Jaag verandering na

2017-07-11
Jakobus 1:4 NLV

As jy ernstig daaroor is om jou lewe te verander, bied ‘n bekende leierskapkundige die volgende raad aan: ‘Moenie net genoeg verander om van jou probleme af weg te kom nie – verander genoeg om hulle op te los. Moenie net omstandighede verander om jou lewe te verbeter nie – verander jouself om sodoende jou omstandighede te verbeter. Moenie dieselfde ding oor en oor doen en verskillende resultate verwag nie – kry verskillende resultate deur iets nuuts te doen. Moenie verandering sien as iets moeiliks om te doen nie – sien dit as ‘n hulpmiddel wat gedoen kan word. Moenie die onmiddellike koste van verandering probeer vermy nie – as jy dit doen, sal jy die prys betaal deur nooit te verander nie.’ Die Bybel sê, ‘Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie.’ Dis ‘n stadige proses om jou karakter te bou; moenie verwag dat dit maklik gaan wees nie. Wanneer jy kortpaaie probeer vat wanneer jy die probleme van die lewe probeer ontsnap, sal jy nie groei nie. ‘n Brief is eenmaal aan die poskantoor teruggestuur met die volgende woorde voorop geskryf: ‘Hy is dood.’ As gevolg van ‘n administratiewe fout is die brief per ongeluk weer na dieselfde adres gestuur. Hierdie keer is dit met ‘n nota teruggestuur wat lui – ‘Hy is nog steeds dood!’ Die meeste van ons hou nie van verandering nie; ons doen ons bes om dit te vermy. Ons wil verbetering hê, maar wil nie die prys daarvoor betaal nie. Dit is ‘n probleem, want dan sal jy nooit word wat God jou geskape het om te wees nie. Dis nie genoeg om te wil verander nie, jy moet dit aktief najaag!

Sielskos: 2 Sam 1:1-3:21; Mat 25:1-13; Ps 109:16-31; Spr 18:1-3

Sleutels tot geestelike groei

2017-07-10
Galasiërs 4:19 NLV

Hier is drie Skriftuurlike sleutels om jou te help om geestelik te groei en volwasse te word: 1) Begrip. Dit ontstaan uit intimiteit tussen twee mense wat lief is vir mekaar. God se liefde vir jou is duidelik en gebiedend (sien 1 Johannes 3:1); die vraag is hoeveel het jy Hom lief? (sien Johannes 21:15). 2) Vorming. Paulus skryf, ‘Ag, my kinders, totdat Christus julle hele lewe oorneem, het ek elke keer weer geboortepyne oor julle.’ God ken die toetse en beproewings wat nodig is om jou in die karakter van Christus te vorm en Hy sal doen wat nodig is om dit te laat gebeur. 3) Druk. Wanneer jy ten volle toegewyd is om dit wat God in jou geplaas het, voort te bring, sal jy nodig hê om teen elke negatiewe optrede teen jou en negatiewe uitspraak oor jou, terug te druk. Jy sal teen Satan se aanvalle in al hulle vorms moet terugdruk: pynlike herinneringe, gevoelens van hopeloosheid en lae selfwaarde. Die Vyand kan jare spandeer om jou eenkant toe te druk, jou terug te trek en jou neer te druk, maar God sal jou bemagtig om geboorte te gee aan dit wat Hy in jou geplaas het. Nog iets om oor na te dink: Wanneer ‘n baba gebore word, verander alles in die familie. Dieselfde is waar vir jou. Wanneer jy geboorte gee aan dit wat God in jou geplaas het, word alles in jou lewe geaffekteer. God se seën sal elke area van jou bestaan aanraak. Moet dus nie versuim om geboorte te gee aan dit wat binne jou is nie. Nou is die tyd om dit voort te bring!

