Leef ‘n gebalanseerde lewe

2017-07-05
Markus 6:31 NLV

Die Bybel sê, ‘Die getal van ons jare kan 70 wees, of as ons sterk is, 80…’ (Psalm 90:10 NLV). As jy geseënd genoeg is om so lank te lewe sal jy gemiddeld vier-en-twintig jaar daarvan slaap, twintig jaar werk, tien jaar in die kerk en op vakansie wees (meesal op vakansie), sewe jaar eet, ses jaar reis, vier jaar siek wees en twee jare klere aantrek. Kierkegaard het gesê: ‘Die druk van besig wees begin van jongs af ‘n faktor te wees, sodat ons skaars tyd vir God laat om in ons ‘n Christelike karakter te ontwikkel.’ Dis ‘n fout om te dink dat jy meer tyd koop deur deur die lewe te jaag. Behalwe dat dit jou adrenalien laat pomp en jou dalk belangrik laat lyk en voel, kan jou besig wees die vyand van jou siel wees. Dit kan geestelike groei van jou steel en jou verhoed om te reflekteer en jou hart te ondersoek. Ons praat nie van die hoeveelheid dinge wat jy elke dag gedoen kry nie, maar die kwaliteit van jou lewe se produk. Jy kan besig wees, maar nie gebalanseerd wees nie. ‘n Bybelse skolier het gesê, ‘Afsondering is die broeiplek van transformasie.’ Daar is drie tipes afsondering: 1) Kort tussenposes wat daagliks ervaar word. 2) Langer periodes wat ‘n paar dae weg van alles behels. Ten spyte van sy hewige skedule, het Jesus ‘n gewoonte daarvan gemaak om Homself van die skare te onttrek en tyd saam met sy Vader te spandeer. “…Jesus [het] toe vir hulle gesê: ‘Kom julle nou self eenkant toe na ‘n stil plek en skep ‘n bietjie asem.'” 3) Geforseerde rus. ‘Hy laat my rus…’ (Psalm 23:2 NLV). Moenie wag tot God jou dwing om te rus nie! Strewe daarna om ‘n gebalanseerde lewe te lei.

Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Mat 23:23-39; Ps 110; Spr 17:15-17

Jy kan weer begin

2017-07-04
Matteus 12:20 NLV

Is jy nie bly dat God herstel en nie weggooi nie? Met Hom hoef gebroke lewens nie die einde van die storie te wees nie. God is egter nie net ‘n God van ‘tweede kanse’ nie. Nee, as ons net twee kanse gekry het sou ons almal hopeloos verlore gewees het. God is eerder die God van ‘sewentig maal sewe!’ (sien Matteus 18:22). In Grieks, verteenwoordig sewe oneindigheid. Hy is dus die God van onbeperkte genade. Solank as wat jy jou mislukkings erken en oor wil begin, sal Hy jou in staat stel om dit te doen. Selfs al is jy ‘beskadigde goedere’ en het ander mense jou verwerp, sal God ‘…dié wat reeds geknak is, nie nog verder verbrysel nie en die vonkie hoop wat nog oorgebly het, sal Hy nie uitblus nie… ‘Jesus is toegewyd daaraan om te herstel en gesond te maak, nie om die wat misluk het te breek of af te kraak nie. Die waarheid is dat ons almal misluk! As Adam se nageslag, is ons geneig om dinge natuurlik en moeiteloos op te mors. Abraham het gejok en Sara in gevaar gestel. Jakob het mense verkul. Moses wou dinge op sy eie manier doen en was ‘n voortvlugtige. Dawid het owerspel gepleeg en ‘n getroue vriend verraai. Petrus het sy rug op Christus gedraai. Tog het God elkeen van hulle gebruik om Sy wil uit te voer. Hy sal jou ook gebruik, want, ‘…hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het God se genade geword’ (Romeine 5:20 NLV). Jy kan dus weer begin.

Sielskos: 1 Sam 18:1-20:29; Mat 23:13-22; Ps 102:18-28; Spr 17:11-14

Raak ontslae van geestelike gemors!

