Moenie dat jaloesie jou huwelik vernietig nie

2017-07-07
1 Johannes 4:18 NLV

Salomo skryf, ‘…Liefdesdrif is so magtig soos die doderyk…’ (Hooglied 8:6 NLV). Jaloesie kan die dood van ‘n huwelik beteken. Wanneer jy jaloers op jou eggenoot is, vertrou jy hom/haar nie en probeer jy elke beweging van hom/haar beheer. Dis veral die geval as iemand in jou verlede jou verraai het. Jou vrees dat dit weer kan gebeur, kan maak dat jou eggenoot voel dat hulle heeltyd op hulle hoede moet wees. As jy dit lank genoeg volhou sal die saak wat jy die meeste vrees, egter gebeur; jy sal hom/haar op die ou einde wegdryf. Selfs al bly hy of sy by jou, kan hulle dalk in emosionele isolasie leef sonder om hulself ooit volkome aan jou te gee. Met dit in gedagte, sê die Bybel: ‘Ons lewe uit die wete en is absoluut oortuig daarvan dat God ons liefhet. God is die liefde self en almal wat uit dié liefde leef, leef in ‘n hegte verhouding met God en God met hulle… Ware liefde het nie plek vir vrees nie; volwasse liefde dryf die vrees uit…’ (1 Johannes 4:16-18 NLV). Wanneer jy weet dat God jou ten spyte van jou foute liefhet, begin jou selfwaarde groei en begin jy glo dat jy waardig tot liefde is. Wanneer dit gebeur, is dit makliker om te aanvaar dat jou eggenoot ook lief is vir jou en getrou aan jou sal wees. Dis soos om uit die tronk vrygelaat te word – ‘n tronk genaamd ‘jaloesie’ wat jy self gebou het. Vandag wil God jou vry maak van jaloesie en jou die verhouding gee waarna jy nog altyd gesmag het. Praat met Hom daaroor.

Sielskos: 1 Sam 27-31; Mat 24:15-25; Ps 137; Spr 17:22-23