2017-07-17
Psalm 39:5 NLV
Nadat hy sy pasiënt ondersoek het, het die dokter vir hom gesê, ‘Ek het slegte nuus vir jou en ek het baie slegte nuus vir jou.’ Geskok het die pasiënt gevra, ‘Wat is die slegte nuus?’ Die dokter het geantwoord, ‘Jy het vier-en-twintig uur oor om te lewe.’ Die pasiënt het gesê, ‘Wel dit kan seker nie erger gaan nie, so wat is die baie slegte nuus?’ Die dokter het geantwoord, ‘Die baie slegte nuus is dat ek jou gister al moes gebel het!’ Op ‘n ernstiger noot, die Bybel sê, ‘Die getal van ons jare kan 70 wees, of as ons sterk is, 80… Die lewe is gou verby, en ons bestaan nie meer nie’ (Psalm 90:10 NLV). Die gemiddelde man lewe tot sy middelsewentigs en die gemiddelde vrou tot haar middeltagtigs. As jy dus ‘n man is, trek jou ouderdom van vyf-en-sewentig af. As jy ‘n vrou is, trek jou ouderdom van vyf-en-tagtig af. Maal dan die getal jare wat jy oorhet met 365, en dis hoeveel dae jy oorhet. Moet egter nie daar ophou nie. Neem papier en sny dit in klein vierkante op. Nommer elkeen van hulle en sit dit in ‘n boks. Dan sal jy besef dat jou dae genommer is. Neem elke oggend ‘n vierkant uit die boks, frommel dit op en gooi dit in die asblik. Hierdie oefening sal jou daaraan herinner dat jou dae korter word en dat die tyd besig is om uit te hardloop. Wat jy ookal beplan om vir jouself, jou familie en vriende en die koninkryk van God te doen, sal ‘n nuwe dringendheid kry. Die digter Charles Thomas Studd het geskryf: ‘Only one life, ’twill soon be past; only what’s done for Christ will last.’
Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Mat 26:26-35; Ps 133; Spr 18:17-20
2017-07-16
Psalm 119:59
Een van die grootste sleutels tot sukses is om die regte benadering te hê. Om jou benadering te verbeter, moet jy jou beginpunt oorweeg. Dit kan tyd neem. Afhangende van hoe selfbewus jy is, kan dit selfs moeilik wees. Die sleutel is om objektief na jouself te kyk en jouself van jou denkwyses te verwyder. Die doel is nie om jouself te veroordeel nie; dis om jouself duidelik te sien sodat jy positiewe veranderinge in die manier wat jy dink, kan maak. Wanneer professionele houtkappers ‘n opeenhoping van stompe in die rivier kry, klim hulle in ‘n boom naby die rivier sodat hulle oor die probleem kan uitkyk en die oorsaak daarvan kan bepaal. Hulle soek die ‘sleutelstomp’ wat die opeenhoping veroorsaak. Sodra hulle daardie stomp verwyder, hanteer die rivier self die res. ‘n Onervare persoon kan ure, dae, selfs weke spandeer om stompe sonder resultate rond te beweeg. Die punt is dat jy nie noodwendig al jou denkwyses hoef te verander nie – net die paar sleutelitems wat jou daarvan weerhou om die regte benadering tot die lewe te hê. Sodra jy dit doen, sal jou lewe in die regte rigting begin vloei. Hier is ‘n paar vrae wat jou sal help om die ‘sleutelstomp’ wat jou terughou, te ontdek: Hoe voel jy oor jouself? Wanneer voel jy die negatiefste oor jouself? Wat veroorsaak die grootste probleme wanneer jy in aanraking met ander mense kom? Onsekerheid? Gegriefdheid? Minderwaardigheid? Watter negatiewe gedagtes beheer jou denke? Dit is belangrike vrae, want soos jy dink, so is jy. As jy jou lewe ten goede wil verander, vra God om jou bewus te maak van dit wat jou terughou.
Sielskos: Num 9:15-23; Eks 24:15; Mat 17:1-8
2017-07-15
Romeine 8:2 DB
Jy sê, ‘Ek skiet so tekort ten opsigte van God se standaarde. Sal daar ooit ‘n tyd kom wat my ou vleeslike natuur my nie meer sal probeer aftrek nie?’ Daar is slegte nuus en daar is goeie nuus. Die slegte nuus is dat, net soos die wet van swaartekrag altyd in werking is, net so wil jou vleeslike natuur altyd op die ‘wet van sonde’ reageer. Die goeie nuus is, jy kan toegang tot ‘n hoër wet kry en daarin lewe. Dit is die wet van die Gees in Christus Jesus en dit skakel die ‘neerdrukkende wet van die sonde en die dood’ uit. Die wet van swaartekrag sê dat dit wat opgaan weer moet afkom. Wanneer jy egter in ‘n vliegtuig is, is ‘n ander wet van toepassing – die wet van aërodinamika. Dit werk as volg: Wanneer ‘n vliegtuig teen ‘n sekere spoed met ‘n sekere dryfkrag beweeg, is dit in staat om bo swaartekrag uit te styg. Dit beteken egter nie dat die wet van swaartekrag nie meer in werking is nie. Kry jy die idee? Jy vra, ‘Wat is die wet van die Gees?’ Die antwoord is: Wanneer jy in die Gees bly en op sy krag eerder as jou eie staatmaak, wat beteken dat jy sensitief is vir sy leiding en aan sy opdragte gehoorsaam is, word jy nie meer deur die ‘neerdrukkende wet van die sonde en die dood’ beheer nie. Dit gaan dan nie meer daaroor om harder te probeer nie, maar om meer te steun op God se Gees wat in jou bly en krag uit Hom te put om ‘n oorwinnende lewe te lei.
Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Mat 26:14-25; Ps 123; Spr 18:13-16
2017-07-14
Maleagi 3:16 NLV
Is dit moontlik dat wanneer ons in die hemel kom, daar ‘n ererol van moeders sal wees, wat die name van al die getroue ma’s wat dag en nag vir hul kinders en kleinkinders gebid het sal bevat? Miskien, maar ons weet wel: God eer moeders wie Hom eer! Hy het op Hanna se gebede gereageeer en haar ‘n seun gegee wat ‘n profeet sou word en die nasie van Israel sou lei. Paulus skryf rakende Timoteus: ‘Ek weet dat jy die Here opreg vertrou, want jy het dieselfde geloof as jou ma, Eunice, en jou ouma Loïs’ (2 Timoteus 1:5 NLV). Die Bybel sê vir ons dat God rekord hou: ‘Die mense wat die Here dien het toe met mekaar gepraat. Die Here het na hulle geluister en gehoor wat hulle sê. Hulle het ‘n gedenkboek in sy teenwoordigheid geskryf. Dit het die name bevat van mense wat die Here met ontsag dien en lewe met agting vir sy Naam.’ Johannes skryf: ‘Ek het ook die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan. Daarna is die boekrolle oopgemaak. Daar is ook ‘n ander boekrol oopgemaak, dit is die Boekrol van die Lewe. Die dooies is geoordeel volgens wat opgeskryf staan oor wat hulle gedoen het’ (Openbaring 20:12 NLV). Susanna Wesley het negentien kinders gehad (nege van hulle is as babas oorlede), en sy het ‘n uur elke dag spandeer om vir elkeen van hulle te bid. Haar gebede het vrugte afgewerp. Een van haar seuns, John, het die geestelike ontwaking na Engeland gebring en die Metodiste kerk gestig. Miskien sal daar ‘n ererol vir moeders in die hemel wees. Een ding is egter seker – wanneer ma’s bid, luister God en word lewens verander. Moet dus nooit ophou om vir jou kinders te bid nie, Ma.
Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Mat 26:1-13; Ps 118:19-29; Spr 18:10-12
2017-07-13
2 Timoteus 1:5 NLV
Daar word gesê dat Timoteus ‘n apostel geword het toe hy sewentien jaar oud was. Hy was Paulus se geestelike seun en sy opvolger. Dit was die gevolg van twee vroue se geloof: sy ouma Loïs en sy ma Eunice s’n. Interessant genoeg word daar nooit na sy pa en oupa verwys nie. Jy kan dus as enkelouer ‘n suksesvolle kind grootmaak. Na aanleiding van ‘n tien jaar lange studie by Harvard se mediese skool, is daar ses faktore wat ‘n invloed op die intellektuele kapasiteit van ‘n kind het: 1) Die mees kritiese periode vir ‘n kind se verstandelike ontwikkeling is tussen agt en agtien maande oud. 2) Die ma is gewoonlik die belangrikste persoon in die kind se omgewing. 3) Die ‘lewendige’ taal wat aan die kind tussen die ouderdom van twaalf en agtien maande oud gerig word, is absoluut krities. 4) Kinders wat vrye toegang tot die leefareas van hul huise het, vorder baie vinniger as diegene wie se bewegings beperk word. 5) Die familie is die belangrikste opvoedingsisteem. 6) Die beste ouers is diegene wat in drie sleutelfunksies uitblink: Hulle is uitstekende ontwerpers en organiseerders van hulle kinders se omgewings; hulle laat hulle kinders toe om hulle vir kort dertig sekonde periodes te onderbreek waartydens persoonlike gerusstelling en informasie uitgeruil word; en hulle is ferm dissiplineerders, terwyl hulle gelyktydig groot toegeneentheid aan hulle kinders bewys. Met ander woorde, hulle is lief vir hulle kinders, gesels met hulle, behandel hulle met respek, stel hulle bloot aan interessante goed, organiseer hulle tyd, dissiplineer hulle regverdig en maak hulle in sterk, standvastige families groot. Dit is ‘n resep om slim (en gelukkige) kinders groot te maak.
Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Mat 25:31-46; Ps 118:10-18; Spr 18:7-9
2017-07-12
Jakobus 3:16 DB
Die apostel Paulus skryf: ‘Maak my dan nou heeltemal bly deur eensgesind te wees – één in liefde, één in hart en één in doel. Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van jou medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (Filippense 2:2-4 NLV). Onenigheid veroorsaak chaos in verhoudings. Jakobus wys uit: ‘…Want waar jaloesie is, of iemand wat net in homself belangstel en ander niks gun nie, kan mense nie in vrede saamleef nie…’ Wees dus op die uitkyk vir onenigheid! Smoor dit in die kiem die oomblik wat dit sigbaar word! ‘Wees baie versigtig dat niemand van julle uitsak en God se onverdiende goedheid verspeel nie. Moenie dat daar onder julle ‘n giftige loot opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie aansteek nie’ (Hebreërs 12:15 NLV). As jy vandag in God se seën wil wandel, probeer om in harmonie met ander saam te lewe. Is dit altyd maklik? Nee, maar hoe gouer jy leer om dit te doen, hoe beter sal dinge vir jou gaan. Wanneer God jou aanmoedig om die ander wang te draai of aan die kortste ent te trek, gebruik sy genade en doen dit. Bid: ‘Here, gee my U wysheid in hierdie situasie.’ Hy sal dit doen. ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg. Die vredemakers saai saad van vrede; hulle oes omdat hulle reg lewe voor God’ (Jakobus 3:17-18 NLV). As jy God se seën in jou lewe wil ervaar, vermy onenigheid.
Sielskos: 2 Sam 3:22-7:17; Mat 25:14-30; Ps 118:1-9; Spr 18:4-6