoofstukke van ongehoorsaamheid gelewe voordat hy Christus ontmoet het en daarna het hy ‘n voorbeeldige lewe gelei. Dawid het teen dertig koning geword en gedurende sy veertig jaar as leier, het hy verwoestende mislukking ervaar, insluitende owerspel en moord. Daar is twee belangrike lesse hieruit te leer: 1) Moenie te vinnig oordeel nie. Dis nie verby totdat God sê dis verby nie! Dawid se verhaal is ‘n waarskuwing vir die oortreder, ‘n bewys dat God se wet jou nie sal toelaat om weg te kom van jou nagevolge nie en ‘n testament dat sy liefde jou nooit sal laat gaan nie. 2) God kan die goeie uit ‘n slegte situasie bring. Hy kan elke ervaring waardeur jy al is neem en dit vir die goeie laat saamwerk – vir jouself of ten goede van ander. Hy kan ‘…alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet…’
Sielskos: Nah 1-3; Mat 27:1-10; Ps 65; Spr 19:5-8
2017-07-20
Prediker 9:10 NLV
Salomo skryf: ‘…eet jou brood met blydskap. Drink jou wyn met ‘n hart vol vreugde… Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’ (verse 7-10 NLV). Professor Howard Hendricks skryf: Ek het onlangs een van my beste vriende verloor, ‘n dame van ses-en-tagtig jaar jonk. Sy was die opwindendste leermeester wat ek nog ooit teëgekom het. Die laaste keer wat ek haar gesien het, was by een van daardie ‘Christelike’ partytjies waar ons almal op eierdoppe loop en probeer vroom lyk. Sy het ingestap, na my gekyk en gesê, ‘Hendricks, ek het jou lanklaas gesien. Vertel my, wat is die vyf beste boeke wat jy die afgelope jaar gelees het?’ Haar filosofie was, ‘Kom ons verveel mekaar nie. Kom ons bespreek iets. As ons niks het om te bespreek nie, kom ons begin dan ‘n argument.’ Sy was drie-en-tagtig jaar oud met haar laaste besoek aan die Heilige Land. Sy het saam met ‘n klomp NFL voetbalspelers gegaan. Een van my helderste herinnering is aan haar wat vooruit loop en terug vir hulle skree, ‘Kom aan manne, tel julle voete op!’ Sy is onlangs in haar slaap in haar dogter se huis oorlede. Haar dogter het my vertel dat sy kort voor haar dood haar doelwitte vir die volgende tien jaar neergeskryf het!’ Of jy nou negentien of nege-en-negentig is, die woord vir jou vandag is: ‘Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’ Met ander woorde: Sit jou hart en siel daarin.
Sielskos: 2 Pet 1-3; Mat 26:57-75; Ps 14; Spr 19:1-4
2017-07-19
Psalm 103:2 NLV
Hy het so depressief gelyk waar hy op die park se bankie gesit het, dat ‘n polisieman hom probeer troos het. ‘Is iets verkeerd?’ ‘Ja,’ het die man geantwoord. “‘n Paar maande terug het my oupa vir my R500 000 en ‘n paar olieputte nagelaat.” ‘Dit klink nie na iets om oor ontsteld te wees nie,’ het die polisieman gesê. ‘Ja, maar jy ken nie die hele storie nie. Verlede maand het my oom my R1 000 000 nagelaat.’ Die polisieman het sy kop geskud. ‘Ek verstaan nie. Hoekom is jy so ongelukkig?’ Die man het geantwoord. ‘Sover het niemand nog hierdie maand vir my iets nagelaat nie!’ Daar is sekere mense wat ongelukkig is, maak nie saak wat hulle het nie. Die Psalmdigter wys ons hoe om ‘n ondankbare houding te oorkom deur ‘n gees van dankbaarheid aan te neem. ‘Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie.’ Om te dink en om dankie te sê gaan hand aan hand. Herinneringe is ‘n katalisator vir danksegging. Die Psalmdigter moedig ons aan om drie dinge te doen: Eerstens, dink aan wat God ons gegee het – sy vergifnis, genesing, beskerming, verlossing, liefde en barmhartigheid (sien verse 1-5). Tweedens, dink aan wat God ons nie gegee het nie – die straf wat ons sonde verdien (sien verse 8-12). Derdens, dink aan wat God ons nog gaan gee. ‘Maar die liefde van die Here is altyd daar vir hulle wat Hom dien’ (vers 17 NLV). God aanvaar jou wanneer jy op Christus se optrede vertrou, nie op jou eie nie. Kyk dus elke oggend in die spieël en sê, ‘Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie.’
Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Mat 26:47-56; Ps 146; Spr 18:23-24
2017-07-18
2 Korintiërs 4:7 NLV
Een van die ergste argument in die Skrif het tussen een van die suksesvolste bedieningspanne van alle tye plaasgevind – Paulus en Barnabas. Waaroor? Oor Johannes (met die noemnaam Markus). Barnabas wou Markus op die volgende sendingsreis saamneem, maar Paulus wou nie, omdat hy ontsteld was dat Markus tyd saam met sy familie wou spandeer en hulle sodoende verlaat het. (Soms sien geesdriftige, doelgerigte mense dinge nie duidelik nie!). Nadat hy daaroor gedink het, het Paulus egter van mening verander en geskryf: ‘Demas het my verlaat omdat hy verlief geraak het op die dinge van hierdie lewe… Bring Markus saam met jou wanneer jy kom, want hy kan my behulpsaam wees’ (2 Timoteus 4:10-11 NLV). Daar is drie belangrike lesse hieruit te leer: 1) Almal verdien nog ‘n kans. Dit is immers wat God oor en oor vir jou doen. Ja, om genade aan ander te bewys kan jou seermaak en jou teleurstel, maar as jy soos Christus wil wees, is dit ‘n risiko wat jy moet neem. 2) Nie almal het dieselfde roeping nie. Die persoon wat jou ontstel het mag dalk nie geroepe wees om te doen waarvoor jy geroep is nie, of hulle mag geroep wees om dit op ‘n ander manier te doen. Moet nooit jou persoonlike voorkeure ‘n voorwaarde maak om iemand anders lief te hê, te aanvaar of saam mee te werk nie. 3) Soek die beste in ander mense, nie die slegste nie. Die Bybel sê, ‘Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte…’ Dit beteken dat elkeen met wie jy in aanraking kom ‘n skat het, maar dit word in ‘n breekbare kleipot gevestig. Oor die algemeen sal mense uitstyg om aan jou verwagtinge te voldoen, wanneer hulle gewaardeerd voel.
Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Mat 26:36-46; Ps 140; Spr 18:21-22