Sielskos: Ef 4:17-6:24; Mat 24:36-51; Ps 109:1-15; Spr 17:27-28

Moenie probeer om almal tevrede te stel nie

2017-07-09
Galasiërs 1:10 NLV

Ons neig om in een van twee strikke te trap: 1) Ons dink te veel van onsself. Harry Truman het president geword nadat Franklin Roosevelt oorlede is. Sam Rayburn, die Speaker van die Huis, het hom eenkant toe geneem en gesê: ‘Van hier af gaan jy omring word deur mense wat jou gaan vertel watse wonderlike man jy is. Maar Harry, ek en jy weet altwee jy is nie een nie.’ Truman het hierdie raad ter harte geneem en ‘n wonderlike president geword. Om sukses in die opdrag wat God jou vir jou lewe gegee het te behaal, benodig jy twee dinge – afhanklikheid van God en vertroue in God (sien 1 Johannes 3:21-22). Solank as wat hierdie twee dinge in plek is, sal jy sukses behaal. 2) Ons dink te min van onsself. Baie van ons maak dit ons doel om iemand anders se opinie van ons te verander; om aan hulle te bewys dat ons waardig is. Totdat jy nie ophou om saam te stem met die opinies van diegene wat jou kritiseer nie, sal jy in ‘n tronk van jou eie maaksel opgesluit bly. Die feit is dat sommige van die mense wat jy jou hele lewe lank probeer beïndruk het, dalk nooit beïndruk gaan word nie. Jy moet dit vanuit God se perspektief begin aanvaar – dit maak nie saak nie! Om sukses te behaal, moet jy saam met ander mense kan werk sonder om jouself toe te laat om deur hulle buie en opinies beheer te word. Dit is hoekom Paulus geskryf het, ‘…Wil ek in mense se goeie boekies kom? Of wil ek God tevrede stel? As ek steeds mense gelukkig wil maak, is ek nie ‘n dienskneg van Christus nie.’

Sielskos: Eks 20:1-17; Mat 5:1-12

God wil jou vry maak

2017-07-08
Spreuke 14:12 NLV

Het jy al ooit gesien hoe ‘n veearts ‘n beseerde dier hanteer? Alhoewel die veearts net geïnteresseerd daarin is om te help, verstaan die dier nie omdat hy net op sy pyn gefokus is. As gevolg daarvan, probeer die dier die einste persoon wat hom probeer help, bykom. Is dit wat tans besig is om in jou lewe te gebeur? Miskien het mense wat hulself Christene noem, jou seergemaak. Jy het nie verwag dat hulle diegene sou wees wat jou sou seermaak nie. Jy kon so seergemaak gewees het, dat jy niemand meer vertrou nie – nie eers God nie. Jy het dalk nie gesê, ‘Here, ek vertrou U nie,’ maar jou dade spreek harder as jou woorde. Jy vermy dit om sy Woord te lees om ‘n antwoord te kry. Jy bid nie en laat niemand anders toe om vir jou te bid nie. Jy beweeg van een verhouding na die volgende. Jy probeer alkohol of dwelms wat jou gemoed verander. Jy spandeer ure daaraan om televisie te kyk of op die internet rond te swerf – en party dinge waarna jy kyk skend jou gewete en laat jou slegter voel. Wat is die antwoord? 1) Draai na God toe. Gee vir Hom ‘…al julle bekommernisse… want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). Gee vir Hom jou pyn, jou mislukkings en jou struikelblokke. 2) Vergewe die persoon wat jou seergemaak het. Deur obsessief te wees oor wat hulle jou aangedoen het of deur wraak te probeer neem, hou jy hulle net aan jou vasgeketting. Vergifnis breek egter die ketting en maak jou vry. Deur jou eie krag mag jy dalk iets doen om jou pyn te verminder. Net God kan egter die wortel van die pyn uitroei en jou oorwinnend jou toekoms laat instap.

