Ontwikkel jou kind se potensiaal

2017-07-13
2 Timoteus 1:5 NLV

Daar word gesê dat Timoteus ‘n apostel geword het toe hy sewentien jaar oud was. Hy was Paulus se geestelike seun en sy opvolger. Dit was die gevolg van twee vroue se geloof: sy ouma Loïs en sy ma Eunice s’n. Interessant genoeg word daar nooit na sy pa en oupa verwys nie. Jy kan dus as enkelouer ‘n suksesvolle kind grootmaak. Na aanleiding van ‘n tien jaar lange studie by Harvard se mediese skool, is daar ses faktore wat ‘n invloed op die intellektuele kapasiteit van ‘n kind het: 1) Die mees kritiese periode vir ‘n kind se verstandelike ontwikkeling is tussen agt en agtien maande oud. 2) Die ma is gewoonlik die belangrikste persoon in die kind se omgewing. 3) Die ‘lewendige’ taal wat aan die kind tussen die ouderdom van twaalf en agtien maande oud gerig word, is absoluut krities. 4) Kinders wat vrye toegang tot die leefareas van hul huise het, vorder baie vinniger as diegene wie se bewegings beperk word. 5) Die familie is die belangrikste opvoedingsisteem. 6) Die beste ouers is diegene wat in drie sleutelfunksies uitblink: Hulle is uitstekende ontwerpers en organiseerders van hulle kinders se omgewings; hulle laat hulle kinders toe om hulle vir kort dertig sekonde periodes te onderbreek waartydens persoonlike gerusstelling en informasie uitgeruil word; en hulle is ferm dissiplineerders, terwyl hulle gelyktydig groot toegeneentheid aan hulle kinders bewys. Met ander woorde, hulle is lief vir hulle kinders, gesels met hulle, behandel hulle met respek, stel hulle bloot aan interessante goed, organiseer hulle tyd, dissiplineer hulle regverdig en maak hulle in sterk, standvastige families groot. Dit is ‘n resep om slim (en gelukkige) kinders groot te maak.

Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Mat 25:31-46; Ps 118:10-18; Spr 18:7-9