Vermy onenigheid

2017-07-12
Jakobus 3:16 DB

Die apostel Paulus skryf: ‘Maak my dan nou heeltemal bly deur eensgesind te wees – één in liefde, één in hart en één in doel. Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van jou medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (Filippense 2:2-4 NLV). Onenigheid veroorsaak chaos in verhoudings. Jakobus wys uit: ‘…Want waar jaloesie is, of iemand wat net in homself belangstel en ander niks gun nie, kan mense nie in vrede saamleef nie…’ Wees dus op die uitkyk vir onenigheid! Smoor dit in die kiem die oomblik wat dit sigbaar word! ‘Wees baie versigtig dat niemand van julle uitsak en God se onverdiende goedheid verspeel nie. Moenie dat daar onder julle ‘n giftige loot opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie aansteek nie’ (Hebreërs 12:15 NLV). As jy vandag in God se seën wil wandel, probeer om in harmonie met ander saam te lewe. Is dit altyd maklik? Nee, maar hoe gouer jy leer om dit te doen, hoe beter sal dinge vir jou gaan. Wanneer God jou aanmoedig om die ander wang te draai of aan die kortste ent te trek, gebruik sy genade en doen dit. Bid: ‘Here, gee my U wysheid in hierdie situasie.’ Hy sal dit doen. ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg. Die vredemakers saai saad van vrede; hulle oes omdat hulle reg lewe voor God’ (Jakobus 3:17-18 NLV). As jy God se seën in jou lewe wil ervaar, vermy onenigheid.

Sielskos: 2 Sam 3:22-7:17; Mat 25:14-30; Ps 118:1-9; Spr 18:4-6