Sielskos: Ef 1:1-4:16; Mat 24:26-35; Ps 79; Spr 17:24-26

Moenie dat jaloesie jou huwelik vernietig nie

2017-07-07
1 Johannes 4:18 NLV

Salomo skryf, ‘…Liefdesdrif is so magtig soos die doderyk…’ (Hooglied 8:6 NLV). Jaloesie kan die dood van ‘n huwelik beteken. Wanneer jy jaloers op jou eggenoot is, vertrou jy hom/haar nie en probeer jy elke beweging van hom/haar beheer. Dis veral die geval as iemand in jou verlede jou verraai het. Jou vrees dat dit weer kan gebeur, kan maak dat jou eggenoot voel dat hulle heeltyd op hulle hoede moet wees. As jy dit lank genoeg volhou sal die saak wat jy die meeste vrees, egter gebeur; jy sal hom/haar op die ou einde wegdryf. Selfs al bly hy of sy by jou, kan hulle dalk in emosionele isolasie leef sonder om hulself ooit volkome aan jou te gee. Met dit in gedagte, sê die Bybel: ‘Ons lewe uit die wete en is absoluut oortuig daarvan dat God ons liefhet. God is die liefde self en almal wat uit dié liefde leef, leef in ‘n hegte verhouding met God en God met hulle… Ware liefde het nie plek vir vrees nie; volwasse liefde dryf die vrees uit…’ (1 Johannes 4:16-18 NLV). Wanneer jy weet dat God jou ten spyte van jou foute liefhet, begin jou selfwaarde groei en begin jy glo dat jy waardig tot liefde is. Wanneer dit gebeur, is dit makliker om te aanvaar dat jou eggenoot ook lief is vir jou en getrou aan jou sal wees. Dis soos om uit die tronk vrygelaat te word – ‘n tronk genaamd ‘jaloesie’ wat jy self gebou het. Vandag wil God jou vry maak van jaloesie en jou die verhouding gee waarna jy nog altyd gesmag het. Praat met Hom daaroor.

Sielskos: 1 Sam 27-31; Mat 24:15-25; Ps 137; Spr 17:22-23

Herken wanneer Satan aan die werk is

2017-07-06
Handelinge 8:11 NLV

Net soos die apostels asemrowende wonderwerke deur die krag van God gedoen het, was Simon, die towenaar, in staat om wonderbaarlike dinge deur die krag van die duiwel te doen. Hoe het die apostels die situasie hanteer? Het hulle dit vermy? Rustig daarmee saam gelewe? Nee, Petrus het vir Simon gekonfronteer deur te sê, ‘Bekeer jou van hierdie boosheid en bid tot die Here. Miskien sal Hy jou bose planne vergewe’ (vers 22 NLV). Vandag is die bose kragte ‘n werklikheid en jy moet weet hoe om dit te hanteer. Jesus het gesê, ‘En Ek het julle gesag gegee oor alle mag van die vyand…’ (Lukas 10:19 NLV). Die Bybel vertel ons twee belangrike dinge van die man wat van die duiwel besete was en wat Christus gesond gemaak het. 1) Die magte binne hom het hulleself as ‘…Legio… want ons is baie’ (Markus 5:9 NLV), bekendgestel. ‘n Legio was ‘n opgeleide, toegeruste afdeling van die Romeinse leër wat opdragte van Caesar uitgevoer het. 2) Hulle het ‘…Jesus gesmeek om hulle nie heeltemal landuit te stuur nie’ (vers 10 NLV). Dit is omdat hulle ‘n vesting binne die area gehad het. Jy kan nie bo-natuurlike gevegte met natuurlike wapens wen nie. Ja, om Satan vir al jou probleme te blameer is nie goed nie. Om egter nie te herken wanneer Satan aan die werk is nie, gee hom elke keer die voordeel. Jy moet wys wees en weet wanneer jy met natuurlike, menslike probleme te doen het. Jy moet egter ook oordeelkundig wees wanneer jy teen ‘…bose hemelse regeerders en maghebbers, teen die geeste wat mag in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes’ (Efesiërs 6:12 NLV), te staan kom. Hoe kan jy hulle oorwin? Deur ‘…God se gevegstoerusting aan [te] trek. Dan… sal julle weerstand kan bied…’ (Efesiërs 6:13 NLV).

Sielskos: 1 Sam 24-26; Mat 24:1-14; Ps 122; Spr 17:18-21