Herken wanneer Satan aan die werk is
2017-07-06Handelinge 8:11 NLV
Net soos die apostels asemrowende wonderwerke deur die krag van God gedoen het, was Simon, die towenaar, in staat om wonderbaarlike dinge deur die krag van die duiwel te doen. Hoe het die apostels die situasie hanteer? Het hulle dit vermy? Rustig daarmee saam gelewe? Nee, Petrus het vir Simon gekonfronteer deur te sê, ‘Bekeer jou van hierdie boosheid en bid tot die Here. Miskien sal Hy jou bose planne vergewe’ (vers 22 NLV). Vandag is die bose kragte ‘n werklikheid en jy moet weet hoe om dit te hanteer. Jesus het gesê, ‘En Ek het julle gesag gegee oor alle mag van die vyand…’ (Lukas 10:19 NLV). Die Bybel vertel ons twee belangrike dinge van die man wat van die duiwel besete was en wat Christus gesond gemaak het. 1) Die magte binne hom het hulleself as ‘…Legio… want ons is baie’ (Markus 5:9 NLV), bekendgestel. ‘n Legio was ‘n opgeleide, toegeruste afdeling van die Romeinse leër wat opdragte van Caesar uitgevoer het. 2) Hulle het ‘…Jesus gesmeek om hulle nie heeltemal landuit te stuur nie’ (vers 10 NLV). Dit is omdat hulle ‘n vesting binne die area gehad het. Jy kan nie bo-natuurlike gevegte met natuurlike wapens wen nie. Ja, om Satan vir al jou probleme te blameer is nie goed nie. Om egter nie te herken wanneer Satan aan die werk is nie, gee hom elke keer die voordeel. Jy moet wys wees en weet wanneer jy met natuurlike, menslike probleme te doen het. Jy moet egter ook oordeelkundig wees wanneer jy teen ‘…bose hemelse regeerders en maghebbers, teen die geeste wat mag in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes’ (Efesiërs 6:12 NLV), te staan kom. Hoe kan jy hulle oorwin? Deur ‘…God se gevegstoerusting aan [te] trek. Dan… sal julle weerstand kan bied…’ (Efesiërs 6:13 NLV).
Sielskos: 1 Sam 24-26; Mat 24:1-14; Ps 122; Spr 17:18-21