Vind die ‘sleutelstomp’
2017-07-16Psalm 119:59
Een van die grootste sleutels tot sukses is om die regte benadering te hê. Om jou benadering te verbeter, moet jy jou beginpunt oorweeg. Dit kan tyd neem. Afhangende van hoe selfbewus jy is, kan dit selfs moeilik wees. Die sleutel is om objektief na jouself te kyk en jouself van jou denkwyses te verwyder. Die doel is nie om jouself te veroordeel nie; dis om jouself duidelik te sien sodat jy positiewe veranderinge in die manier wat jy dink, kan maak. Wanneer professionele houtkappers ‘n opeenhoping van stompe in die rivier kry, klim hulle in ‘n boom naby die rivier sodat hulle oor die probleem kan uitkyk en die oorsaak daarvan kan bepaal. Hulle soek die ‘sleutelstomp’ wat die opeenhoping veroorsaak. Sodra hulle daardie stomp verwyder, hanteer die rivier self die res. ‘n Onervare persoon kan ure, dae, selfs weke spandeer om stompe sonder resultate rond te beweeg. Die punt is dat jy nie noodwendig al jou denkwyses hoef te verander nie – net die paar sleutelitems wat jou daarvan weerhou om die regte benadering tot die lewe te hê. Sodra jy dit doen, sal jou lewe in die regte rigting begin vloei. Hier is ‘n paar vrae wat jou sal help om die ‘sleutelstomp’ wat jou terughou, te ontdek: Hoe voel jy oor jouself? Wanneer voel jy die negatiefste oor jouself? Wat veroorsaak die grootste probleme wanneer jy in aanraking met ander mense kom? Onsekerheid? Gegriefdheid? Minderwaardigheid? Watter negatiewe gedagtes beheer jou denke? Dit is belangrike vrae, want soos jy dink, so is jy. As jy jou lewe ten goede wil verander, vra God om jou bewus te maak van dit wat jou terughou.
Sielskos: Num 9:15-23; Eks 24:15; Mat 17:1-8