2017-07-03
Kolossense 3:14 NLV

As jy die tipe persoon is wat wrokke koester en aan foute van die verlede vashou – selfs jou eie – weet jy hoe dit voel om deur geestelike gemors afgerem te word. Dit is moeilik vir verhoudings om te oorleef wanneer die partye dit wat in die verlede gebeur het, nie verwerk het nie. Soos blaam, bind geestelike gemors jou vas. As ‘n ou geliefde jou byvoorbeeld seergemaak het en jy dit nooit laat gaan het nie, sal jy elke keer wanneer jou huidige maat soortgelyk optree, verwoed reageer, asof hy of sy die oorspronklike persoon is wat jou seergemaak het. Wanneer dit gebeur, kan jou buitensporige reaksie op ‘n oënskynlike klein foutjie jou maat ontstel en verwar. Net soos jy jou huis van ongewensde gemors skoonmaak, moet jy jou geestelike en emosionele huis skoon en in orde hou. Gebed, leesstof, berading, meditasie en oefening is goeie maniere om te help dat kwessies van die verlede nie na jou huidige verhouding oorloop nie. Wanneer hierdie kwessies egter van tyd tot tyd opduik, is dit die beste dat jy met jou maat daaroor praat. Maak net seker dat jy dit met deernis, waarheid en eerlikheid doen. Liefde beteken nie dat jy nooit jammer hoef te sê nie! ‘n Skriftuurlike motto om geestelike en emosionele gemors in die asblik, waar dit hoort, te hou, is die volgende: ‘…Moenie tot die aand toe kwaad bly… nie’ (Efesiërs 4:26 NLV). Die Bybel sê, ‘…Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. Verdra mekaar… Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het…Die liefde bind alles volmaak saam’ (Kolossense 3:12-14 NLV).

Sielskos: 1 Sam 16-17; Mat 23:1-12; Ps 102:12-17; Spr 17:7-10

Moenie dat vrees jou keer nie

2017-07-02
2 Timoteus 1:6 NLV

Moenie dat vrees jou jou talente en vaardighede laat wegsteek nie. ‘n Christelike skrywer het gesê: ‘God verwag van ons om die meeste te maak van dit wat Hy ons gee… om ons harte aan die brand te hou, ons karakter en persoonlikheid te laat groei en ons ervaringe te verbreed sodat ons meer effektief sal wees. Paulus het aan die mense in Filippi gesê, ‘Ek bid dat julle liefde vir mekaar meer en meer sal word deurdat julle ‘n al beter begrip en ‘n fyn aanvoeling ontwikkel’ (Filippense 1:9 NLV). Hy het ook vir Timoteus gesê, ‘Moenie die geestelike gawe verwaarloos wat jy ontvang het [nie]… Werp jouself in jou werksaamhede…’ (1 Timoteus 4:14-15 NLV). Blaas jou geestelike gawe soos ‘n vuur aan. Wanneer jy nie jou spiere oefen nie, verswak en kwyn hulle weg. Wanneer jy nie die vaardighede wat God jou gegee het gebruik nie, gebeur dieselfde. Met verwysing na die slaaf wat as gevolg van sy vrees sy muntstuk begrawe het, het Jesus gesê, ‘…Vat die muntstuk by hom en gee dit vir die een wat tien muntstukke het’ (Matteus 25:28 NLV). Moenie bang wees nie. Wanneer jy jou gawes en vaardighede aan die werk sit, word hulle deur oefening ontwikkel. Deur studie, terugvoer en oefening, kan ‘n goeie onderwyser ‘n beter onderwyser, en met tyd selfs ‘n puik onderwyser word. Daag jouself uit. Leer soveel as wat jy kan. ‘Werk hard sodat God jou kan goedkeur…’ (2 Timoteus 2:15 NLV). Gryp elke geleentheid aan om jou vaardighede te ontwikkel en op te skerp. Onthou, in die hemel gaan ons God vir ewig dien en ons berei onsself daarvoor voor deur hier op aarde te oefen. Soos atlete wat vir die Olimpiese Spele voorberei, oefen ons vir die groot dag.’

