Raak ontslae van geestelike gemors!

2017-07-03
Kolossense 3:14 NLV

As jy die tipe persoon is wat wrokke koester en aan foute van die verlede vashou – selfs jou eie – weet jy hoe dit voel om deur geestelike gemors afgerem te word. Dit is moeilik vir verhoudings om te oorleef wanneer die partye dit wat in die verlede gebeur het, nie verwerk het nie. Soos blaam, bind geestelike gemors jou vas. As ‘n ou geliefde jou byvoorbeeld seergemaak het en jy dit nooit laat gaan het nie, sal jy elke keer wanneer jou huidige maat soortgelyk optree, verwoed reageer, asof hy of sy die oorspronklike persoon is wat jou seergemaak het. Wanneer dit gebeur, kan jou buitensporige reaksie op ‘n oënskynlike klein foutjie jou maat ontstel en verwar. Net soos jy jou huis van ongewensde gemors skoonmaak, moet jy jou geestelike en emosionele huis skoon en in orde hou. Gebed, leesstof, berading, meditasie en oefening is goeie maniere om te help dat kwessies van die verlede nie na jou huidige verhouding oorloop nie. Wanneer hierdie kwessies egter van tyd tot tyd opduik, is dit die beste dat jy met jou maat daaroor praat. Maak net seker dat jy dit met deernis, waarheid en eerlikheid doen. Liefde beteken nie dat jy nooit jammer hoef te sê nie! ‘n Skriftuurlike motto om geestelike en emosionele gemors in die asblik, waar dit hoort, te hou, is die volgende: ‘…Moenie tot die aand toe kwaad bly… nie’ (Efesiërs 4:26 NLV). Die Bybel sê, ‘…Daarom moet julle die volgende soos klere aantrek: deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld. Verdra mekaar… Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het…Die liefde bind alles volmaak saam’ (Kolossense 3:12-14 NLV).

Sielskos: 1 Sam 16-17; Mat 23:1-12; Ps 102:12-17; Spr 17:7-10