Sielskos: Eks 34:29-35; Mark 9:2-27; 2 Kor 3:7-18

Jy is vir ‘n spesiale werk geroep

2017-07-01
Efesiërs 4:16 NLV

Paulus skryf: ‘…Al die ondersteunende ligamente hou die liggaam bymekaar. Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op.’ Daar is twee tipes groei – simbiotiese groei en parasitiese groei. Simbiotiese groei is ‘n gee-en-neem verhouding wat beide kante bevoordeel. Parasitiese groei gebeur wanneer een kant op die ander een teer, sonder om iets terug te gee. Wanneer jy dus uit die kerk stap en sê, ‘Ek het niks uit hierdie diens gekry nie,’ mag jy besig wees om parasitiese groei te beoefen. Parasitiese groei word deur woorde soos ‘bid vir my, preek vir my, gee my raad, help my, maar moet niks van my verwag nie,’ gekenmerk. Simbiotiese groei word deur woorde soos ‘ja, ek het behoeftes, maar ek is ook gewillig om te gee omdat almal bevoordeel moet word,’ gekarakteriseer. Jou liggaam bestaan uit stelsels. Daar is die senuweestelsel, die asemhalingstelsel, die spierstelsel, die limfstelsel, die immuunstelsel, ens. Hierdie stelsels maak op mekaar staat. Hulle is interafhanklik. Wanneer een van hulle nie optimaal werk nie, word die res van die liggaam daardeur beïnvloed. In plaas van om te sê, ‘Ek gaan kerk toe,’ herinner jouself, ‘Ek is die kerk.’ Paulus skryf: ‘Die menslike liggaam het baie ledemate, maar hierdie baie ledemate vorm almal saam net een liggaam. So is dit ook met Christus se liggaam… Maar nou het God dit so beskik… dat elkeen van hulle sy eie plek in die liggaam sal hê, soos Hy dit goedvind’ (1 Korintiërs 12:12, 18 NLV). God wil hê dat jy ‘n funksionerende deel van sy kerk moet wees. As jy nie seker is watter ‘deel’ jy is nie, vra Hom en Hy sal jou wys.

Sielskos: 1 Sam 14-15; Mat 22:34-46; Ps 102:1-11; Spr 17:4-6

Wanneer Jesus gebid het (5)

2017-06-30
Lukas 22:41-42 NLV

Jesus het gebid voor Hy voor die grootste krisis in sy lewe te staan gekom het. Die Bybel sê: ‘Jesus het uit die stad gegaan na die Olyfberg, soos Hy gewoond was om te doen. En die dissipels het Hom gevolg… Jesus het Hom toe van hulle afgesonder… Daar het Hy gekniel en gebid: ‘Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geld!’ Daar het ‘n engel uit die hemel aan Jesus verskyn en Hom versterk’ (verse 39-43 NLV). Jesus het nie gewag tot die uur van sy grootste krisis aanbreek, voor Hy gebid het nie. Vir drie-en-‘n-half jaar gedurende sy aardse bediening, het Hy ‘n lewe van gebed gebou. Voor Hy Lasarus uit die dood opgewek het, lees ons, ‘…Jesus het sy oë hemelwaarts gerig en gesê: ‘Vader, Ek is dankbaar teenoor U dat U na My geluister het. Ek weet dat U altyd na My luister…’ (Johannes 11:41-42 NLV). Jesus het so ‘n intieme verhouding met sy Vader gehad dat Hy in tye van druk en pyn na God toe kon gaan, met die vertroue dat Hy sy ondersteunende genade sou ontvang. Totdat jy dieselfde kan doen, sal jy weerloos teenoor ander mense en situasies buite jou beheer wees. Dink jy Jesus het so baie gebid omdat Hy wou, of omdat Hy gedink het dat Hy veronderstel is om dit te doen? Hy wou! Mense wat baie bid weet: Hoe minder jy bid, hoe minder wil jy bid en hoe meer jy bid, hoe meer wil jy bid. Die krag agter Christus se wonderbaarlike sukses was die krag van gebed. Begin vandag en wy jouself daaraan toe om elke dag te bid.

Sielskos: 1 Sam 11-13; Mat 22:23-33; Ps 98; Spr 17:1-3